Al meer bedrog met aanlyn inkopies

Foto ter illustrasie. (Foto: Rupixen.com/Unsplash.)

Eerste Nasionale Bank (FNB) het gewaarsku dat bedrieërs toenemend kliënte teiken wat aanlyn inkopies doen.

“Weens die beperkings wat deur die Covid-19-pandemie op fisieke inkopies geplaas is, doen al meer mense aanlyn inkopies. Dit het daartoe gelei dat pogings deur bedrieërs om geld te steel by kliënte wat aanlyn inkopies doen, ook toegeneem het,” sê die bank.

Die jongste skelmstreek behels dat kriminele kliënte kontak onder die voorwendsel dat hulle bankamptenare is.  “Bedrieërs kul kliënte dan om besonderhede oor hul bankkaarte en ook die eenmalige PIN-kode wat gegenereer word wanneer kliënte aanlyn inkopies doen, aan hulle bekend te maak,” sê Senzo Nsibande, hoof van FNB se departement vir kaartbedrog. “Dit stel bedrieërs in staat om items aanlyn te koop deur van slagoffers se geld gebruik te maak.”

Hy sê bedrieërs bel gewoonlik en sê hulle is ʼn amptenaar van die bepaalde slagoffer se bank en dat ʼn bedrieglike transaksie op die kliënt se bankrekening bespeur is. “Die bedrieër bied aan om die transaksie om te keer. Die meeste mense lees dan hul eenmalige PIN-kode uit en word onwetend ʼn slagoffer van bedrog,” verduidelik Nsibande.

Hy sê al meer mense sal waarskynlik steeds van aanlyn inkopies gebruik maak, al laat die regulasies toe dat mense fisiek inkopies kan gaan doen omdat baie mense steeds versigtig is om hulself aan die virus bloot te stel. “Hoewel ons die gebruik van aanlyn stelsels om inkopies te doen aanmoedig, vra ons dat verbruikers hulself eers behoorlik vergewis van nuwe maniere wat kriminele gebruik om niksvermoedende kliënte te bedrieg.”  Hy het kliënte ook aangeraai om altyd hul persoonlike inligting te beskerm en FNB-kliënte daarop gewys dat dié bank nooit kliënte se persoonlike inligting soos die PIN-nommer van hul bankkaart sal vra nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Indien iemand iets aanlyn koop, moet dit mos erens afgelewer word by ‘n adres. So waarom kan die skelms nie gevang word nie???

Die Wolf ·

Wanneer gaan ons leer. Jy gee geen besonderhede oor n telefoon nie. Skakel jou bank en verwys dit na die bedrog eenheid. Eerlikwaar?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.