Al meer sosiale (media) vlinders wêreldwyd

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die getal sosialemediagebruikers het die afgelope ses jaar byna verdubbel en kenners voorspel die aantal gebruikers sal binne die volgende paar jaar tot sowat driekwart van die wêreld se bevolking groei.

Die sportweddenskappemaatskappy Best Sports Betting Canada het in ʼn verslag bepaal hoe ver sosiale media se invloed in die komende paar jaar sal strek. Die verslag is gegrond op data wat van Statista ingewin is.

Luidens die bevindinge het die getal mense wat sedert 2017 van sosialemediaplatforms gebruik maak, jaarliks met miljoene gestyg.

In 2017 het sowat 2,73 miljard mense wêreldwyd van sosiale media gebruik gemaak. ʼn Jaar later het dié getal na 3,10 miljard gestyg.

In 2022 was daar altesame 4,59 miljard mense op sosiale media en teen die einde van vanjaar sal dit na verwagting met 300 miljoen vermeerder het.

“Die koers waarteen nuwe gebruikers van sosiale media gebruik maak, sal na verwagting teen 2027 met ʼn verdere 28% styg,” lui die bevindinge.

“Dit beteken dat 5,85 miljard mense, oftewel 70% van die wêreld se bevolking oor vier jaar sosiale media sal gebruik.”

Die markleier in hierdie verband is tans Facebook, wat die eerste sosiale netwerk was wat die een miljard kerf vir geregistreerde gebruikers gehaal het. Tans word dié platform maandeliks deur sowat 2,7 miljard mense gebruik. Dit is boonop ook die gewildste sosialemediaplatform ter wêreld.

Ander gewilde sosialemediaplatforms sluit in Instagram, TikTok en Snapchat. In 2022 was die platform wat die meeste afgelaai is BeReal, ʼn nuwe sosialemediaplatform wat gebruikers in staat stel om foto’s op enige gegewe oomblik te neem en met volgelinge regoor die wêreld te deel. Dié foto’s word sonder enige redigering of mooimakery gedeel.

Die getal sosialemediagebruikers wêreldwyd.

Meer fone, meer sosiale media

Die geleidelike toename in sosialemediagebruikers word gedryf deur die toenemende gebruik van slimfone. Soos wat infrastruktuur vir hierdie selfone verbeter en versprei, sal slimfone waarskynlik nog makliker en goedkoper bekombaar wees, voorspel die verslag.

Oos-Asië gee reeds die toon aan in hierdie mark en is boonop een van die streke waar die meeste mense sosiale media begin gebruik.

Die tyd wat gebruikers op sosiale media bestee het ook toegeneem.

Luidens die statistieke het mense in 2015 gemiddeld sowat 111 minute per dag aan sosiale media bestee. ʼn Skrale agt jaar later het hierdie gemiddelde tyd met meer as ʼn halfuur toegeneem, wat beteken dat mense nou al 147 minute per dag op sosiale media deurbring.

Navorsing het in 2019 bevind dat internetgebruikers van Latyns-Amerika die meeste gemiddelde tyd op sosiale media deurbring, met ʼn gemiddeld van 3 uur en 20 minute per dag.

“Dit kom as geen verrassing dat die gebruiktyd toegeneem het nie, aangesien die lys van noodsaaklike sosialemedia-apps, soos dié wat gebruik word om boodskappe mee te stuur, in die afgelope paar jaar aansienlik gegroei het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.