Al meer verbruikers pak skuldlas

Die hoër inflasiesyfer en die volle uitwerking van agtereenvolgende rentekoersverhogings word nou ook veral duidelik. (Argieffoto: Unsplash)

Al hoe meer Suid-Afrikaners kyk hul skuld vierkant in die oë en maak ʼn plan om dit te pak.

Die skuldberadingsmaatskappy DebtBusters se skuldindeks vir die vierde kwartaal van verlede jaar sê die aansienlike groei in die vraag na skuldbestuursdienste dui daarop dat verbruikers stappe doen om te midde van stygende inflasie en rentekoerse hul skuld te betaal.

Die kwartaallikse hersiening wys op ʼn styging van 53% in navrae tussen Oktober en Desember verlede jaar, wanneer dit met dieselfde tydperk in 2021 vergelyk word. Diegene wat ingeteken het op die maatskappy se aanlyn skuldbestuursmeganismes het ook met ʼn enorme 130% toegeneem.

“Dit is na ons mening die duidelikste bewys nóg dat verbruikers na hul skuld kyk en die nodig stappe doen om verantwoordelik op te tree en dit terug te betaal,” sê Benay Sager, hoof van DebtBusters.

Die hoër inflasiesyfer en die volle uitwerking van agtereenvolgende rentekoersverhogings word nou ook veral duidelik.

Sager sê daar is meer lenings – weens die hoër rentekoers – omdat mense hul inkomste met krediet aanvul en ongesekureerde lenings as ʼn reddingsboei gebruik. “Die data wys dit: Die gemiddelde leningsgrootte het met 31% toegeneem en 96% van verbruikers wat in die laaste kwartaal van 2022 vir skuldberading aansoek gedoen het, het ʼn persoonlike lening gehad.”

Dit was egter die reeks verlagings in die rentekoers, wat in die tweede kwartaal van 2020 begin het, wat bygedra het tot die druk waaronder talle verbruikers hulle tans bevind.

Die repokoersverlagings het gelei tot verwante verlagings in die gemiddelde rentekoers op lenings en voertuigfinansiering en hierdie aanloklike koerse het mense, veral jonger verbruikers, aangespoor om voertuie en huise te koop.

Toe die rentekoerse egter weer laat in 2021 begin styg het, het al hoe meer verbruikers die verhoogde skuldlas begin voel. Die gemiddelde rentekoers vir ʼn verband het byvoorbeeld van 8,3% in die vierde kwartaal van 2020 tot 10,8% in dieselfde tyd verlede jaar toegeneem.

DebtBusters het in 2016 data hieroor begin ontleed en kon sedertdien verskeie gevolgtrekkings maak. Dit sluit in dat –

  • Suid-Afrikaners nou 33% minder met die geld in hul beursies kan koop as ses jaar gelede;
  • mense gemiddeld 63% van hul netto salarisse gebruik om skuld te betaal; en
  • ongesekureerde skuldvlakke onvolhoubaar hoog is omdat mense dié soort krediet gebruik om hul inkomste, wat deur inflasie weggekalwe word, aan te vul.

Vir verbruikers wat steier onder hoë skuldvlakke, kan skuldberading die antwoord wees. Sager sê diegene wat skuldberading suksesvol voltooi het, het oor die afgelope ses jaar boonop met vyf keer toegeneem.

“Onder skuldberading kan rentekoerse vir ongesekureerde skuld met meer as 90% verminder word; van ʼn gemiddeld van 23,6% tot 1,9%. Dit laat verbruikers toe om hul duur skuld vinniger terug te betaal. Die heronderhandeling van rentekoerse in samewerking met krediteure het ons kliënte in staat gestel om verlede jaar R2,5 miljard terug te betaal.”

Diegene wat gebruik maak van DebtBusters se aanlyn skuldbestuursgereedskap is gewoonlik jonger verbruikers wat ʼn kleiner skuldlas het en die meganismes gebruik om hul skuld meer proaktief te bestuur, sê Sager.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.