Albei sy vroue in 6 jaar vermoor: ‘Ek lewe elke dag daarmee’

Jurie Steenberg. Foto: Adéle Changuion

Jurie Steenberg. Foto: Adéle Changuion

Om jou lewensmaat aan die dood af te staan nadat hy of sy tydens ʼn plaasaanval koelbloedig voor jou oë geskiet is, is sekerlik een van die ergste traumas wat enige mens kan deurmaak. So, hoe tel jy die stukke op wanneer dit twee keer met jou gebeur?

Ek ontmoet vir Jurie Steenberg (53) in ʼn koffiewinkel in Pretoria. Die hartseer kyk in sy oë val my dadelik op. Moedelose oë. Oë wat al te veel gesien het. Hy kyk wantrouig na die kamera wat op die tafel lê. “Hoekom wil julle nou foto’s van so lelike ou neem?” vra hy.

Hy bestel ʼn koffie en ons begin gesels. Hy begin sommer reg by die begin, die oggend van 16 April 2010 – die oggend wat sy lewe handomkeer verander het. Jurie en sy vrou, Suna (42), het op ʼn kleinhoewe in Leeuwfontein in Kameeldrift noordoos van Pretoria gewoon van waar Jurie sy pale-en-lapas-onderneming bedryf het. Suna het hom met die besigheid gehelp.

“Omtrent 10:00 die oggend was ek en my werkers besig om voorraad daar op die kleinhoewe af te laai. Suna was daar by ons om die papierwerk te doen en het teruggestap na die huis toe. Toe wag hulle vir haar in die huis. Suna het gegil en toe klap die eerste skote.”

Volgens Jurie was daar ses verdagtes in die huis wat polisie-uniforms en koeëlvaste baadjies aangehad het. Hulle het toe reeds sy bejaarde ma in die huis oorval en haar gedreig om hulle “te wys waar die geld is”. ʼn Struweling het tussen Suna en die verdagtes ontstaan en Jurie het nader gehardloop toe hy haar gille hoor. Die verdagtes het hom sien nader hardloop en op hom losgebrand, maar gemis. Suna is intussen op kort afstand in die huis in haar bolyf en kop geskiet voordat die rowers met leë hande op die vlug geslaan het.

Suna is na ʼn hospitaal gehaas, waar dokters vir Jurie gesê het sy sal nie die nag oorleef nie. “Hulle het gesê ek moet haar organe skenk en huis toe gaan, maar ek wou haar nie los nie. Ek het net daar gesit en gebid en bid en bid. Wat anders kan mens doen? Jy vra die Here om in te tree.”

Suna is nie daardie nag dood nie, maar het ondanks twee groot operasies en omvattende mediese behandeling nooit weer herstel nie. Verpleegsters het haar vir ses maande dag en nag by die egpaar se huis versorg wat Jurie “soos ʼn hospitaal laat inrig” het, voordat sy uiteindelik aan longontsteking gesterf het.

Jurie vertel hy het nie kans gesien om alleen saam met die donker herinneringe in die huis agter te bly nie en het die huis uitverhuur, terwyl die kleinhoewe in die mark was. Weens oneindige probleme met huurders wat nie huur betaal het nie, nie voornemende kopers wou toelaat om na die huis te kom kyk nie en nadat talle goed uit die huis gesteel is, is Jurie uiteindelik gedwing om na die eiendom terug te keer en te red wat te redde was.

“Toe trek ek maar terug, maar ek moes nooit. Ek moes nooit teruggegaan het nie,” sê hy hartseer. Nadat hy teruggetrek het na die kleinhoewe, het hy vir Riekie ontmoet en hulle is in 2014 getroud.

Die nuwe egpaar het opgewonde planne gemaak vir hul nuwe lewe saam en onder meer beplan om ʼn huis in St. Francis in die Oos-Kaap te bou en daarheen te verhuis. Die erf is gekoop, bouplanne is opgetrek en nuwe huurders vir die Leeuwfontein-kleinhoewe is gekry.

Jurie en Riekie Steenberg. Foto: Facebook

Jurie en Riekie Steenberg. Foto: Facebook

Op 28 Junie 2016, ure voordat die nuwe huurders sou intrek, het gewapende rowers wéér op die kleinhoewe toegeslaan en Riekie is vermoor.

“Ek het 04:30 die oggend opgestaan om te gaan koffie maak. Riekie het nog geslaap en ek het haar gelos. Ek het die kamerdeur oopgemaak en die honde het voor my uitgehardloop. Ek het twee treë gegee toe tref die crowbar my teen die kop.” Die drie rowers was klaar in die huis.

“My vuurwapen het op die bedkassie langs my bed gelê. Ek het vir Riekie geskree ‘skiet, skiet!’. Toe ek weer sien, toe is een van hulle by haar. Ek het losgeruk van die ander twee en die derde een van agter gegryp en gewurg. Toe skiet hulle my agter in my rug. En toe skiet hulle haar, langs die bed.”

Die rowers het gedreig om Jurie dood te skiet indien hy nie vir hulle sou sê waar die kluis is nie. Riekie was steeds by haar bewussyn, maar die koeëlwond in haar skouer het erg gebloei. “Ek het vir hulle gesê: ‘Then shoot me. I want to die, shoot me.’ Hulle het mos nou klaar my en my vrou geskiet.” Een van die rowers het uit woede ʼn losstaande lugversorger teen die kamer se glasdeur vasgeskop en die glasstukke het die hele kamer vol gespat.

Daarna het die rowers op die vlug geslaan met talle items wat hulle reeds vroeër in die huis bymekaargemaak het, onder meer die egpaar se selfone.

Jurie vertel dat hy oor die glasstukke nader aan Riekie gekruip het – die brandende, verlammende pyn van die koeëlwond het dit vir hom onmoontlik gemaak om regop te staan. “Ons het nie meer fone gehad nie en ek het besef ek sal moet hulp kry. Ek het op ʼn manier in my bakkie gekom en uitgery by die kleinhoewe. Daar was klaar baie voertuie op die pad en ek het my ligte geflits om te wys ek het hulp nodig. Niemand het gestop nie. Die mense in daardie omgewing ken my bakkie, maar niemand het gestop nie. Kan jy dit glo?” sê hy.

Hy het gejaag na die plek waar hy elke oggend sy werkers opgelaai het en daar van een van hul selfone af hulp ontbied. “Dit het gevoel of ek kort-kort my bewussyn verloor, maar dan kom ek weer by. Ek het net aanhou ry.” Van daar is Jurie na ʼn hospitaal net ʼn paar kilometer verder waar hy hulle gevra het om onmiddellik ʼn ambulans vir Riekie te stuur. Paramedici het dadelik na die kleinhoewe gehaas, maar Riekie is met hul aankoms dood verklaar.

Nog ʼn kleinhoewe-aanval. Nog ʼn geliefde weggeruk. Nog ʼn statistiek.

“Wat met my gebeur het, gebeur elke dag met ander mense ook. Ek weet net nie hoekom dit twee keer met my moes gebeur nie,” sê Jurie. Is hy kwaad vir God? “Nee. Ek wil net weet hoekom. Ons was al die jare net goed vir mense. Ek rook nie, ek drink nie, ek slaap nie rond nie. Ek was al die jare getrou aan my vrou, ek was ʼn diaken, my ma-hulle het selfs Sondagskool gegee. Ons het probeer om goed en reg te leef. Hoekom moes dit gebeur?”

Van die nou gewraakte kleinhoewe is hy nog steeds nie ontslae nie. “Ek het die prys nou al so laag moontlik gemaak en daar is baie belangstelling, maar die banke maak dit te moeilik vir die ouens om te koop.”

In sy huurhuis elders in Pretoria probeer Jurie om sy lewe so normaal moontlik voort te sit. “Hierdie aanvalle het my geruïneer. Ek gee nie om oor die geld nie, ek gaan maar net aan. Maar my menswees … ek het vertroue in mense verloor. En nou is ek alleen.”

Hy frons en kyk af na die koppie koffie wat teen dié tyd al yskoud geword het. “Mense sê ek moet vir berading gaan sodat ek oor dit kan kom. Kom ek sê jou nou, jy kom nooit oor dit nie. As jy die aand in jou bed klim en jy sien weer voor jou geestesoog wat gebeur het, is daar nie ʼn sielkundige om jou te help nie. Ek lewe elke dag saam met hierdie goed. Daardie ou wat voor jou staan, die gun in jou gesig druk en lag as hy sê: “You think you are brave you white c**t. You are going to die tonight.’ Dink jy jy vergeet ooit so iets?”

Jurie Steenberg. Foto: Adéle Changuion

Jurie Steenberg. Foto: Adéle Changuion

Vir emigrasie sien hy ook nie kans nie, sê hy. Nie op sy ouderdom nie en ook nie om sy bejaarde ma alleen agter te laat nie.

“As jy Kersfees alleen by jou huis sit, is jy alléén. En jy wil ook nêrens wees nie, want nooi iemand jou vir ʼn braai, dan mis jy jou vrou wat altyd langs jou was. Of iemand vertel oor ʼn plek waar julle ook saam was, dan slaan dit jou só,” sê hy en beduie met sy vuis teen sy bors.

“Jy probeer maar uit die huis kom en weer aangaan met jou lewe. Ek kan ook nou nie die res van my lewe soos ʼn kluisenaar lewe nie. Maar ek sal nooit weer trou nie. Dis net te seer.

“Plaas het hulle my maar doodgeskiet. So, dis wat ek vir die Here vra: Wil Hy my nie hê nie? Ek is reg om dood te gaan. Ek is enige tyd reg. Mense sê ‘die Here is seker baie lief vir jou dat jy nog hier is’. Ek wil nie meer hier wees nie.”

Daar is nog geen verdagtes in verband met een van die twee aanvalle vasgetrek nie. Volgens Jurie het die polisieondersoeke na die saak nog niks opgelewer nie en lyk dit nie asof een van die twee sake vir die polisie ʼn prioriteit is nie. Hy beweer dat die dossier van die eerste aanval op die kleinhoewe ook in ʼn stadium weggeraak het.

Maroela Media het die Kameeldrift-polisie vir kommentaar genader en moes met verskeie beamptes by die stasie praat voordat die verslaggewer uiteindelik na ʼn stasiewoordvoerder verwys is. Die woordvoerder het versoek dat die navraag per e-pos aan haar gestuur word en Maroela Media wag op terugvoer.

plaasaanvalle

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

32 Kommentare

A ·

Baie sterkte Jurie, ek glo nie iemand sal jou pyn ten volle kan verstaan nie.

AL ·

Ek het nie woorde vir hierdie man se smart nie. My innige simpatie. Gaan jul sy verhaal deelmaak van n internasionale veldtog?

Aster ·

Jurie, my hart bloei vir jou. Baie sterkte. Ek weet nie wat om te sê nie. AL. ek stem saam met jou, ek hoop sy verhaal word wêreld wyd versprei.

Gerhard ·

Ek stem saam. Dit is nou regtig tyd dat mense die werklikheid aanvaar en besef daar is geen ander antwoorde nie.

Annie ·

Ai Jurie mag God vir jou rustigheid en kalmte gee. Ek dink nie enige iemand kan dit aanvaar nie. Stuur hierdie storie die wereld in dat die mense kan sien saam met watse monster ons elke dag lewe!!!

Erika ·

Plaas aanvalle…..polisie weet nie eers meer van sy vorige aanval nie. Nee wat hulle gee nie om nie. Niks word opgevolg nie…..slagoffers moet maar net gelate die aanvalle aanvaar. Tyd dat ons almal saam in opstand kom.

afrikaans ·

Hoekom altyd 4 of ses kom alleen en dit sal sy einde wees. My hart is stukkend……ons doen alweer niks

balao ·

Aan Jurie wil ek se, ek weet my troos is dalk te min, en my woorde klink dalk hol, maar ou maat, byt vas, druk deur. Die Vader het dalk groter planne met jou getuienis as wat jy besef.
Dalk is jy net die een om ander wat deur so n donker beproewing is, te bemoedig, ek weet nie, maar ek glo Hy kan jou gebruik, hier en nou, terwyl die boere so uitgemoor word.
Baie baie sterkte.

Ws ·

Dis hartseer maar dis waar. In 2014 het baie gebid oor die land en Christus het vir my gese op Sy tyd sal Hy ingryp. Dis nou al 3 jaar, maar meer as ooit Hou ek Hom aan sy belofte. Alles wat Hy al openbaar het aan my het waar geword.
Ons moet nog steeds als in ons vermoe doen om aktief op te tree en die uitkoms aan Hom oor te laat.

Ilise ·

Jurie moenie moed verloor nie. Ons verstaan nie altyd hoekom dinge gebeur soos dit gebeur nie. Jy gaan weer gelukkig wees. Vertrou Hom.

Liezille ·

Jurie, ek is sooo bitter jammer oor dit wat met jou en altwee jou liefdes gebeur het. My hart gaan uit na jou toe

Christelle ·

Ek kan myself net indink…en hy is reg ‘n aanval herleef in jou geestesoog, oor en oor. Ek is net jammer dat onskuldige mense met hulle lewens betaal en skurke vry rond loop.

Hendrik ·

wat se bewyse soek die piesang regering nog as bewys dat die aanvalle rasisties is. “you think you are brave you white c** t” wat anders as rasisme is dit. daar word gepraat en verskriklike uitgerekte vergaderings gehou oor rasisme. Magtag wat gaan aan. wil die mense hulle geleerdheid met die vergaderings bekendstel of wat. koppe nou deurmekaar omdat daar n selfoon gesteel is na die moord, dan is motief diefstal. BOG. dis rasisme en om wit boere weg te jaag want hulle soek die grond om verder te plunder. Hier word n koue oorlog gevoer waarteen ons n plan moet bewerkstellig en ek is te dom om daardie plan te kan bewerkstellig.

Vixie ·

Baie sterkte met die groot verlies, Jurie.
Daar was 3 jaar na mekaar 64 moorde per jaar. Is dit net toeval of beplan hulle dit so? En dan, die aantal moorde bly dieselfde, maar die aanvalle word minder, maw dit lyk of daar amper met elke tweede/derde aanval iemand vermoor word!

AL ·

Wanneer hierdie verhaal oorsee gestuur word moet die opskrif begin met You White C**nt sodat dit dadelik aandag trek. Dit sal selfs oorsese wittes vies maak.

Dereck Le Roux. ·

Nie dat die regering ‘n dooie flenter vir witmense omgee is so seker soos daglig, die meeste sulke misdade is haatmisdade en ons het dit gesien weereens met die moord op die Pietersburgse vrou wat se oe verwyder was tydens haar moord, hoe groot moet hulle haat wees om so iets aan ‘n mens te doen?

Estelle ·

Het nie woorde nie. Sterkte Jurie.
Ek sou net graag wil weet waarom daar alewig polisie dossiere wegraak.

H3ndr4iik ·

Ek weet nie wat in SA aangaan nie, maar dis duidelik dat alle wittes daar uitgedryf of uitgemoor word.Ek is reeds 22 jaar terug daar weg, en lewe nou die droom lewe in Australie. (the lucky country)

johan ·

Ja jy wat nou in die lucky country bly, almal het nie so n kans nie, dis amper asof jy jou verlekker.

Amanda Landman ·

Orania ja. So jammer Jurie. Ons lewe tot ons sterwe…dalk word jy gespaar om groot dinge te doen na jou verliese. Gebruik die energie van jou smart om ander in dieselle bootjie se lewens aan te raak. Dit sal vir jou genade bring.

Kallie ·

Kan forum films nie n “exposé” oor plaasmoorde en die stille volksmoord wat teenoor ons mense in Suid-Afrika gepleeg word maak nie?

Doen dit met dieselfde gehalte as ‘Tainted heroes’ en plaas dit op YouTube vir die wêreld om te sien

J ·

So bitter jammer so seer Jurie so baie voel saam en tog haat die blanke nié…want dit sal jou siel opvreet nié die hater sin nié. Daardie dag kom die vergeldingsdag dis onvermydelik maar Daai oorlog is nié my en joune nié. Bly GLO!!!

Lilly Pretorius ·

Jurie dis ongelooflik hartseer wat met jou gebeur het. Die wete dat jy nog staan en voort gaan, alhoewel jy voel die Here moet jou kom haal wys dat jy n sterk persoon is. Meskien is dit die rede hoekom.hy jou gespaar het is om mense by te staan wat nie so sterk is nie. Ek kan nie vir een oomblik verstaan hoekom die dinge moet gebeur nie. en ja dis baie ironies dat goed net wegraak by polisie stasies! Rasisme is nog nooit uit die land uit nie en sal ook nooit wees nie. Ons moet as boere volk begin saam staan en opstaan vir ons regte ook. Sterk wees Jurie! Mag dinge vinnig vir jou sin.maak en jy jou antwoorde kry!

Saartjie ·

Jurie, jy is so reg, mens kom nooit oor dit nie. Jy is in dubbelmaat geslaan, ek in enkelmaat, maar steeds kom mens nooit nooit oor dit nie. So maklik sê mense dit is nou al soveel jaar gelede, jy moet oor dit kom een aanbeweeg – slegs wanneer jy self dit aan eie bas gevoel het, weet mens dat mens nie net kan aanbeweeg en oor dit kom nie. Ek dra daardie T-hemp elk dag van my lewe al vir dertien jaar lank.

Santjie ·

Ai dis so hartseer, my opregte simpatie. Eendag sal ons al die antwoorde he.Moet net nooit ophou glo en vetrou op God nie. Die lewe op aarde sal verby gaan en dan eers sal ons vrede he. Baie sterkte!

Janneman ·

My innige simpatie met jou vriend. MM ek vra mooi dat julle my pos plaas.

Dankie Ernst vir jou voorlegging oor rassisme aan die SAHRC. Gaan iemand hulle daaraan steur, gaan die media dit rapporteer? Ek twyfel sterk.

Dit is duidelik uit zuma en malema se liegstories oor grondsake, wit kapitaal, ens, die uiterste geweld tydens aanvalle op blankes, en die politieke onwilligheid om dit vas te vat dat ons uitgelewer is aan beplande volksmoord. Lees asb Heln Zille se feite van die saak op Daily Maverick.

Ek stem nie heeltemal saam met Ernst oor die omvang van rassisme nie – hier is duidelik n blanke haat wat gedryf en vertroetel word. Wil ons wag tot ons zim status beryk het?

Ons enigste wapen huidiglik is ons ekonomiese krag. Ons moet eise begin stel, nou. Tensy werk gemaak word teen volksmoord, blanke haat, ens weerhou ons belasting, werk aktief teen rassistiese arbeidswette, meganies op groot skaal, boikot media wat die blankes verguis, ons taal bedryg, ens.

Ek wil graag n artikel van AF sien oor die saak.

Ria ·

Jurie sterkte en jy is in my gebede. Jou storie breek alle gelowige mense. God het nog werk vir jou hier op aarde moet nie teen Sy wil gaan. God beskik. Tyd bring genesing en die seer word ligter maar die gebeure sal altyd saam met jou wees. Sterk wees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.