Alle leidrade opgevolg na Matie se dood

Nomzamo Buthelezi (Foto: Nomzamo Buthelezi/Facebook)

Geen inhegtenisnemings is al gemaak in verband met die onlangse dood van twee studente wat noodlottig beseer is in twee onderskeie tref-en-trap-ongelukke by twee universiteite nie.

Nomzamo Buthelezi (22) is dood nadat sy Saterdag in die vroeë oggendure ernstig beseer is tydens ’n tref-en-trap-ongeluk in Merrimanlaan in Stellenbosch.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het by navraag aan Maroela Media gesê die provinsiale polisie se speurders volg tans alle leidrade op hoewel niemand nog in hegtenis geneem is nie.

’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

’n Gedenkdiens sou na verwagting Maandag in die studentedorp vir Buthelezi, ’n BSc-student van Gauteng, gehou word. Sy het in ’n senior koshuis op kampus gewoon ten tyde van die voorval.

Lithemba Mpambani. (Foto: Facebook)

Buthelezi het voor haar dood as SR-beleidsbeampte en voorsitter van die Verenigingsraad by die US opgetree.

Maroela Media het vroeër berig ʼn student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) is ook onlangs dood nadat sy deur ʼn voertuig getref is en die motoris weggery het sonder om stil te hou.

Lithemba Mpambani van Port Elizabeth in die Oos-Kaap is deur ’n swart sedan naby die universiteit se hoofhek getref. Sy was ʼn vierdejaarstudent in BA Beeldende Kuns aan die UV.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê die motoris kon nog nie opgespoor word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

Dis so tragies, sterkte aan die families en vriende. Ek verstaan net nooit hoe kan jy iemand raak ry en net WEG RY. Het jy geen gewete nie. Ek huil my oë uit as ek ‘n duif doodry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.