AmaBhungane-joernaliste ‘gemuilband’ deur Moti Group

Sam Sole, besturende vennoot by amaBhungane (Foto: amaBhungane)

Deur Tania Broughton vir GroundUp

Die ondersoekende joernalistieke eenheid amaBhungane sê hy is onder “regsaanval” en is deur ʼn hofbevel gemuilband. Dié hofbevel is in kamerhof toegestaan sonder vooraf kennisgewing.

Dit het effektief amaBhungane verhoed om te berig oor dokumente wat verband hou met die omstrede Johannesburgse sakeman Zunaid Moti en sy groep maatskappye.

Die bevel is deur Johannesburgse hooggeregshofregter John Holland-Muter toegestaan. amaBhungane moet, volgens die bevel, binne 48 uur dokumente teruggee wat, volgens die Moti Group, “gesteel” is en waarvolgens amaBhungane beskuldig word dat hy ʼn reeks artikels geskryf het wat bekend staan as die “Moti Files”.

Die tussentydse interdik deur die regter is met onmiddellike effek van krag. Die respondente, insluitend joernaliste Sam Sole, Micah Reddy en Dewald van Rensburg, het tot 2 Oktober om dit teen te staan voor dit finaal gemaak word.

Die bevel gun die joernaliste die reg om voor Oktober terug te keer na die hof (die datum vir die moontlike finalisering van die bevel) indien hulle die aansoekers 24 uur kennisgewing gee. Lees die bevel.

Moti het onlangs as uitvoerende maatskappy bedank van die 250 maatskappye in die groep.

Die beëdigde verklaring in die aansoek – agter geslote deure – is onder eed verklaar deur die nuut aangestelde uitvoerende hoof Andrew Dondo Mogajane. Hy voer aan die dokumente in amaBhungane se besit is laat verlede jaar gesteel deur die voormalige werknemer Clinton van Niekerk, net voor hy vinnig bedank het. Dit blyk uit die artikels wat geskryf is, die vrae wat gestuur is en die dokumente wat by die vrae aangeheg is.

Metadata-analise toon dat die dokumente geskep is deur dit te skandeer op ʼn drukker by die Moti Group se kantoor, het hy gesê.

Andrew Dondo Mogajane, huidige uitvoerende hoof van Moti Group (Foto: Moti Group)

Volgens Mogajane bevat die dokumente wat deur Van Niekerk “gesteel” is en na amaBhungane en die Amerikaanse ondersoekende organisasie The Sentry gestuur is, vertroulike inligting.

Die groep se prokureurs, Ulricht Roux en Vennote, het in April vanjaar die dokumente skriftelik terug geëis.

amaBhungane het geweier om die dokumente te verskaf, aangesien dit moontlik die identiteit van sy vertroulike bronne kan onthul. Die organisasie sê hy is tans ook nie in besit van die dokumente nie – nie in fisiese of virtuele formaat nie.

Uit gevolglike artikels was dit egter duidelik dat die verslaggewers tog toegang het tot die dokumente, het Mogajane bygevoeg.

“amaBhungane gebruik selektiewe uittreksels uit die gesteelde dokumente om sy valse narratief te stuur dat daar iets verdag is oor die manier waarop die Moti Group sake doen.

“Dit wil voorkom of amaBhungane van voornemens is om die reputasie van die Moti Group skade te laat lei,” het Mogajane gesê.

Oor die kwessie van die dringendheid van die hofaansoek, het hy gesê die “kruistog is nog glad nie verby nie” en met elke dag wat verloop, word die aansoekers deur die omvattende risiko in die gesig gestaar dat die inligting en dokumente “versteek, versprei of onwettig aangewend kan word deur amaBhungane”.

Op ʼn vraag waarom die aansoek ex parte aangehoor moes word, het Mogajane gesê as amaBhungane kennis gegee is, sou die dokumente “versteek geword het, van hul bedieners verwyder geword het of selfs vernietig geword het”.

Mogajane sê die aansoek moes in kamerhof aangehoor word, omdat die dispuut grootskaalse openbare aandag getrek het en as die saak op die gewone hofrol geplaas is, sou dit moontlik onder amaBhungane se aandag gekom het en die verslaggewers wat “stappe kan doen om die doel te verydel”.

Oor die kwessie van mediavryheid het Mogajane gesê: “amaBhungane en die joernaliste kan nie aanvoer dat hulle gemuilband word wanneer hulle versuim het om by die reëls van die spel te hou nie en die aansoekers genoop het om die hof te nader nie.”

Hy het gesê Van Niekerk is nie ʼn “fluitjieblaser” nie en daar is geen bewyse dat hy in ooggetuiebeskerming geplaas is – soos aangevoer in ʼn hofaansoek in Durban nie.

Sole het gesê amaBhungane beplan om die interdik teen te staan.

Zunaid Moti, voormalige uitvoerende hoof van die Moti Group (Foto: Moti Group)

“Hierdie tipe ex parte beperking op publikasie en inval op mediavryheid is ongekend in die demokratiese era. Nêrens in sy verklaring wys mnr. Mogajane hoegenaamd dat amaBhungane buite openbare belang of buite die hoogste joernalistieke standaarde opgetree het nie. Ondanks sy protes is dit ʼn teken van dit wat die Moti Group desperaat is om te versteek deur dié drastiese stap te doen.”

Volgens Sole het Mogajane openlik gesê hy hoop die interdik sal amaBhungane muilband en dat dit die negatiewe vloei van publisiteit sal keer wat die Moti Group as ʼn gevolg van die #MotiFiles-onthullings ontvang.

Sole het gesê amaBhungane se prokureurs het vroeër vir die Moti Group aangedui dat afskrifte van die dokumente op ʼn buitelandse bediener gestoor word waaroor amaBhungane nie beheer het nie.

Dit beteken dat amaBhungane nie die mag het om al die afskrifte van die dokumente, wat in elk geval steeds in die Moti Group se besit is, “terug te gee” nie.

“Die enigste denkbare rede waarom hulle ons afskrifte nodig het, is sodat hulle ons bronne kan identifiseer,” het hy gesê.

GroundUp het verlede maand berig dat Sole, Reddy en Van Rensburg glo dat hulle moontlik in hegtenis geneem kan word weens ʼn exposé oor die “Moti Files” waar sakeman Zunaid Moti geïmpliseer word in ʼn mynbouooreenkoms met Zimbabwe se pres. Emmerson Mnangagwa.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning op Maroela Media gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.