Amcu by departement van arbeid verkla oor Gold One-drama

Myners sing en dans nadat hulle kollegas na die oppervlakte teruggekeer het. (Foto: Luca SOLA / AFP)

Solidariteit het die mynwerkersvakbond Amcu by die departement van arbeid aangekla oor die gyselaarsdrama wat hom twee weke gelede by Gold One Modder-Oos afgespeel het.

Die vakbond het ʼn skrywe aan die departement gestuur, waarin gevra word dat Amcu se aandeel in die ondergrondse drama by Gold One ondersoek word. “Werkers is as gyselaars aangehou en met pikstele en planke geslaan. Wit werkers is skynbaar geteiken.

“Ons gaan nie toelaat dat ons lede of enige ander werker as gyselaar aangehou word of slagoffer is van ʼn ander vakbond se optrede nie. Elke werker het die reg om veilig te kan werk. Kriminele en ander vakbonde gaan dit nie wegvat nie en werkgewers moet dit verseker,” het dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.

Die vakbond het vroeër reeds aangedui hy sal nie huiwer om die bestuur van die myn en Amcu aanspreeklik te hou vir die gebeure voorverlede week, toe honderde mynwerkers vier dae lank ondergronds aangehou is nie.

Solidariteit het reeds die bestuur en menslikehulpbronbestuurder van die myn tot Woensdag 27 Desember tyd gegee om behoorlike maatreëls in te stel om werkers se veiligheid by die myn te verseker en stappe te doen teen diegene wat verantwoordelik was vir ʼn onwettige ondergrondse staking by die myn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.