ANC-faksiegevegte dompel Ditsobotla in chaos

Gevegte tussen ANC-faksies by die Ditsobotla-munisipaliteit het vandeesweek tot gewelddadige oproer gelei. (Foto: Verskaf)

ʼn Skynbare faksiegeveg tussen twee groepe van die ANC-munisipale regering in Ditsobotla is besig om dorpe in die gebied lam te lê en dienslewering is so te sê tot ʼn stilstand gedwing. Dit omdat ʼn rebelliefaksie skynbaar die kantore van die munisipale bestuurder onregmatig beset.

Die Ditsobotla-munisipaliteit in Noordwes sluit in Lichtenburg, Coligny en Bakerville.

Hoewel verdere geweld nie ná Maandag se skietery op Lichtenburg uitgebreek het nie, vrees inwoners dat dit enige oomblik weer kan opvlam.

Fanie du Toit, ʼn VF Plus-LP in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP), sê die twis spruit uit ʼn toutrekkery tussen die regmatig waarnemend aangestelde munisipale bestuurder van die Ditsobotla-munisipaliteit, Josephine Ledwaba, en Tsietsie Shema, wat glo onregmatig in dieselfde pos aangewys is en deel vorm van ʼn sogenaamde rebellefaksie wat ʼn parallelle struktuur by die plaaslike owerheid bedryf.

Du Toit sê luidens ʼn hofuitspraak beklee Ledwaba die posisie regmatig.

Shema en ʼn span veiligheidswagte het glo Maandag by die kantoor van die munisipaliteit opgedaag en Ledwaba, glo ook met ʼn groep van haar eie veiligheidswagte – verhinder om haar werk te doen.

Skote tussen die onderskeie veiligheidswagte is in die middedorp afgevuur en een van die wagte, glo verbonde aan Ledwaba se span, is ernstig gewond.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê twee sake van opsetlike saakbeskadiging word ondersoek nadat oproeriges ook petrolbomme gegooi het en twee voertuie tydens die onluste uitgebrand is. Volgens Myburgh is niemand tydens die voorval dood nie.

Die polisie het sy openbare orde-eenheid ontplooi en die situasie is vinnig in bedwang gebring. Geen verdere voorvalle is intussen aangemeld nie.

Du Toit sê van basiese dienslewering in die munisipaliteit is daar tans geen sprake nie en inwoners en munisipale werkers leef in vrees vir die vlak van geweld in die gemeenskap. “Die VF Plus veroordeel die voortslepende ontwrigting en geweld wat die inwoners van Lichtenburg sedert Maandag teister nadat strydende ANC-faksies die dorp in chaos gedompel het.

“Dít alles weens die ANC-faksies en hul stryd om toegang tot die munisipaliteit se hulpbronne en finansies.”

Die VF Plus sê die stryery lê dienslewering lam. (Foto: Verskaf)

Die parallelle struktuur maak dit nou ook haas onmoontlik vir amptenare om hul werk gedoen te kry omdat daar geen duidelikheid is oor wie die wettige opdragte uitdeel nie. Du Toit sê die VF Plus het ʼn lys met name van regmatig verkose ampsdraers aan die polisie gegee.

Ledwaba het reeds gewaarsku dat daar vandeesmaand moontlik nie genoeg geld gaan wees om salarisse te betaal nie, omdat betalende inwoners van die gebied nie toegang tot die beleërde munisipale kantoor kan kry om hul dienstegeld te betaal nie.

Du Toit sê daar moet na die burgery omgesien en munisipale infrastruktuur moet beskerm word, eerder as wat toegelaat word dat politieke binnegevegte die munisipaliteit lamlê.

Die VF Plus is sedert Maandag deurlopend in gesprek met Noordwes se LUR vir samewerkende regering, tradisionele sake en behuising, Lena Miga, sowel as die polisie en die party het gevra dat die situasie so gou moontlik gestabiliseer moet word. Die VF Plus vra Miga ook om duidelikheid te gee oor wat presies die pad vorentoe vir die plaaslike owerheid inhou.

Miga het by navraag gesê daar is later vanmiddag ʼn mediakonferensie waar meer inligting oor die situasie by die munisipaliteit bekend gemaak sal word.

Du Toit waarsku dat die omgewing die situasie kwalik kan bekostig. Die plaaslike ekonomie en infrastruktuur is reeds onder groot druk en diensleweringsprobleme sleep voort.

Werkloosheidsvlakke bly hoog en die geweld in die middedorp beteken sakelui wat hul beste doen om ʼn onderneming te bedryf, kry opnuut die wind van voor.

Die diensleweringsprobleme is egter niks nuuts nie. Die Clover-fabriek op Lichtenburg het verlede jaar weens die voortgesette probleme sy deure gesluit en die aanleg na KwaZulu-Natal verskuif.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Swerwer ·

Pragtig doen so voort! Vernietig asseblief alles en mekaar want dit is mos die ANC en EFF se motto in die lewe.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hy volg Ian Cameron se sosiale voetspoor.

Piet ·

En daar is nogsteeds mense wat dink as die da oorvat gaan dit maanskyn en rose wees.

Swerwer ·

Nie ‘n manier nie, ongelukkig is daar te veel bewyse van knoeiery.

Jacobus ·

Vergelyk die DA beheerde Weskaap met hierdie verhaal dan praat ons weer. Jy is soos n volstruis met sy kop in n gat. Kyk bietjie rond!

Henk ·

Net 1 probleem met die ANC: die ANC – die hele boksomdaais….!!!

Marius ·

Ek verstaan nou glad nie , hulle het dan gestem vir dit.
Daar is n wit man wat agter tralies is vir iets baie minder as wat hier aangaan , so wat gaan met die klomp gebeur ??
Ek vra maar net , want in my oe is dit terrorisme .

Kokerboom ·

Voor die ANC uitvaagsels munisipaliteite gekaap het was Lichtenburg/Coligny pragtige skoon funksionerende dorpe. Belasytingbetalers moet nou saamstaan en die politicie en ander gespuis verdryf en dorpe weer herannekseer. Tree ook op teen daai nuttelose Minister van Samewerkende Regering. Dagvaar haar om haar werk te doen. Die destydse samevoegiung van werkbare munisipaliteite was ‘n groot fout en politieke onding

Annamarie ·

Die “Lig in Lichtenburg” is deesdae, wanneer daar gebrand en ” ge tyre -braai” word .

TRP ·

….soos honde wat baklei oor ‘n skoon gevreete been…Daar is dan niks oor nie, hoe wil jy beheer he oor ‘n struktuur wat uitmekaar val en geld wat nie inkom? Mag is ‘n lelike ding. Voel hartseer vir die inwoners.

Rich ·

Dis al wat die ANC kan doen is brandstigting. Hul kon nog nooits is opbou nie.

Di ·

Ja nee, so begin hulle MEKAAR uithaal! Almal wil in beheer wees waar hulle hande op die geld kan le! Gaan nie oor die pos maar oor die beheer van GELD. TIPIES dis hoekom ons land in sy glorie in is.

De Wet ·

Die berig is deurspek met onwaarhede . Daar was GEEN polisie nie . Hulle het geweier om uit te kom . Sleg een voertuig is gebrand , geblus en toe vir ure lank gestrip em weggedra as parte . Engine en ratkas inkluis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.