ANC het sy oog op die verkiesing, sê Ramaphosa

ANC-president Cyril Ramaphosa by die byeenkoms in Mbombela (Foto: @MYANC/Twitter)

ANC-president Cyril Ramaphosa het Saterdag tydens die party se 112 jaar-vieringe in Mbombela, Mpumalanga, gesê diegene wat teen die ANC saamsweer en ander partye vorm, sal nie suksesvol wees nie.

Hy het diegene wat poog om die ANC te ontsetel, uitgedaag om dit te probeer.

“Alhoewel daar baie foute gemaak is, is baie bereik,” het Ramaphosa gesê.

Volgens hom het koalisies dienslewering gedestabiliseer en die ANC het sy oog op ʼn absolute meerderheid in die komende verkiesing.

Duisende ondersteuners het die pawiljoen volgepak gesit vir die verwagte sogenaamde 8 Januarie-verklaring. Dit is vanjaar 112 jaar sedert die ANC tot stand gekom het en 30 jaar sedert demokrasie in die land.

Ramaphosa het die afgesplinterde partye beskryf as “slange wat Suid-Afrikaners wil byt”.

Sy kommentaar volg ná die totstandkoming van nuwe politieke partye, insluitend die uMkhonto weSizwe (MK)-party wat deur Jacob Zuma ondersteun word. Ace Magashule, voormalige ANC-sekretaris-generaal, het ook onlangs aangekondig dat sy party, die African Congress for Transformation (ACT), saam met die MK-party sal werk om die ANC te ontsetel.

Ramaphosa het ook diegene veroordeel wat die ANC van binne af aanval. “Nóg ʼn anti-transformasie-taktiek is om seker te maak dat die ANC vasgevang is in interne struwelings wat dit van binne af sal verswak en verwoes. Hulle moedig aktief rebelle splintergroepe aan om die ondersteuningsbasis van die ANC te erodeer. Dit begin gewoonlik as faksie-konflikte binne die ANC, maar wanneer die beweging vorentoe beur met vernuwing, dan omskep hulle in opposisiepartye wat net so gekant is teen die ANC as die regse teenstanders van transformasie.

“Sommige van hierdie partye doen hulleself voor as meer radikaal as die ANC, maar hul rewolusionêre klinkende retoriek kan nie die werklikheid verbloem dat hulle ‘n gemeenskaplike doel het met die magte wat teen transformasie is nie. Die gemene doel van al hierdie magte is om die ANC te ontneem van die vermoë om staatsmag te gebruik om verandering teweeg te bring.”

Diegene wat voorspel dat die ANC slegs tussen 30% en 50% van die stemme in die verkiesing gaan behaal, ken duidelik nie die ANC nie, sê Ramaphosa.

“Die plan is om ʼn beslissende ANC-oorwinning te verseker. Ons werk vir ʼn duidelike oorwinning.”

Volgens Ramaphosa is koalisies nie ʼn opsie vir die ANC nie. “Koalisies sal ʼn algehele ramp vir ons land wees. Ons wil nie soontoe gaan nie.”

Die ANC sal volgende maand by die Moses Mabhida-stadion in Durban sy verkiesingsmanifes vrystel.

  • Klik hier om die volledige 8 Januarie-verklaring te lees

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hannes ·

Ek wens die mense wil verstaan dat gratis KFC elke 5 jaar is nie ‘n oplossing vir Suid Afrika wat besig is om ten gronde te gaan nie. Stem vir enige iemand anders as die ANC en net dalk kan jy jou eie KFC bekostig.

Elméne ·

Baie bereik??? rampies is jy gerook?? O ja, wag ‘n bietjie – JY en jou “uitgevrete puppet kabinet” het dit reg gekry om ons eens pragtige land tot IN DIE GROND TE VERWOES

cornelius ·

Hierdie is presies dieselfde as Rhodesie (Zimbabwe). DIE INTIMIDASIE PROSES HET BEGIN MET ALLEHANDE VALS UITSPRAKE OM AANDAG VAN HUL GEMORS IN DIE LAND AF TE LEI EN SO MET DWANG STEMME TE PROBEER KRY.

Bolandse Nooi ·

“Hy het diegene wat poog om die ANC te ontsetel, uitgedaag om dit te probeer” … Ons weet ja, dat julle WEER sal “wen”, want julle bekook die verkiesingsuitslae. Julle vertel die mense dat as die DA of enige ander party aan bewind kom, sal hulle SASSA-“pay” weggevat word en sal dit weer wees soos wat dit was toe Apartheid nog gegeld het.

Die slegste van alles is, is dat ons ouers ons met ‘n werklike “dom” volk gelaat het deurdat hulle nie dieselfde tipe skoolopleiding gekry het as ons nie, daarom glo hulle onoortuiglik dat die ANC die oplossing is, al sien hulle hoe swaar hulle kry en hoe sleg dit in die land gaan.

Daarom – maak nie saak wie wát sê nie – ek gaan nie weer stem nie. Ek het seker in die laaste eeu laas gestem, want ek sê ek wil nie deel wees van die land se verdere ondergang nie. Niks wat ek het, het enige politieke party vir my gegee nie. Ek moes werk vir die bietjie (eintlik niks) wat ek het.

Maar ek sit en kyk … en hoop dat dinge tog gaan verander, terwyl ek nie eintlik hoop het nie, want daar is GEEN MANIER wat die ANC ‘n minderheidsuitslag – indien dit wel ooit gebeur – summier net sal aanvaar nie. SA se Arabiese Lente is ons voorland ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.