‘ANC, jy het nou lank genoeg die land se tyd gemors’ – Steenhuisen

(Foto: Verskaf)

Meer as 15 000 DA-ondersteuners het Saterdag in die Pretoriase middestad saamgedrom om na die Uniegebou op te ruk, waar die amptelike opposisieleier, John Steenhuisen, sy verkiesingsmanifes sou voorlê.

Die party het die geleentheid as sy grootste byeenkoms in die geskiedenis van die DA beskryf.

Maroela Media het vroeër berig die optog na die Uniegebou het simboliese belangrikheid, wat die DA se vasbeslotenheid aandui “om ʼn nuwe era van bestuur in te lui”.

Steenhuisen sê die DA het besluit om sy 2024-verkiesingsmanifes van die Uniegebou af voor te lê om ʼn duidelike boodskap te stuur.

“Dat ons in hierdie verkiesing is om dit te wen. Dat ons in hierdie verkiesing die Uniegebou uit die kloue van ʼn korrupte regering moet red, en dit tot sy regmatige plek moet herstel as ʼn simbool van trots vir alle Suid-Afrikaners.”

(Foto: Verskaf)

Hy sê in die 2024-verkiesing is ʼn stem vir die DA, ʼn stem vir ʼn party met ʼn plan om Suid-Afrika te red.

“Ons sal begin regmaak wat stukkend is in die regering deur kaderontplooiing af te skaf, korrupte amptenare af te dank en bekwame mense aan te stel met die vaardighede om dienste te lewer.

“Ons sal ʼn bekwame staat bou om met die private sektor en die burgerlike samelewing saam te werk om Suid-Afrika te red.”

(Foto: Verskaf)

Hy sê in elke vorige verkiesing sedert 1994 het almal geweet dat die ANC sou wen.

“Die enigste vraag was met hoeveel. Gevolglik was die DA se primêre taak in elke vorige verkiesing om die sterkste moontlike opposisie teen die ANC te konsolideer, om te keer dat die ergste met ons geliefde land gebeur.

“Maar dit alles verander vandag. Vandag betree ons ʼn nuwe pad na ʼn nuwe doelwit. In hierdie verkiesing gaan die DA nie die ANC teëstaan ​​nie. In hierdie verkiesing gaan die DA die ANC verslaan.”

Steenhuisen sê vir die eerste keer in die land se demokratiese geskiedenis gaan steun vir die ANC ver onder 50% ineenstort.

“Dit is ʼn party in terminale agteruitgang, wat van alle kante aan flarde geruk word. Die ANC was reeds op sy knieë toe Jacob Zuma se MK-party tot die stryd toegetree het, en nou verslind die MK miljoene ANC-stemme.

“En die ANC het net een man om te blameer vir sy ondergang: Pres. Cyril Ramaphosa, wat dekades lank alles in sy vermoë gedoen het om Jacob Zuma geleenthede te bied en te beskerm.

“Ramaphosa het selfs meer as 15 000 misdadigers bevry net om Zuma uit die tronk te hou.

“Die einste Zuma help nou om Ramaphosa uit die Uniegebou hier agter my te kry.”

Hy sê die DA is daartoe verbind om die sterk, stabiele ankerparty in die hart van ʼn nuwe veelparty-regering te word om Suid-Afrika te red.

“Maar, in die DA streef ons nie na mag om eie onthalwe nie. Vir die DA is die wen van verkiesings en toetrede tot die regering ʼn middel tot die uiteindelike doel. Daardie uiteindelike doel is om al die mense van Suid-Afrika te dien deur hul lewens beter te maak.”

Steenhuisen sê hy is daarom trots om vandag die DA se Reddingsplan vir Suid-Afrika, hul manifes vir die geskiedkundige 2024-verkiesing, bekend te stel.

“Hierdie manifes is die uitkoms van die omvattendste beleidmakingsproses in die geskiedenis van ons party, gebou op ʼn reeks bygewerkte beleide wat ons sedert 2019 aanvaar het.

“In hierdie verkiesing is ʼn stem vir die DA, ʼn stem vir ʼn party met ʼn duidelike plan om Suid-Afrika te red.”

As die ankerparty in ʼn nuwe veelparty-regering, sal die DA se sleutelprioriteite gedurende die termyn van 2024 tot 2029 wees om –

  1. twee miljoen nuwe werksgeleenthede te skep;
  2. beurtkrag en watervermindering te beëindig;
  3. die koers van geweldsmisdaad, waaronder moord, poging tot moord en geslagsgebaseerde geweld, te halveer;
  4. korrupsie te onderdruk deur kaderontplooiing af te skaf ten gunste van meriete-gebaseerde aanstellings;
  5. ses miljoen mense uit armoede te lig;
  6. die aantal gr. 4-leerders wat met begrip kan lees, te verdubbel; en
  7. gehalte‑gesondheidsorg vir almal, ongeag ekonomiese status, te verseker.

“Wat die DA jou vandag bied, is nie populistiese beloftes nie, maar plegtige beloftes.

“Ons sal ons tyd in die regering soos ʼn laserstraal fokus op die implementering van hierdie sewe sleutelbeloftes, want ons verstaan ​​dat as ons nie hierdie sewe dinge kan regmaak nie, Suid-Afrika nie ʼn toekoms het nie.”

Steenhuisen sê anders as  Ramaphosa se desperate pogings om sy regering se mislukkings weg te steek, is die DA se manifes gewortel in die werklikheid van wat Suid-Afrika in 2024 is, nie wat dit in 1994 beloof het om te wees nie.

“Die Konstitusionele Hof het die ANC tot Maandag tyd gegee om volledige rekords van sy kaderontplooiingskomitee te oorhandig wat terugdateer na 1 Januarie 2013, toe Ramaphosa sy voorsitter geword het.

“Nadat die ANC vir meer as drie jaar gesloer het ná die DA se aanvanklike versoek dat hierdie rekords openbaar gemaak moet word om Ramaphosa se rol in staatskaping bloot te lê, het die ANC gister teruggekruip na die DA en ons gesmeek om hulle meer tyd te gee.

“Ek wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om direk aan Ramaphosa en die ANC te sê:

“Nee, jy kan nie meer tyd kry nie.

“Nie om hierdie rekords te oorhandig nie, en nie in die regering nie.

“Jy het lank genoeg Suid-Afrika se tyd gemors.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elméne ·

DIT maak julle (die DA) NOU EERS na 30 jaar bekommerd?? Julle het saam met die anc die land tot niet laat gaan deurdat julle rustige agteroor gesit het, en so nou en dan ‘n halfhartige “blaffie” laat hoor het. Maar o ja, ek vergeet dat die verkiesing om die draai is – NOU probeer julle kiesers oorreed om vir julle te stem – ek persoonlik glo nie julle het ENIGSINS ‘n idee of die kapasiteit / integriteit om hierdie land reg te ruk nie, nie met die voorbeeld wat julle al vir die afgelope 30 jaar oor en oor bewys het nie.

Bolandse Nooi ·

@Tsek – vir NIEMAND nie. Want: as jy iets wil hê – WERK daarvoor. As jy iets gedoen wil hê – DOEN DIT SELF. G’n politieke party het nog ooit iets vir my gedoen nie, behalwe dit waarvoor hulle volgens hul verkose mandaat aanspreeklik is, m.a.w. voorsiening van gesondheidsorg, polisiedienste, beskerming van die landsgrense ens. ens. nie. Ek het nie ‘n huis, werk, kar, kos, klere gekry van enige politieke party in die hele 54 jaar wat ek oud is nie.

@capie …. vergeet maar gerus van die Wes-Kaap onafhanklik kry. DIT GAAN NIE GEBEUR NIE. Punt, einde van die saak, ikabod.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.