DA stel verkiesingsmanifes bekend: ‘Ons is gereed!’

(Foto: Democratic Alliance/X)

Tienduisende DA-ondersteuners het al vroeg Saterdagoggend by Kerkplein in Pretoria saamgedrom, waar die DA sy amptelike verkiesingsmanifes afgeskop het.

Madibastraat in Pretoria sal in blou getooi wees wanneer die optog na die Uniegebou om 10:00 begin.

Die DA se federale voorsitter, dr. Ivan Meyer, sê dit sal die eenheid en krag van die beweging simboliseer.

“Die optog na die Uniegebou het simboliese belangrikheid, wat ons vasbeslotenheid aandui om ʼn nuwe era van bestuur in te lei.

(Foto: Democratic Alliance/X)

“Hierdie is nie bloot ʼn politieke byeenkoms nie; dit is ʼn geskiedkundige oomblik, ʼn oproep tot verandering, en ʼn verklaring van voorneme om Suid-Afrika te red.”

Hy sê die DA se verkiesingsmanifes oortref blote beloftes.

“Dit is ʼn noukeurig nagevorste, data-gedrewe plan wat die huidige krisisse takel wat ons nasie in die gesig staar.

“Van die pak van verkwistende besteding tot die hantering van die elektrisiteitskrisis, investering in onderwys en die bevordering van ekonomiese groei, ons manifes skets praktiese oplossings,” sê Meyer.

“Die DA is gereed om te lei en die welsyn van die mense te prioritiseer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.