ANC-LP wat glo vrou vermoor, hoor oor borgtog

Sibusiso Kula (Foto: Verskaf)

Die ANC-parlementslid Sibusiso Kula (34) is Dinsdag in die Orkney-landdroshof in Noordwes borgtog geweier.

Kula word van die moord op sy vrou aangekla.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die uitspraak verwelkom. Volgens Henry Mamothame, woordvoerder van die NVG in Noordwes, sal daar in ʼn latere stadium ʼn aansoek gebring word om die saak na ʼn hoër hof te skuif weens die ernstige aard daarvan.

Kula het intussen aangedui dat hy van voorneme is om teen die borgtoguitspraak te appelleer. Die staat het sy borgtogaansoek teengestaan.

Kula is voorverlede week in hegtenis geneem in verband met die moord op sy vrou, Jennifer Kula, op 27 November.

Volgens die polisie het dit aanvanklik gelyk of Jennifer tydens ʼn rooftog vermoor is. Sy het ʼn steekwond aan die rug gehad, maar dié moordwapen is nooit gevind nie.

Die saak is deur die mediese fasiliteit aangemeld waarheen sy na bewering deur die beskuldigde vervoer is om mediese hulp te ontvang. Hy het aan die polisie gesê dat hy nie by sy huis was toe die voorval plaasgevind het nie.

Deur middel van die polisie se ondersoek is Kula met die moord op sy vrou verbind en van moord aangekla.

Die ondersoek duur voort en Kula sal in aanhouding bly tot sy volgende hofverskyning op 24 Februarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.