ANC, MRK verwelkom ook Zondo se aanstelling

Hoofregter Raymond Zondo. (Foto: Nhlanhla Phillips/ANA)

Die ANC het die aanstelling van Raymond Zondo as hoofregter van die Konstitusionele Hof verwelkom.

Die regerende party het ook pres. Cyril Ramaphosa se aanduiding dat hy van voorneme is om regter Mandisa Maya as adjunkhoofregter aan te stel sodra ’n vakature in die pos ontstaan, verwelkom. “Ons prys die president vir die oop, inklusiewe en deursigtige proses wat hy gevolg het om nominasies vir die posisie van hoofregter by die Regterlike Dienskommissie (RDK) te maak.”

Die ANC het gesê hy glo die posisie van hoofregter speel ’n deurslaggewende rol in die grondwetlike demokrasie. “Ons is vol vertroue dat die regbank onder die leierskap van regter Zondo sal voortgaan om sy onafhanklikheid te bevestig en ’n progressiewe interpretasie van die bepalings van die Grondwet sal gee wat die regte van alle Suid-Afrikaners verdedig en gelyke toegang tot geregtigheid verseker.”

Die regbank moet egter voortdurend doeltreffend getransformeer word om sy grondwetlike pligte na te kom, meen die ANC. “Die transformasie van die regbank moet verskerp word wat die inhoud van geregtelike onderwys in tersiêre en gespesialiseerde instellings en demografiese samestelling van regsbeamptes betref.”

Die Menseregtekommissie (MRK) het Zondo met sy aanstelling gelukgewens en gesê gegewe sy ervaring is die kommissie seker dat sy termyn as hoofregter ’n dawerende sukses sal wees.

“Zondo het ’n roemryke regsloopbaan wat in 1997 begin het toe hy as ’n regter van die arbeidshof aangestel is. In 2000 is hy as regterpresident van die arbeidshof aangestel, ’n pos waarin hy tien jaar lank gedien het.

“In 2010 is hy terug na die Pretoriase hooggeregshof. Vanaf November 2011 tot Mei 2012 het Zondo as waarnemende regter van die Konstitusionele Hof gedien. Hy is met ingang van September 2012 permanent aangestel. Oudpres. Jacob Zuma het Zondo in Junie 2017 in die amp van adjunkhoofregter aangestel.”

Die MRK meen Zondo het Suid-Afrikaners veral met sy houding en werksetiek tydens die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping beïndruk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Die regter is seker n goeie keuse maar sal moet leer om by sperdatums te hou, vra vir alles uitstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.