ANC na hoogste hof oor kaderontplooiingsrekords

grondwethof2

Die Konstitusionele Hof. (Foto: Reint Dykema)

Die ANC gaan hom nou na die Konstitusionele Hof wend in ʼn poging om nie alle rekords van sy kaderontplooiingskomitee aan die DA te oorhandig nie.

Die Hoogste Hof van Appèl het vroeër vandeesmaand die ANC se aansoek om te appelleer teen ʼn vroeëre hofbeslissing dat alle rekords van sy kaderontplooiingskomitee aan die DA oorhandig moet word, van die hand gewys.

Die appèlhof het bevind die ANC se aansoek om verlof tot appèl het “geen redelike vooruitsigte op sukses nie” en dat daar “geen ander dwingende redes is hoekom ʼn appèl aangehoor moet word nie”. Die ANC se aansoek is met koste van die hand gewys.

Dit het beteken die ANC moes binne dae die volledige rekords en notules van sy kaderontplooiingskomitee, wat dateer van 1 Januarie 2013 toe pres. Cyril Ramaphosa voorsitter van dié komitee geword het, aan die DA oorhandig.

Volgens dr. Leon Schreiber, DA-LP en die party se woordvoerder oor openbare administrasie en die staatsdiens, het die ANC egter “in volskaalse paniek verval terwyl hy probeer om die onvermydelike vrystelling van sy kaderontplooiingsgeheime” te vertraag.

Die DA het Vrydag ʼn skrywe van die ANC se prokureurs ontvang waarin hulle bevestig dat hulle nou die Konstitusionele Hof sal nader om die vrystelling van die rekords te probeer keer.

“Soos al die ANC se vorige pogings, is hierdie finale hofaansoek gedoem om te misluk. Daar bestaan eenvoudig geen wetlike gronde vir die ANC om sy kaderontplooiingsrekords geheim te hou nie, want die hele rede waarom kaderontplooiing bestaan, is om die ANC in staat te stel om in te meng by aanstellings in poste in die openbare sektor,” sê Schreiber.

“Kaderontplooiing het dus ’n direkte impak op die publiek, deur beurtkrag en die wydverspreide ineenstorting van dienslewering, wat beteken dat die publiek ’n grondwetlike en inherente reg het om oor die inhoud van alle kaderontplooiingsrekords ingelig te wees.”

Die DA is vol vertroue dat die Konstitusionele Hof ook in sy guns sal beslis.

“Sodra die hof dit gedoen het, sal die ANC nêrens meer kan wegkruip nie en sal hy gedwing word om onmiddellik alle kaderontplooiingsdokumente aan die DA te oorhandig. Sou dit daarby kom, sal die DA ook aandring op tronkstraf en minagting van die hof teen enige ANC-leier wat probeer om hierdie proses te vertraag nadat die Konstitusionele Hof hierdie laaste appèlpoging verwerp het.”

Dit is vroeër gelas dat die ANC alle vergaderingsnotules, WhatsApp-gesprekke, e-posse, CV’s én ander relevante dokumente aan die DA moet oorhandig.

“Vir langer as twee dekades het ʼn klein groepie senior ANC-figure gereeld in rookgevulde agterkamers by Luthuli-huis vergader om aanstellingsprosesse te korrupteer deur te verseker dat slegs ‘lojale kaders’ van die ANC in magsposisies in die openbare sektor aangestel word. Gevolglik word vaardige en verdienstelike aansoekers opsy geskuif, met posisies wat uitgehou word op grond van lojaliteit aan die ANC.”

Die DA wag volgens Schreiber ook tans op ʼn uitspraak in ʼn tweede hofaansoek, waar hy die Pretoriase hooggeregshof gevra het om ANC-kaderontplooiing ongrondwetlik en onwettig te verklaar.

“Die gesamentlike uitwerking van hierdie twee hofsake sal wees om die sluier van geheimhouding te deurboor wat kaderontplooiing omhul en om die fondamente waarop dit gebou is, af te breek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Thomas ·

Lyk vir my dat die magtige ANC stadig maar seker besig is om hard te val…..

houopkruip ·

Nie naastenby nie – dit gaan na die verkiesing erger word as in die res van Afrika.

Strandloper ·

Nou werk al wat IT is oortyd om kwalifikasies te vervals. Glo nie die waarheid sal ooit uit kom nie.

Hendrik ·

Julle poep teen donderweer, die enigste rede hoekom die cANCer hom tot die Konstitusionele Hof wend is omdat hulle verseker weet dat hulle die regters daar kan omkoop.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die regime sal oorleef, maar die res van ons het groot probleme.

Sonblom ·

Die ANC het so baie om weg te steek. Díe dat hulle nie die dokumente wil oorhandig nie. Maar hierdie is ook net ‘n druppel in die emmer.

Shakespeare ·

Kader ontplooing is nie nuus vir ons nie. Dis die rede hoekom ons land so verwoes is. Onbevoeg en korrup.

Jaco ·

Die magtige anc, is darm baie bang vir ons as ‘n minderheid in die land.

Lourens ·

Die grondwethof is nie ‘n hoër hof as die Appélhof nie – dis ‘n spesialishof wat slegs sake aanhoor met grondwetlike implikasies. Die Appélhof is die hoogste hof.
Hoe die cANCer kan dink dat ‘n saak oor die party se interne beleid en werkinge grondwetlike implikasies het, sal baie interessant wees.

Frank ·

Bloot basiese kennis en gesonde verstand is genoeg en mens hoef nie regsgeleerde te wees om dit te weet nie. Die bewoording is egter wel verkeerd aangesien dit wel die hoogste hof is, maar apart en afsonderlik van die regsprosesse wat by die Appelhof as hoogste hof optree. Sy bedoeling is egter duidelik en dit is dat die grondweghof NET grondwetlike kwessies hanteer

Republikein in die Wes Kaap ·

Elke aspek van ons lewe word deur die grondwet geraak. Dis wat hulle die Supreme Court in baie lande noem. Die hoofregter sit ook op die bank. En hy is nie die Appelhof se klerk nie. My basiese kennis en gesonde verstand is wel benede standaard. Dus sal ‘n mening van ‘n eerste jaar regsstudent in orde wees.

Republikein in die Wes Kaap ·

Dit gaan ook oor interpretasie. Wette word dikwels saamgelees met ander wette en hofuitsprake. En dis waar jy regskennis benodig. Leke het al hul vingers gebrand.

Cherokee ·

Lourens, as jou redenasie reg sou wees, dan sou die DA dit tog uitgewys het. Die Konstitusionele Hof is ter sprake.

Lourens ·

Bywerking: mens kan nie Grondwethof toe appélleer nadat die Appélhof uitspraak gelewer het nie, tensy daar ‘n grondwetlike kwessie is wat aangespreek moet word. Die Grondwetlike Hof kan sleg ‘n Appélhofuitspraak omkeer/wysig indien dit oor ‘n grondwetlike kwessie gaan.

Republikein in die Wes Kaap ·

Kom ons laat dit oor aan regsgeleerdes Lourens. Binne 50 minute het jou regsmening verander.

Alex ·

Een of ander regter gaan weer gedreig word om in guns kant te kies vir die ANC….

domheks ·

Patrice is darem BAIE SLIMMER as sy swaer!! Ou cr se kader ontplooing is en was ons land se ondergang.

Di ·

Hoop van harte dat hulle slaag hierin! Dit is tyd dat die korrupte spul blootgele word. Ons land word deur ‘n klomp skelms regeer. Al loop ‘n leuen hoe snel, die waarheid agterhaal hom wel. Die tyd het aangebreek dat al die blindes in ons land kan sien WIE eintlik die land regeer

Marthinus Johannes ·

CR gaan seker maak dat die inligting nie bekend gemaak word nie. Net soos Zuma en die ander kaders gaan hulle nog lank vertragings taktieke uithaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.