ANC pak MK-party oor gebruik van logo

Oudpres. Jacob Zuma (Foto: Ihsaan Haffejee/AFP)

Die ANC het Woensdag begin om oudpres. Jacob Zuma en sy uMkhonto weSiswe- (MK-)party in die hof aan te vat oor die gebruik van die MK se handelsnaam en logo.

Volgens die regerende party kom die MK-party se gebruik van die geskiedkundige logo van die MK-vleuel neer op kopieregskending.

Die ANC se aansoek is Woensdag in die hooggeregshof in Durban op ʼn dringende grondslag aangehoor. Volgens die ANC se regspan is daar “oorweldigend baie getuies” wat die MK-party se onregmatige misbruik van die oorspronklike MK-logo bewys.

MK, letterlik “Spies van die Nasie”, was die bewapende militêre vleuel van die ANC én SAKP, wat gebruik is om in die Struggle-jare teen die apartheidsregime van Suid-Afrika te veg.

Die hof het Woensdag gehoor die MK-party pleeg handelsnaamskending deur die naam en logo van MK te gebruik. Die ANC meen MK is eie aan hom en dat hy die een is wat deur die jare die geskiedenis en welwillendheid opgebou het wat tans met die logo verbind word.

Maroela Media het voorheen berig dat die ANC in Desember ʼn regsbrief aan Jabulani Khumalo, stigter van die MK-party, gestuur het waarin die onregmatige gebruik van die logo en handelsnaam uitgewys is.

Adv. Gavin Marriott SC, vir die ANC, het gesê die MK-party se gebruik van die logo is onbehoorlik en onvanpas, want dit skep verwarring by kiesers.

Die ANC het ook op 23 September ʼn aansoek ingedien en is nou die eienaar van die logo onder die handelsmerkregistrasienommer 2014/22089, het Marriott uitgewys.

“Hulle dink dit is ʼn afstammeling van die ANC, maar daar is geen verbintenis met die party nie . . . kiesers hoor die MK-party is een van die kamers in die ANC-huis en gaan gebruik word om die ANC reg te ruk . . . dit is deel van die hele MK-party se strategie om mense so te verwar, naamlik dat hulle deel is van dieselfde uMkhonto weSiswe wat dieselfde boodskap oordra.”

Die soortgelyke logo’s skep dus nie net verwarring by die stembus nie, maar ook vóór die verkiesing omdat dit die kiesers mislei, het Marriott betoog.

So lyk die nuwe MK-party se logo (links) teenoor die bestaande MK-logo. (Foto: MK-party / Nelson Mandela-stigting)

Benewens die posisie van die spies op die twee logo’s is die Zoeloe-kryger op albei presies dieselfde, het Marriott verder uitgewys.

“Hulle [MK-party] gebruik selfs groen in die logo, wat ʼn kleur van die ANC is . . . en wanneer mense die logo sien, ongeag die kleur daarvan, sal mense dink daar is ʼn verbintenis. Hulle dink aan die oorspronklike logo. Die kryger is presies dieselfde,” sê Marriott.

Die MK-party wil dus as’t ware met die handelsnaam en logo op die ANC “se rug ry tot in die parlement”, sê Marriott.

“Maar hulle [die MK-party] het nie dieselfde nalatenskap en geskiedenis wat die ANC met die logo geskep het deur hul jare lange Struggle nie.”

Adv. Dali Mphofu SC, vir die MK-party, het op sy beurt betoog die ANC het reeds teenspoed opgetel toe die party vroeër by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) teen die gebruik van die logo geappelleer het.

“Hulle kan net hier slaag as hulle die hof oortuig dat dit uitsluitlike jurisdiksie het om die handelsmerk-aangeleentheid aan te hoor in soverre dit betrekking daarop het dat twee politieke partye verwarring by kiesers kan veroorsaak.”

Hy het verder bygevoeg: “Die leerstelling van verkiesings is duidelik; as jy die appèl verloor het, kan jy nie van voor af begin hier in die hof nie.”

Hy het betoog die hof het nié jurisdiksie nie en daarom moet die ANC se aansoek uitgegooi word.

“Dit is ook vir ons ʼn belediging om te sê – in soverre dit betref die logo wat op ʼn groen agtergrond is – dat dit by kiesers verwarring sal skep wanneer mense dit op die stembrief sien, saam met die ANC se logo,” het Mpofu bygevoeg.

Mpofu het volgehou die MK-party se logo verskil heelwat en onder meer gewys die kryger hou die spies langs sy middel en nie bo-oor sy nek nie. Die agtergrond is groen en sekere detail van die kryger is geel. Daarteenoor is die oorspronklike MK-logo net swart en wit.

Die hof het Woensdag uitspraak in die saak voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

KB ·

Beide partye is vasgevang in kleinlike hebsug en gierigheid. In die proses verloor beide steun en ruïneer hulle mekaar polities, finansieël en in ondersteuning van kiesers. Hulle saai veral verdeeldheid onder potensiële kiesers wat reeds vuisvoos is vir beide se korrupsie en leuens.
Hou aan, julle doen die land ʼn guns!

annie ·

Het die wet op kopiereg nie verander nie? Die ANC is dan self verantwoordelik vir sy eie probleem. Hulle moet dan maar tevrede wees met die uitloop. Watter grap ⚔️!

Vonkprop ·

Liewe aarde maar dit is snaaks. Hulle het letterlik net die spies opgelig. Ek het nou hard op gelag vir hierdie LOL!

Anel ·

Annie, net so. Ek het ook gedink die wet het verander, of is dit nou weer net van toepassing op sekers?

Aai ·

KB 100% altwee partye gee nie om oor hulle kiesers maar hou hulle besig met snert.

Marietjie ·

Ek wil sien watse fight gaan uitbreek tussen die 2 partye XD XD XD!!!! Ek sit en wag, ek het my popcorn uit!

Manie ·

Handelsmerke moet elke 10 jaar her-registreer word, vra dus vir Fikile of sy papierwerk agtermekaar is.

Jakes ·

Twee honde baklei oor n been en kom n derde en loop weg met die been. Beide partye gaan mekaar vernietig, Zoeloes teen die Khozas. Kom al eeue lank.

ES ·

@KB definitief goeie nuus vir die res van die partye – solank as wat daar verdeeldheid is tussen MK en die ANC, verloor hulle miljoene stemme.

Dorry ·

Ek vertrou nie die “bakleiery” tussen die ANC en MK nie. Is dit dalk oë verblindery? Sien hoe vorm hulle nog ‘n koalisie op die ou end van die dag.

Amelia ·

Gaan hul werklik stemme verloor Nie seker nie maar die week of laas week is gese sake word gereeld uitgetsel en prokureurs sukke om sakkke op rol te kry maar kyk nou net met hul is saak sommer binne paar dae op rol

Frank ·

Ironies dat die ANC nou JUIS die intellektuele eiendomswet gebruik vir hierdie hofsaak terwyl die gewysigde eiendomswet wat nou bekragtig moet word hierdie saak vir hulle nutteloos sou maak. Wanneer oppossie partye en/of Afriforum die nuwe wet beveg kan hulle gerus HIERDIE saak as voorbeeld voorhou wat duidelik aantoon dat die ANC self op die huidige wet steun as dit hulle pas

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.