ANC veg om oorlewing

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: AJESH JANTILAL / AFP)

Dit is presies ’n maand voor die verkiesing en meningspeilings toon dat die ANC se steun steeds taan.

Dit wil al meer voorkom of die regerende party vir die eerste keer in 30 jaar die risiko loop om sy volstrekte meerderheid in die parlement te verloor.

Dit moet kiesers weet:

Suid-Afrikaners sal op 29 Mei die 400 lede van die Nasionale Vergadering volgens ʼn proporsionele verteenwoordigingstelsel verkies. Die pas aangestelde wetgewers vergader dan om ʼn president te kies.

Die ANC het ná elke nasionale verkiesing sedert 1994 die president eiehandig gekies omdat die party elke keer meer as 50% van die setels in vorige verkiesings verseker het. Dit kan egter vanjaar verander.

Luidens die marknavorsingsfirma Ipsos se jongste peiling, gaan die ANC na verwagting maar 40% van stemme in die komende nasionale verkiesing verseker. Dít nadat die party in 2019 meer as 57% van die stemme ontvang het.

Daar word in hierdie stadium verwag dat die ANC ná vanjaar se verkiesing steeds die grootste party sal bly, maar gedwing gaan word om koalisievennote te vind om aan bewind te bly.

Niemand in ANC-geledere het tot dusver na vore gekom om pres. Cyril Ramaphosa se leierskap uit te daag nie.

Ramaphosa (71) het die ANC Saterdag tydens ’n geleentheid verdedig en gesê Suid-Afrika is vandag ʼn “oneindig beter plek as 30 jaar gelede”.

Die president het vooruitgang in gelykheid, toegang tot onderwys, grondhervorming wat daarop gemik is om rasse-ongelykhede uit te wis en die bou van huise en hospitale as suksesse gelys.

Tog sit minstens 32% van die bevolking sonder werk, misdaadsyfers bly verbysterend hoog en infrastruktuur – van spoor en paaie tot hawens en kragstasies – staan vervalle.

Altesaam 11 partye – die DA, IVP, VF Plus, ACDP, ActionSA, Isanco, UIM, SNP, UCDP en die Ekhethu People’s Party – het hulle by die Veelpartyhandves geskaar, in die hoop om ’n nuwe koalisieregering ná die verkiesing tot stand te bring.

Maar hul gesamentlike mag gaan dalk steeds nie genoeg wees om die ANC te ontsetel nie.

Die Ipsos-peiling plaas die DA se steun op byna 22%. Die opposisieparty sal egter selfs met sy bondgenote se steun na verwagting nie ’n 50%-plus-een-meerderheid behaal nie.

Zuma, die ontwrigter

Oudpres. Jacob Zuma en sy nuwe uMkhonto weSizwe (MKP)-party sal in die komende verkiesing na verwagting vir ʼn opskudding sorg aangesien die party die ANC veral in KwaZulu-Natal na verwagting talle stemme gaan kos.

Ipsos het die wegbreekparty se steun verlede week op 8,4% geplaas.

Zuma se vermoë om as presidentskandidaat te staan word nog in die howe betwis weens sy skuldigbevinding aan minagting van die hof in 2021. Maar soos sake nou staan, sal die oudpresident se naam tog op die stembrief op 29 Mei verskyn.

“Dit is asof ons reeds gewen het,” het Zuma verlede week aan ’n juigende skare ondersteuners in sy tuisdorp Nkandla gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

minnie muis ·

luister bietjie na SAFM en hoor al hul lieg stories wat hul opdis…

Vinny ·

hulle ondersteuners is mos nou gratis medies belowe en hulle sal dit opvreet vir soet koek.

Jannie van Niekerk ·

Enige mens wat in SA leef en dink dat die ANC die verkiesing gaan verloor leef in ‘n droomwêreld. Wat die “veelpartyhandves” aanbetref sal daar ook dadels van kom want daar is alreeds onderlinge verskille tussen hulle. Die ANC sal net soos die oorlede Nasionale Party van Oom PW regeer totdat daar ‘n FW de Klerk of Korbroek van Schalkwyk in die ANC kom wat die party sal vernietig,

Manie ·

Presies wat ek al by verskeie geleenthede gevra het. Waar dink die koalisie partye gaan hulle die stemme vandaan kry om die ANC uit die kussings te lig? Al kry die ANC net 40% stemme, sal hulle waarskynlik as eerste keuse met die EFF saamwerk vir ‘n meerderheid. As ek die Koalisie alliansie was, sal ek dit sterk oorweeg om ‘n koalisie met die ANC te vorm en wel vir die volgende redes:
‘n ANC/EFF koalisie sal SA se ondergang wees.
Kry julle Koalisie mense in die beleid/goedkeurings posisies om die ANC se eenrigting verkeer te stop. Los die “limelight”poste en probeer in die goedkeuring poste kom.

Kokerboom ·

Mag die son vir ANC sak! Die realiteit egter is kwaliteit van kiesers wat hul aan bewind hou
Die top kaders weet dit en sal aanhou om hul om die bos te lei deur leuens, beloftes en hul in donker te hou. Dis Afrika

Michael ·

Die geskiedenis het geleer dat van die inwoners van SA is n kinder toelaag,t-hemp en n kospakkie al wat nodig is vir n stem .Die komunistiese beleid is hou hulle arm en jy beheer hulle met hierdie verkiesing sal ons weet waar SA oor 10 jaar gaan wees.

Sonblom ·

Een ding weet ek verseker. Soos elke verkiesing sal ek gaan stem want elke stem maak saak. En dit lyk my veral in hierdie verkiesing.

skurweberg ·

Die kwantiteit is nou met julle tevrede. maar binnekort sal kwaliteit, kwaliteit soek

Christian J M ·

Soos Mark Twain gese het.
The reports of my death (ANC) is greatly exaggerated.

Di ·

ANC MUST FALL!! Stem saam met Sonblom, ieder en elke persoon moet sy kruisie gaan trek om die korrupte spul uit die parlement te kry, punt

Piet parys ·

Kan iemand net vir Cyril RAMaPosa sê om onmiddelik n Dokter te gaan sien hy hasinuliaseer……gevaarlike siekte wat die meeste politieke partye aan ly . Sien dinge wat nie nestaan nie …..sal R10 skenk vir sy besoek.

Bolandse Nooi ·

@Jannie, jy is ‘n man so na my hart. Oopkop, reg-denker. Jy laat jou nie aan die neus rondlei nie. DIE ANC GAAN NIE VAL NIE. Ons is opgeskeep met hulle vir die res van ons natuurlike lewens. Dit wat ek al in 2014 voorspel het, toe die EFF afgestig het, kom nou waar. Die ANC gaan in alliansie met die EFF. Die EFF het wel hul eie planne, maar om hierdie uit te voer, moet hulle eers hul magsbasis in ander provinsies, dorpe en stede vorm en daarvoor het hulle die ANC nodig.

Dit is soos @Michael daar sê … die ANC se beleid is: “Hou hulle dom en arm” en jy is verseker van ‘n stem in die toekoms. Maak allerlei beloftes net so kort voor ‘n verkiesing en hulle glo jou, soos hulle in 1994 geglo het dat yskaste, wasmasjiene, TV’s … de lot uit die hemele gaan neerdaal op hulle.

@Sonblom, as jy glo jóú enkele stemmetjie gaan ‘n verskil maak, sal jy ook aan die man in die maan glo. Almal is nou opgewerk en opgewonde, want 29/05/2024 is ‘n maand vêr. Almal sê hulle gaan stem, en hulle gaan “rég stem” (wat dit ookal beteken). Ek sê: verkiesingsuitslae word bekook; ek mors my tyd en energie nie so nie.

Grassie ·

Ek het verlede week op BBC ‘n onderhoud gesien wat hulle met Ramaphosa gehad het. Daarin beweer hy dat dit goed gaan met “hulle”, seker maar die ANC, want hulle het die “shackles” gebreek waarmee hulle “for hundreds of years” onderdruk was. Hy het verder gesê hulle het “freedom” en dit gaan baie voorspoedig. En die Souties glo hom. Ek weet nou wanneer hy lieg. Dit is sodra sy lippe begin beweeg.

Republikein in die Wes Kaap ·

Gisteraand op RSG sê Roelof Botha dat die ANC baie na of net oor die 50% gaan kry. Hy sê dis goed vir SA, want dan kan Ramaphosa sy goeie werk voortsit om SA te red.

OneWheel ·

Kospakkies/T-Hemde/KFC/Busvervoer troef alle Suid – Afrikaanse partye se beleid – wat daardie beleid ookal mag wees…

JohanR ·

RIV – my gooiste sal julle glad nie mis. Wie was die ANC nou weer?

capie ·

En julle almal glo daaraan dat verkiesings die ANC gaan uithaal. As die uitslae nie bekook kan word soos in Zim gaan ons na die verkiesing met ‘n eenparty staat sit. Dit is hoe kommuniste werk. Moeder Rusland sal nie sy ondersteuners in die steek laat nie.

Jaco ·

Hoekom is 32% van die bevolking werkloos? Daar is dan al lankal regstellende aksie waar net die “regte” velkleur ‘n werk waarborg. Na regte behoort net 4% werkloos te wees en almal wit. Iets maak nie sin nie. Ek stem sommer EFF…

Oosieoos ·

Bolandse nooi nou hoekom so baie tyd en energie mors op kommentaar as jy nie eers gaan stem nie. Iets maak nie sin nie

NWT ·

Die groot probleem in SA is die persone wat nie gaan stem nie….die draadsitters. Tydens die laaste munisipale verkiesing het selgs minder 40% van die 17 miljoen geregisteerde stemme gaan stem. Dit is so 7 miljoen. Waar was die ander 10 miljoen.

Ook in SA is daar meer as 37 miljoen mense wat n reg het om te stem ( ouer as 18 jaar ). So daar is 17 miljoen geregisteerde stemme en die vraag hoekom is die ander 20 miljoen persone nie geregisteer om te stem nie want daar was geleendhede om dit te doen. So as die praktyd hom weer gaan herhaal gaan 7 miljoen persone die regerende party kies .

As die ANC uit die kussing gelig moet word sal al 17 miljoen stemme moet gaan stem.

Ek wil die ANC nie eers in die parlement as die opposisie he nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.