
Annel Snyman (38). (Foto: Facebook)
Verskeie vriende en familielede van die vermoorde Annel Snyman (38), asook van haar vermeende moordenaar, Chris Luus (44), was Woensdag in die hofsaal van die landdroshof op Colenso waar Luus se aansoek om borgtog aangehoor is.
Snyman, die eienaar van die Loebies-roofdierpark buite Bela-Bela, se liggaam is in September in die badkamer van ʼn huisie by die Cayley Mountain Resort naby Winterton in KwaZulu-Natal ontdek. Sy en Luus, wat in ʼn verhouding was, was daar op ʼn wegbreekgeleentheid. Aanvanklik is gesê Snyman het haar oënskynlik met ʼn rekverband agter die deur gehang en die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek na die voorval gedoen.
Die ondersoek is egter later na moord omgeskakel en Luus is verlede week by sy huis in Bela-Bela op dié aanklag in hegtenis geneem. Hy het Vrydag vir die eerste keer in die hof verskyn en sy aansoek om borgtog is gister aangehoor.

Chris Luus (44) word aangekla van die moord op sy vriendin, Annel Snyman. (Foto: Facebook)
Die hof het onder meer gehoor dat twee nadoodse ondersoeke gedoen is en dat daar tydens al twee bevind is dat die merke ooreenstem met verwurging, eerder as iemand wat haar sou hang. Snyman se voete sou glo ook die grond geraak het as sy haar sou hang.
Snyman se familie het ná haar dood aangedring op ʼn tweede nadoodse ondersoek, selfs al het die eerste een daarop gedui dat die merke met verwurging ooreenstem.
Snyman het aan die outo-immunsiekte lupus gely. Luus het aangevoer sy was depressief en dat dit ʼn moontlike rede vir haar beweerde selfmoord is.
Haar broer, Nardus, het ná die verrigtinge gesê die saak eis sy tol op die familie.
“Dit bly hard. Elke keer is dit wonde wat oopgekrap word,” het hy gesê.
“Die gereg moet nou sy gang gaan. Ek weet geregtigheid sal geskied, ek bid daarvoor.”
Uitspraak in Luus se borgtogaansoek word Woensdag verwag.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
9 Kommentare
Ek dink hierdie Luus is die domste ou ooit. Het hy nie by Jason Rohde geleer nie?? Jammer dat vroue sulke …. ontmoet.
Probeer n Rhode of n van Breda trek toe boemerang dit. Sal natuurlik nou van die beste regsverteenwoordigers probeer kry wat bereid sal wees om hom uit sy gemors te probeer help. Voel jammer vir die Snyman familie
hi tog..toggie hy vergeet hoe lank sy is want haar voete was op die grond
Mense julle moet versigtig wees wat julle se… daar is dalk baie dinge aan die verdediging se kant wat terug gehou word vir die saak totdat die hof saak begin… Sy gesig lyk soos n moordenaar ? regtig…. Dink mense met bietjie meer tussen die ore moet comment wat al by sulke sake betrokke was en weet dat verdediging amper niks van hulle saak weg gee vir n borg aansoek nie…
Ek wonder soms waar kom mense aan hulle dom idees en verwag dan nog ander mense moet dit glo.