Aptekersraad probeer lede ‘boelie’ om NGV te steun

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic, Pixabay)

Die Solidariteit Beroepsgilde vir Gesondheidpraktisyns het Dinsdag die Suid-Afrikaanse Aptekersraad se skynbare verskuilde dreigement in verband met die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ten sterkste veroordeel.

Morné Malan, senior navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), verduidelik dat die raad ten beste onverantwoordelik en nalatig en op sy ergste in duidelike kwader trou opgetree het. “Die boodskap wat die raad – wat volgens sy mandaat dissiplinêre stappe kan instel of lede selfs kan deregistreer – aan aptekers gestuur het, dra duidelik die kenmerke van ʼn vriendelike verpligting. Daar word op elke betrokke apteker ʼn beroep gedoen om ʼn verklaring te voltooi en te onderteken wat lui: ‘I, as a Pharmacy Professional, support NHI’. Sulke verpligte spraak is meer kenmerkend van ʼn diktatorskap van die destydse Sowjetunie as van ʼn demokratiese republiek.”

Die beroepsgilde maan die raad om meer verantwoordelik op te tree en sy onafhanklikheid in daad te bevestig in plaas daarvan om dit net op skrif te doen. “Uit die 25 lede van die raad word 16 deur die minister van gesondheid aangestel. Hulle behoort hulself gevolglik ernstig daarmee te bemoei om hul onpartydigheid en onafhanklikheid van die minister te bevestig. Hulle is nie daar om bloot die minister se wil as boelies op aptekers af te dwing nie, nog minder om gedwonge instemming vanuit die beroep vir die minister se planne kunsmatig te fabriseer,” het Malan bygevoeg.

Die beroepsgilde het sy lede vandag ingelig dat hulle hoegenaamd nie verplig is om die verklaring wat tans deur die Aptekersraad versprei word ter ondersteuning van die NGV te voltooi en te onderteken nie.

Die Aptekersraad het wel vandag bevestig dat die “verklaring dat jy as professionele apteker die NGV steun”, nie verpligtend is nie en dat diegene wat nie op die e-pos antwoord nie, ook nie vorentoe benadeel sal word nie. Volgens die raad is die vorm slegs ʼn opname onder aptekers om vas te stel of hulle die NGV steun, al dan nie.

“Ons is baie ongelukkig oor die manier waarop die Aptekersraad die NGV op aptekers probeer afdwing. Al ons aptekerslede het bevestig dat hulle die e-pos ontvang het en het hul kommer met ons gedeel omdat hulle druk vanaf die raad ervaar om hul steun aan die NGV te verklaar uit vrees dat die toekoms van hul beroep daardeur geaffekteer kan word. Ons het die raad na aanleiding hiervan gekontak en hulle het dit gestel dat niemand verplig word om die voorstel te steun nie,” het Malan verduidelik.

“Ons doen ʼn beroep op die raad om in die toekoms baie meer omsigtig te kommunikeer aangesien die raad in ʼn uiters intimiderende magsposisie teenoor aptekers staan. Ons lede se kommer is geregverdig en die raad se motiewe bedenklik. Ons kan egter bevestig dat ons lede se vryheid van spraak as ʼn fundamentele menslike reg ten alle tye sal beskerm en dat ons lede volgens hul eie gewete kan besin oor hul gevoelens in verband met die NGV.”

Die sakeorganisasie Sakeliga het Dinsdag ook daarop aangedring dat die Suid-Afrikaanse Aptekersraad (SAAR) ’n opdrag aan sy lede dat hulle steun vir die Nasionale Gesondheidsversekering- (NGV-)skema moet belowe, terugtrek. Lees meer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Koos Bronkhorst ·

Dankie Solìdariteit. Die DA moes hier munt uit die ANC se boelie taktiek geslaan het. In Amerika en Engeland is gesondheid die belangrikste verkiesings “topic”. Die bevolking moet opgeroep word om vir gehalte hospitale te sorg. Nou hou ons anti – Eben Etzebeth optogte terwyl hospitale nie werk nie

Manie van Worcester ·

vuiste klap in da, hulle het nie nou tyd vur sulke dingetjies, hulle vernietig hulself om anc te help

WillieJ Botha ·

Sou Solidariteit of Agriforum n siekefonds begin is ek en al julle ondersteuners onmiddelik bereid om oor te skakel na so fonds. En my mening kom na oorlegpleging met ander partye ????

WillieJ Botha ·

Willie J Botha Dit is tyd dat Solidariteit /Afriforum n mediesefonds stig. Julle huidige ondersteuners het genoeg vertroue om oor te skakel na so fonds

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.