‘Arresteer hom’, pleit adjunkhoof se weduwee

Johan du Toit, destydse adjunkhoof van Hoërskool Akasia in die noorde van Pretoria. (Foto: Verskaf)

Johan du Toit, destydse adjunkhoof van Hoërskool Akasia in die noorde van Pretoria, is meer as ses jaar gelede tydens ’n huisroof geskiet en later in die hospitaal dood, maar niemand doen verantwoording vir sy dood nie.

Dít ten spyte daarvan dat sy vermeende moordenaar destyds ’n selfoon op die toneel agtergelaat het en met behulp daarvan reeds drie jaar gelede geïdentifiseer kon word. ’n Lasbrief is in 2020 vir sy inhegtenisneming uitgereik en tog is daar nog geen inhegtenisneming gemaak nie.

Sy gesin verstaan dit glad nie.

“Ek wil net weet, is daar nog iemand om my te help om hierdie saak op te los? Dit is tog nie so ’n moeilike saak nie,” meen sy vrou, Retha.

Retha het destyds kort ná die aanval in 2016 ’n vreemde selfoon in haar huis opgetel. Nege selfoonnommers is op die foon gevind waarmee haar man se vermeende moordenaar die dag van die aanval in verbinding was.

Volgens Retha het AfriForum se private vervolgingseenheid baie moeite gedoen met die verkryging van persoonlike inligting rakende die registrasie van dié selfoon en druk uitgeoefen sodat die forensiese verslae afgehandel kan word. Die eenheid sê weer die staatsaanklaer het alles in haar vermoë gedoen om uitstaande verklarings in te samel en eindelik die verdagte op die toneel te plaas en positief met die moord te verbind.

Die polisie blyk egter nie hul kant te bring nie.

Op Maroela Media se vraag oor waarom die verdagte tot op hede nog nie in hegtenis geneem is nie, het Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se private vervolgingseenheid, vandeesweek geantwoord: “Want die polisie doen nie moeite om hom te soek nie.”

Retha vertel op haar beurt dat sy met die uitreik van die lasbrief laas van die polisie gehoor het. Vorster sê Retha is ongelukkig ook nie die uitsondering op die reël nie.

“Ons het op ’n daaglikse grondslag te doen met mense wie se ondersoeke ná meer as drie jaar nog nie afgehandel is nie … Die strafregstelsel faal ongelukkig slagoffers en hul naasbestaandes. Daar is géén kommunikasie nie en dit is die grootste probleem.”

‘Leemte’

Johan du Toit, destydse adjunkhoof van Hoërskool Akasia in die noorde van Pretoria. (Foto: Verskaf)

“Ek het vir die eerste drie jaar net gehuil,” onthou Retha oor die tyd ná haar eggenoot se moord.

“Dit gaan intussen beter en ons het ná ses jaar rustigheid, vrede en kalmte, maar ek kan nie vir mense sê waardeur ek en my twee kinders is nie. Ek moes my huis verkoop. Ek kon nie daar bly nie.”

‘Oorlog in ons huis’

Retha onthou dat sy, Johan en hul volwasse seun die Vrydagaand van 11 Junie 2016 by vriende gaan kuier het voordat hulle kort voor middernag tuisgekom en dadelik gaan slaap het. Retha het enkele ure later wakker geskrik van die bure se hond se geblaf.

“Ek het aan my man geraak en gesê iets is nie reg nie. Hy het opgestaan en net een tree uit die slaapkamer gegee. Toe hoor ek ’n gestoei en twee skote.

“’n Oorlog in ons huis” sou daarna volg, onthou Retha.

Die verdagte, vir wie daar sedertdien ’n lasbrief uitgereik is, het daardie aand glo bo-oor Johan gestaan en verskeie skote afgevuur. Nog verdagtes elders in die huis het óók skote afgevuur. Daar sou later bepaal word dat 36 skote met drie vuurwapens tydens die aanval in die gesin se huis afgevuur is.

Nege van die skote het Johan getref, waarvan sewe in die maag.

Die verdagtes het eindelik met ’n televisie op die vlug geslaan en die egpaar se seun het hom met Johan na die Eugene Marais-hospitaal gehaas. Dit is hiér waar hy 11 weke later dood is.

“Hy het regtig geveg om te leef. Dit is asof hy wou leef,” onthou Retha.

Maroela Media het vandeesweek ’n navraag rakende die moord aan die polisie gerig en wag steeds op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Yvonne ·

As dit anders om was.?????…..nee nee is ons lewens dan minder werd….tragies ek voel so jammer vir die familie wat nie afsluiting kan kry nie

Lillian ·

Dis omdat meeste polisielede nie bevoeg is om hul werk te doen nie.

Michele ·

Ai Mnr Du Toit, my onderhoof gewees en hy was een van die bestes. Altyd langs en op die veld vir atletiek. Ek is jammer en hartseer dat niemand nog in hegtenis geneem is nie. Retha ek bid en hoop dat hul hierdie saak kan afhandel dat julle dat afsluiting kry

Nierkie ·

So moordenaars loop al vir 6 jaar rond en die polisie weet wie hulle is – maar doen niks. Die oorlewendes se lewens is tog in gevaar met die skuim daar buite – doen tog net iets SAPS.

Dries ·

Wat n riller storie. Ek vermoed die verdagtes is familie / vriende van die polisie.

Danie ·

Dit gaan nie oor bevoegdheid nie.Hulle is nie lus vir werk nie.Soek net n kar en slap chips en n koue koeldrank dan is als reg.Behoed jou as dit sy familie was dan het die staat hom begrawe ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.