Arthur Fraser vermaan OB-veiligheidshoof

Baldwin Neshunzhi (Foto: Skermgreep)

Die voormalige veiligheidshoof in die kantoor van die Openbare Beskermer (OB) is glo deur Arthur Fraser, voormalige direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA), betig nadat Busisiwe Mkhwebane oor hom gekla het.

Die parlement se artikel 194-komitee wat belas is met die proses oor die moontlike verwydering van Busisiwe Mkhwebane as OB, het Donderdag gehoor dat Fraser vir Baldwin Neshunzhi gesê het hy verskaf nie die ondersteuning waarvoor hy aangestel is nie.

Volgens Neshunzhi se getuienis het Fraser aangedui dat Mkhwebane aan die einde van 2019 gekla het oor die gebrek aan ondersteuning. “Ek het toe nie geweet presies hoe ek in my werk misluk het nie, aangesien dit nie deur die Openbare Beskermer aan my gesê is nie. Sover ek bewus was, was daar geen veiligheidskwessies nie,” het Neshunzhi gesê.

Qubudile Dyantyi, komiteevoorsitter, het duidelikheid van Neshunzhi gevra aangesien Fraser nie in 2019 by die SVA was nie, maar ʼn kommissaris by korrektiewe dienste was. Die getuie het gesê hy sal die datum moet nagaan.

Neshunzhi het aan die komitee gesê die verwagting was dat hy die oë en ore van die OB se kantoor moes wees, en dat hy Mkhwebane in die steek gelaat het. Neshunzhi het gesê dat hy deur Mkhwebane ingelig is dat daar ʼn atmosfeer van weerstand teen haar in die kantoor geheers het en hy is gevra om te kyk hoe om dit te oorkom. Hy het glo vir Mkhwebane gesê dat sy dalk nie voldoende toeganklik is vir die mense nie. Hy het voorgestel dat sy een middag moet afstaan om in die kantoor rond te gaan om mense te groet en met hulle te gesels.

Die komitee het ook gehoor dat Neshunzhi in 2018 die taak gekry het om ondersoek in te stel oor die kwessie of daar fout is met die kantoor se verlofstelsel. Hy kon egter niks fout vind nie en is glo daarna ingelig dat daar ʼn opleidingswerksessie by die SVA vir hom gereël is.

Volgens Neshunzhi het Mkhwebane vir hom ʼn verseëlde brief gegee om aan Fraser af te lewer. Hy is toe meegedeel dat hy versuim het om ʼn beweerde IT-sekerheidsbreuk behoorlik te ondersoek. Hy het gesê hy is onderwerp aan wat vir hom na ʼn skorsing gelyk het. Hy het getuig hy is in ʼn stadium vir vier maande op verlof geplaas en dat Mkhwebane vir hom gesê het dat hy by die huis moet bly totdat sy opleiding bevestig is. Neshunzhi het ook in 2018 ʼn brief ontvang waarin hy versoek is om verdere opleiding by die SVA te ondergaan.

Neshunzhi het bewerings dat hy nie behoorlik opgelei is in sekerheidskwessies nie, ontken. Hy het gesê dit is standaardpraktyk vir regeringsveiligheidsbestuurders om opleiding van die SVA te kry.

Die komitee het verder gehoor dat Neshunzhi gevra is om ondersoek in te stel oor die kwessie of dokumente van die president uitgelek is. Hy het gesê hy het vasgestel dat die dokument nie by die kantoor van die OB uitgelek is nie. Hy het gesê sy verhouding met Mkhwebane het daarna versleg.

Adv. Dali Mpofu, Mkhwebane se regsverteenwoordiger, het nadat Neshunzhi as getuie geroep is, kapsie daarteen gemaak en aangevoer sy getuienis is nie relevant nie.

Adv. Nazreen Bawa, een van die getuienisleiers, het egter gesê daar is minstens drie aspekte in Neshunzhi se getuienis wat relevant is tot die ondersoek.

Mpofu het verder aangevoer dat die komitee se sittings R1 miljoen per dag kos en dat die proses dus nie uitgerek moet word nie.

Dyantyi het egter nie saamgestem met Mpofu se bewering dat die ondersoek R1 miljoen per dag kos nie.

Die verhoor gaan vandag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Arthur Fraser is skynbaar die grootbaas van die ANC se versekeringsinstansie wat volgens ‘n joernalis van formaat, duidelik aktief is. Die baas weet alles, soos Mafia-base doen, en hy teer en veer soos nodig. Selfs Zuma & kie wat glo ook alles van almal weet en waarsku dat hulle hom moet uitlos, is nie in beheer nie. Hoe kom ons vry van so ‘n spinnekopweb? Destyds is regters se rekenaars bv ‘gekonfiskeer’ deur onbekendes wat nooit vasgetrek is nie. Ons moet besef staatskaping stu steeds voort soos miet in ‘n groot sak mieliemeel.

Wildemien ·

Wat ‘n sirkus! Al wat hierdie berig vir my sê is dat hierdie “kantoor” vir my na ‘n lekker joppie klink.

Jack ·

Ek vertrou vir frazer glad nie. Waar hy sy kop uitsteek is daar altyd vrae oor korrupsie en wanpraktyk. Hy is beslis n man met mag maar nie in belang van suid afrika nie. Eiebelang dis al. Mag hy n vroee aftrede beleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.