Arts beskuldig RGB van ‘vals inligting in verklaring’

Argieffoto (Foto: DarkoStojanovic/Pixabay)

’n Arts van Centurion oorweeg regstappe nadat die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) glo ʼn verklaring met valse bewerings oor hom uitgereik het.

Dr. Stephen Grieve se regsverteenwoordiger het Vrydag ʼn skrywe aan die RGB gerig waarin sy vra dat die raad die verklaring wat Donderdag oor Grieve uitgereik is, regstel.

Die RGB het in sy verklaring gesê Grieve is vir drie jaar geskors nadat hy tussen 2004 en 2009 miljoene rande uit sommige van sy pasiënte en familielede geswendel het. Volgens die verklaring het hy hulle oorreed om in die maatskappy Bridging Solutions (Pty) Ltd te belê. Hy was die direkteur van die maatskappy en volgens die RGB was dié maatskappy in ’n finansiële krisis.

Luidens die verklaring het die geld wat in die maatskappy belê is, altesame R22 miljoen beloop, waarvan R7,9 miljoen deur sy broer, William Grieve, belê is.

Die RGB sê ook Grieve het die geld wat in die maatskappy belê is, in sy private rekening betaal en dié geld wanbestee.

Die RBG het in sy verklaring aangedui dat Grieve op die bogenoemde drie klagtes skuldig bevind is. Die drie klagtes lui dat Grieve:

  • sy pasiënte en voormalige pasiënte oorreed het om in ʼn maatskappy te belê waarvan hy die direkteur was terwyl hy geweet het die maatskappy was in ʼn finansiële krisis;
  • geld wat in die maatskappy belê is na sy private rekening oorgeplaas het; en
  • opgetree het op ʼn wyse wat sy pasiënte en ander mense finansieel benadeel het deurdat hulle groot bedrae geld in maatskappye belê het wat daarna gelikwideer is.

Volgens Audrey Engelbrecht, Grieve se regsverteenwoordiger, is hy egter nie op die eerste van die drie aanklagte skuldig bevind nie.

Engelbrecht het aan Maroela Media bevestig dat Grieve ook nie sy familielede oorreed het om in die besigheid te belê soos die RGB in sy verklaring aangevoer het nie. Sy sê sy broer het uit eie keuse besluit om in die onderneming te belê.

Die RGB het egter in ʼn brief aan Engelbrecht – wat Maroela Media onder oë gehad het – gesê hy staan by die feite wat hy oorspronklik in die verklaring bekendgemaak het.

Na aanleiding hiervan is Grieve en Engelbrecht besig om te konsulteer om verdere regstappe teen die RGB te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hennie J ·

Die nuwe speletjie in piesangland. As jy skuldig is aan iets ongehoords moet jy dadelik prosedeer sodat jy jou gewete kan sus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.