Baanbreker-oorplantingchirurg nuwe fakulteitsdekaan by US

Prof. Elmi Muller sal na verwagting haar nuwe pos as dekaan op 1 Januarie 2022 opneem (Foto: Jan Theron Fotografie)

Die baanbreker-klinikus wat die eerste MIV-positief-na-positief nieroorplantings in die wêreld gedoen het, prof Elmi Muller, is aangewys as die nuwe Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Muller, tans hoof van beide die Algemene Chirurgie-afdeling en die Oorplantingseenheid by die Groote Schuur-hospitaal aan die Universiteit van Kaapstad (UK), volg prof Jimmy Volmink op, wie se tweede termyn ten einde loop.

Die US Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, wat in 2021 sy 65ste bestaansjaar vier, het ontwikkel tot ‘n dinamiese instelling van wêreldwye uitnemendheid en is die beginpunt vir ‘n hele aantal baanbrekersinisiatiewe vir die mediese en gesondheidswetenskappe. Muller is die eerste vrou wat as dekaan van die fakulteit aangestel word.

Muller is ’n oorplantingchirurg wat nasionale en internasionale beleid deur haar werk op MIV-positiewe pasiënte en orgaanhandel gewysig het. Haar kliniese werk en daaropvolgende navorsing het aannames oor die geskiktheid van MIV-positiewe skenkers vir oorplanting uitgedaag, terwyl haar leierskapsrol in die Deklarasie van die Istanbul-bestuursgroep ’n groot rol daarin gespeel het om die vernietigende impak van orgaanhandel wêreldwyd die hoof te bied. Sy was die eerste vrou om die Leerstoel in Chirurgie aan die UK te beklee.

Muller, wat ’n A1-gegradeerde navorser by die Nasionale Navorsingstigting (NNS) is, se werk het bewys hoe pasiënt-gesentreerde kliniese praktyk vakkundigheid kan voortdryf en daag oorvereenvoudigde sienings oor bewysgebaseerde geneeskundige en etiese regimes uit.

“Die uitdaging om een van Suid-Afrika se voorste fakulteite in geneeskunde en gesondheidwetenskappe te lei, maak my opgewonde,” sê Muller. “Ek neem ’n pos op in ’n fakulteit wat deur die harde werk en toewyding van generasies van buitengewone gesondheidsorgpraktisyns ontwikkel is, insluitende die werk van my onmiddellike voorganger, prof Volmink. Dit is ’n reusevoorreg en eer. En tog, op hierdie tydstip het Suid-Afrika oplossings nodig om die voortdurende en groterwordende gapings in die gelyke verskaffing van gesondheidsorg aan sy mense die hoof te bied. Die pandemie wat ons beleef, beklemtoon die dringendheid van die werk wat voorlê vir diegene wat in die gesondheidswetenskappe werk. Ek sien daarna uit om saam met my nuwe kollegas hierdie uitdagings die hoof te bied.”

“Dit is ’n eer om prof Muller in ons midde by die Universiteit Stellenbosch te verwelkom,” sê die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers. “Die Universiteit sien daarna uit om by haar wye ervaring, bewese prestasierekord en leierskapservaring op onder meer die gebied van die geneeskunde en gesondheidswetenskappe, te baat. Prof Muller is nie net ’n gesondheidsorgspesialis, denkleier en opvoedkundige in eie reg nie; haar akademiese aansien word ook wêreldwyd erken. Ook belangrik is dat sy erkenning geniet in ’n wye verskeidenheid nasionale en internasionale netwerke vir die gesondheidsberoepe, terwyl sy ook duidelik grondige kennis oor en insig en visie vir hoër onderwys, insluitend die gesondheidsberoepsektor en die gesondheidstelsel in Suid-Afrika, toon.”

Akademiese en professionele agtergrond

Muller het aan die Universiteite van Pretoria (MBChB) en Kaapstad (MMed en PhD) studeer en spog ook met ’n MBA van die US.

Sy het die UK se Alan Pifer-navorsingstoekenning en die Oorplantingsvereniging se Vroue in Oorplanting-heldetoekenning ontvang en is as een van die CEO Magazine se Invloedrykste Vroue in Besigheid en Regering Afrika aangewys. Sy is ’n genoot van die Amerikaanse Kollege van Chirurge asook van die Kollege van Chirurge (Suid-Afrika) en is ’n lid van die Koninklike Kollege van Chirurge (Edinburgh).

Muller is die houer van eksterne en besoekende professorskappe en ere-aanstellings by die Universiteite van Arizona en Alabama in Birmingham en is ’n erelid van die Europese Chirurgiese Vereniging. Sy is ook ’n genoot en gasvakkundige in die VSA en die Verenigde Koninkryk asook plaaslik, wat die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) insluit.

Muller is ’n produktiewe navorser met meer as 75 portuurbeoordeelde artikels op haar kerfstok, terwyl sy ook verskeie boeke en boekhoofstukke in haar vakgebied geskryf het. Sy was die president van die Suid-Afrikaanse Oorplantingsvereniging en is die inkomende president van die Oorplantingsvereniging.

Sy dien in die rade van liggame soos die Suid-Afrikaanse Kollege van Chirurge en is ’n lid van kennersgroepe soos die Verenigde Nasies se Kantoor vir Dwelms en Misdaad se kennersgroep oor die ondersoek en vervolging van handel in persone vir orgaanverwydering, die kundigheidsnetwerk van die Wêreldekonomiese Forum en die Wêreldgesondheidsorganisasie se Oorplantings-taakspan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tino ·

Welgedaan, al daai prestasies het ek nie eers geweet bestaan nie.

Ek kan nie dink dat daar n alternatiewe kandidaad met ‘n halwe kans is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.