Baanbreker-operasie: Babadogtertjie dalk eersdaags tuis

Le Sueur en Manda by klein Leah-Marie. Foto: Facebook

Le Sueur en Manda by klein Leah-Marie. Foto: Facebook

Die operasie wat die ses maande oue Leah-Marie van der Riet verlede week ondergaan het, was die eerste van sy soort in Suid-Afrika en volgens dokters ʼn groot sukses.

Manda van der Riet (26), Leah-Marie se ma, het aan Maroela Media gesê haar dogtertjie kan waarskynlik reeds Dinsdag huis toe gaan. “Sy is steeds in die hoësorgeenheid, maar dokters het gesê die operasie was ʼn groot sukses en sy herstel baie vinnig.”

Leah-Marie, Manda en haar man, Le Sueur (27), se eersteling, is op 15 Oktober met ʼn keisersnee in die lewe gebring. Sy is ʼn maand te vroeg gebore. “Die dokters het glad nie tydens my swangerskap opgemerk iets is fout nie. By geboorte het hulle gesien sy het nie ʼn borsbeen nie.”

Volgens Manda sou dit beteken dat Leah-Marie se belangrike organe soos haar slukderm en die hoofslagaar na haar hart beskadig kon word as sy ’n hou teen die bors sou kry aangesien daar geen been was om die organe te beskerm nie. “Die dokters was onkant betrap, want dit was die eerste geval in Suid-Afrika. Hulle het toetse gedoen om seker te maak haar asemhaling is normaal en om te bevestig dat sy wel nie ʼn borsbeen het nie. Hulle het toe gesien die been is aan die onderkant met ʼn baie klein stukkie geheg en dat die gaping in ʼn U-vorm was.”

Leah-Marie in die hospitaal. Foto: Facebook

Leah-Marie in die hospitaal. Foto: Facebook

Volgens Manda het dokters gewag tot Leah-Marie ses maande oud was om die operasie te doen ten einde te verseker dat sy sterk genoeg is. Die operasie is in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad onder leiding van dr. Susan Vosloo gedoen. “Hulle het die beentjie aan die onderkant in ʼn V-vorm gesny en die twee gedeeltes aan elke kant na mekaar toe getrek. Hulle het ook die boonste drie ribbes aan elke kant met 5 mm elk verleng om te verhoed dat die borskas te styf is en te sorg dat daar meer spasie vir haar organe is.”

Intussen meen dokters dat Leah-Marie ʼn normale lewe sal kan lei. “Sy is ʼn regte wonderwerkie. Die dokters en fisioterapeute gaan nog in detail vir ons verduidelik hoe ons haar mag optel en hanteer aangesien haar ribbetjies nog nie geheg is nie en ons haar nie onder haar armpies mag optel vir die volgende ses weke nie. Wanneer alles eers mooi geheg is, sal dit nie meer ʼn probleem wees nie. Die Here is so goed vir ons en dit gaan baie goed met haar.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gesiggie ·

Jy is n regte Engel… die mooiste ou gesiggie, n mesn kan nie anders as om jou net te wil vasdruk… en net soentjies gee…. Liewe Jesus het jou aan Mamma en Pappa gegee met n rede, ja jy sal n wonderwerkie wees…. al is daar nog n pad van hestel, kan n mens sommer klaar sien, jy is n vergterjie…. n regte klein Poppie, wat vir Mamma en Pappa nog baie vreugde gaan bring… So bly dat Jesus saam jul was deur als, en dat Jesus jou mooi sal oppas…. Sterkte aan jul as gesin… hoop om gou weer van klein Leah- Marie te hoor… sy is kosbaar..

Liewe lulu ·

Ek het die hoogste agting vir dr Susan. Was onder die indruk dat sy n hart spesialis is. Puik werk dr Susan. Spoedige herstel word Leah-Marie toegebid

Net So ·

Netso Liewe lulu, Dr Susan Vosloo is die amazing hart chirurg, sy is uitstekend. Wat Leah aanbetref, dit is die area waarin Dr Vosloo werk om by die hart uit te kom, wie sal beter as sy weet om hierdie klein dogtertjie ‘n volledige kans op normale lewe te gee! Wel gedaan aan die span en die klein wonderwerkie vegtertjie!

Annelize ·

Jip, Dr. Susan Vosloo is ‘n hartspesialis, en nie net sommer enige hartspesialis nie, seker DIE hartspesialis. Sy het sowat 6 jaar terug ‘n hartoorplanting op my man se broerskind gedoen, en tot vandag toe was daar geen probleme nie.
Poppie-prinses Leah-Marie kon nie onder beter behandeling gewees het nie.

John ·

Fantasties! Ons dokters is agtermekaar en ons Hemelvader se arm nooit te kort om te help nie!

Amanda Van Vuuren ·

So dankbaar daar is iewers goeie nuus in hierdie donker wereld! Die Here rule!! soos altyd…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.