Baba veilig terug by haar gesin

(Foto: Rusa/Facebook)

‘n Baba wat op 5 Maart 2022 omstreeks 22:30 glo deur haar oom uit ʼn huis in Dawncrest, KwaZulu-Natal ontvoer is, is veilig terug by haar gesin.

Sy is binne ure deur beamptes van die Reaction Unit South Africa (Rusa) gered ná haar oupa hulle gekontak het.

Die 59-jarige oupa het Rusa Woensdagoggend omstreeks 08:45 gekontak om te sê dat hy nie sy 14 maande oue kleinkind kan opspoor nie. Hy was baie emosioneel tydens sy gesprek met Rusa en het gesê sy 34-jarige dogter het 14 jaar gelede die huis verlaat toe sy begin drink en uitermatig begin kuier het. Sy het ʼn dwelmverslaafde geword. Sy het ʼn jaar later teruggekom huis toe en die geboorte van ʼn pasgebore babaseuntjie van haar gesin weggesteek. Die seun is in die sorg van bure gelaat, wat net ʼn paar meter van die grootouers se huis gebly het.

Volgens die oupa het sy bure hom laat weet dat die kind wat verlaat is, eintlik sy kleinseun is. Die grootouers het die seun in hul sorg geneem en sedertdien vir hom gesorg ná hulle toestemming by die Kinderwelsynsdiens ontvang het. Die pa van die seun is onbekend en die grootouers het geen ander finansiële hulp ontvang nie.

Die ma het weer verdwyn. Die seun is nou 14 jaar oud en het ʼn spraakgebrek.

Die oupa het gesê sy dogter het twee jaar gelede teruggekeer huis toe en kort daarna na Isipingo verhuis. Sy het weer dwelms en alkohol begin misbruik. Terwyl sy saam met haar tannie gebly het, het sy weer swanger geraak. Sy het vroeg in 2021 geboorte geskenk aan die dogtertjie. Sy het die kind by die 70-jarige tannie gelos en het weer verdwyn. Dit is nie bekend wie haar pa is nie.

Toe die tannie in Januarie 2022 gesterf het, het die oupa sy kleindogter gaan haal en haar op sy van geregistreer. Hy het weer toestemming van die Welsynsdiens ontvang om na die kind om te sien. Die baba was die afgelope twee maande in die sorg van die familie ná die ouma ook gesterf het.

Toe die familie twee weke gelede, vroeg in Maart, by sy huis in Mount Vernon bymekaargekom het, het ʼn insleepdiens-bestuurder saam met ʼn egpaar in ʼn silwerkleurige Mercedes-Benz by die samekoms opgedaag. Hy het uit die motor geklim, die familie genader en gevra om die baba te sien, soos wat hy met die dogtertjie se oom (die ma se broer) gereël het.

(Foto: Rusa/Facebook)

Die oupa het gesê hy het sy seun, wat in Ramsgate, Port Shepstone bly, gebel en hulle het oor die telefoon baklei. Die egpaar in die Mercedes-Benz het in hierdie stadium ook uit hul motor geklim en gevra om die kind te sien. Die insleepdiens-bestuurder het tussenbeide getree en hy en die egpaar is vinnig daar weg.

Die dogtertjie was op 5 Maart in die sorg van haar ma se sussie, wat in Dawncrest woon. Haar oom het omstreeks 22:30 die aand onverwags opgedaag en met die baba, haar besittings en haar geboortesertifikaat weggery. Sy is nie weer daarna gesien nie.

Die oupa het aan Rusa gesê hy glo sy is in die Mercedes-Benz ontvoer, omdat sy seun nie ʼn motor besit nie en hy het geld van die welgestelde egpaar ontvang om die kind aan hulle te oorhandig.

Toe die oupa sy seun gekontak het, het hy gesê die baba is by hom en hy sal haar op sy verjaarsdag, oor ʼn paar weke, terugbesorg. Die oupa en die familie het herhaaldelik probeer om die kind te sien, maar die oom het elke keer ʼn verskoning uitgedink. Hy het uiteindelik die familie op alle sosialemediaplatforms geblok en daar was nie weer enige kontak met hom of haar nie.

Ná onsuksesvolle pogings om haar op te spoor, het die emosionele oupa bystand van Rusa versoek.

(Foto: Rusa/Facebook)

Beamptes het Woensdagoggend om 10:00 begin om leidrade op te volg tussen Verulam en die Suidkus van KwaZulu-Natal. Die baba is uiteindelik by ʼn egpaar se huis in Reservoir Hills opgespoor. Die egpaar is nie verwant aan die kind nie en onbekend aan die familie.

Beamptes het ook die Mercedes-Benz opgespoor wat gebruik is om die kind van haar huis te verwyder.

Beamptes het die huis genader en die baba op die boonste verdieping van die huis gevind. Sy was in die sorg van ʼn ouer dame. Volgens die egpaar het hulle die kind se oom genader en versoek dat die baba aan hulle gegee word, omdat hulle nie kinders kan kry nie. Hulle het nie bekendgemaak hoeveel hulle vir haar betaal het nie.

Die oom wou beamptes mislei oor die saak en gesê die kind is in sy sorg in Ramsgate, Port Shepstone. Hy het gesê hy sal later vanmiddag ʼn video-oproep maak om dit te bevestig. Hy was nie bewus daarvan dat die beamptes reeds inligting bekom het dat die baba in Reservoir Hills is nie.

Rusa het die baba omstreeks 12:05 na haar oupa teruggeneem.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – Red. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

Die mooi dogtertjie moes kort kort nuwe mense en nuwe omgewings ontmoet. Nou moet daar mooi na haar gekyk word.

Wondermaarnet ·

Gee haar vir my en ek sal haar grootmaak met baie liefde en sorg. Hoe harteloos kan ‘n mens wees om 9 maande ‘n kind onder jou hart te dra en dan die kind net los?

Antjiepat ·

wens al hierdie meisiekinders wat so drink en dwelms gebruik kan tog net gesteriliseer word… die mooiste dogtertjie, dankie tog vir ‘n Oupa wat nog omgee

MK123 ·

Genade, wat ‘n deurmekaar spul. Mens kan byna nie kop of stert uitmaak watter karakters op watter plek in die storie inpas nie, met al die ooms en tannies en ma’s en (geen) pa’s en oumas en bure en en en… sterkte aan die kinders wat die slagoffers is van ‘n onverantwoordelike bedwelmde ma.

Miskruier ·

Daar is n prys op alles. Hoe het ons waarde sisteme nie agteruit gegaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.