‘Baie bereik, maar reis ver van verby,’ sê Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Met vanjaar se herdenking van 30 jaar se vryheid in Suid-Afrika is daar baie om te vier, maar die reis is ver van verby.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag in sy amptelike Menseregtedagtoespraak in Sharpeville gesê daar word juis hier bymekaargekom om “ons reis as ’n nasie oor die afgelope 64 jaar na te speur, van ’n toestand van diskriminasie en onderdrukking na ’n land van demokrasie en vryheid”.

Die president meen daar is baie om te vier. “Miljoene Suid-Afrikaners is uit erge armoede gelig. Agt uit elke 10 huishoudings het behoorlike behuising. Nege uit elke 10 huise het elektrisiteit en toegang tot skoon drinkwater. Suid-Afrikaners leef langer. Baie minder vroue sterf tydens kindergeboorte en baie minder kinders sterf in kinderskoene. Meer kinders uit arm gesinne voltooi skool, slaag matriek en gaan voort om aan universiteite en kolleges te studeer.”

Volgens Ramaphosa is dit moontlik gemaak deur daarop te fokus om die ongeregtighede van die verlede reg te stel.

“Terwyl ons reis oor die 64 jaar sedert die Sharpeville-slagting merkwaardig was – en terwyl ons groot veranderinge in die lewens van Suid-Afrikaners gesien het in 30 jaar van demokrasie – is ons reis nog lank nie voltooi nie.”

Soos die volgende dekade van vryheid begin, moet daar volgens Ramaphosa gestreef word om nie net die regte van almal in die land te beskerm nie, maar om te verseker dat almal die gelyke beskerming en die gelyke voordeel van hierdie regte kan geniet.

“Ons moet voortgaan met ons werk om die ongeregtighede van die verlede reg te stel en erkenning te gee aan diegene wat deur onbillike diskriminasie benadeel is. Ons moet ons ekonomie transformeer sodat alle mense kan deelneem en sodat almal kan baat, sodat almal in die land se rykdom kan deel.”

Volgens Ramaphosa beteken dit daar moet voortgegaan word om beleide van swart ekonomiese bemagtiging te implementeer, om klein besighede en swart nyweraars te ondersteun, om diensbillikheid te bevorder, en om openbare en private verkryging te gebruik om verskaffers in swart en vroue se besit te bemagtig.

“Dit beteken dat ons grondhervorming moet versnel en aan opkomende boere die hulpbronne en ondersteuning moet verskaf wat hulle nodig het om produktief en volhoubaar te wees.”

Ramaphosa het gesê terwyl daar teruggekyk word op 30 jaar van vryheid en dekades se stryd vir basiese menseregte, “moet ons erkenning gee aan die groot vordering wat ons gemaak het”.

“Deur saam te werk, as ’n verenigde nasie, het ons ’n demokrasie gebou wat die gelyke waarde van elke persoon erken. Ons het ’n samelewing gebou waarin almal ’n gelyke verwagting het dat hul regte gerespekteer en geag sal word. Ons het hierdie lang reis saam afgelê. Maar ons het nog verder om te reis en nog baie meer om te doen voordat almal op gelyke vlak die fundamentele vryhede kan uitoefen wat regmatig hulle s’n is. Laat ons op hierdie Menseregtedag aan onsself en mekaar belowe dat ons daardie pad saam sal stap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Danie ·

N reis van verwoesting dit is die ANC se reis van die afgelope 30 jaar.

Danie ·

Waar kry hierdie man die syfers.
Al wat die anc bereik het is om af te breek en te plunder.

Nie Verbaas ·

Ramaphosa jy het geen integriteit nie. Jy staan openlik en lieg om stemme te werf. Toegang tot die land se rykdom is net vir n uitgesoekte groep beskore. Mense kripeer en jy lewer die toespraak wat op leuens gebou is.

Henk ·

Ek het so bietjie van sy toespraak oor die radio geluister. Hy het onder andere gepraat van mediese dienste wat nie vir hul gegun was nie en ook nie skool opleiding ontvang het nie. Ek wonder maar net oor al die hospitals wat vir opgerig was en wie het wie se skole geplunder en afgebrand? Hy vertel net ‘n klomp stories wat sy mense wil hoor.

Pieter francois ·

Hy lieg so hard hy glo homself arme drommel en ry nog steeds die perd van apartheid niks is op gebou nie alles is vernietig

Papsak ·

Ja ek stem hy lieg weer goed daar hulle niks reg gemaak of op gebou in die 30 jaar nie bitter baie verwoes o ja !!!!!!

Ore ·

8 uit 10? So agbare Rampposa, u kyk verby die plakkerskampe, Ja ,almal het water,,,,wat julle in tenkwaens aanry en ja, almal het elektrisiteit waarvoor nie betaal word nie. Hoeveel skole het nog put toilette? Hoe lyk veral dorpe se infrastruktuur? U en u ministers leef lekker. Hoe voel u as u eenmaal elke vier jaar woongebiede besoek om T hemp en kospakkie uit te deel en dan die absolute wanhoop te sien van mense wat ANC getrou ondersteun en glo? As u saans aan ‘n heerlike gekookte maaltyd smul en die armes met skaars brood op die tafel moet klaarkom? U roem op die toelaes wat uitgedeel word, pleks ondersteun u die privaatsektor om werk te skep.

Wondermaarnet ·

Wat is daar om te vier? Is agteruitgang vir die ANC ‘n prestasie?

Christine ·

Die man praat met ‘n gevurkte tong uit die hel van kommunisme. Hoe is dit dat hy wegkom daarmee, gaan my verstand te bowe.

minnie muis ·

en vertel jy vir die massas dat jy en dlamini zuma onder afria se biljoeners is ? begin jou eiegeld uit te deel waarvoor die tax man betaal het ?

Sobymykoolkop ·

En die gepeupel juig en klap hande en jil want hulle glo jou
” waarheid” .Ek wens, NET belastingbetalers kon stem.

Jacobus ·

“Ons het rondgekyk en daar is areas wat ons nog nie verwoes het nie!” Sowat van “election speak” maak jou siek

Hendrik ·

Om hom te glo is die algehele toppunt van onkunde en om te besef hul bepaal ons en ons kinders se toekoms.

Amelia ·

Hoeveel plekke is sonder water beurtkrag skole nee wat rampie anc het land n ramp verander

domheks ·

Opskrif moet lees “Baie opgeneuk.” Prasa, Eskom, SAUK, Poskantoor, Denel, ens, ens….

Di ·

Die man lieg si baie dat hy homself al glo! Na 30 JAAR sit almal dieper in armoede as ooit tevore. AL wie ryk geword het is die skelm ANC Regering. Dit is skokkend dat die meerderheid nog steeds al die gemors glo wat hy praat. The proof is in the pudding, bewys aan ons wat in 30jaar VERBETER het, niks!

Republikein in die Wes Kaap ·

Soos Abraham Lincoln destyds gesê het “You can fool all the people some of the time and some of the people all the time, but you cannot fool all the people all of the time.”

Psyggie ·

My Pa en sy broers was bouers. Daar was talle skole vir hulle gebou. Uitsoek skole met van die beste toegeruste laboratoriums en klaskamers..
Net om verbreek en gevandaliseer te word.
Herstel geword deur die Departement, net om weer verniel te word…
Dit is so jammer hulle is nie meer hier om te vertel hoe dit gegaan het nie.

skurweberg ·

Jou vuis wys na bo. Wie se gesag daag jy nou eindlik uit? Your fist is pointing up. Whose authority are you finally challenging?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.