Baie minder van dié olifante in Afrika

‘n Foto van olifante in reënwoude by Langoue Bai in die Ivindo nasionale park. (Foto: Amaury Hauchard / AFP)

Dekades van stroping en vermindering van natuurlike habitatte het tot gevolg dat olifantbevolkings reg oor Afrika drasties afgeneem het. Natuurbewaarders waarsku dat een spesifieke olifantspesie wat in reënwoude voorkom, op die rand van uitwissing staan.

Volgens die internasionale vereniging vir die behoud van die natuur se lys van bedreigde spesies, het die getal olifante in reënwoude reg oor Afrika die afgelope 30 jaar met 86% afgeneem. Syfers het veral skerp begin daal toe stroping van olifante vir hul ivoortande in 2008 begin toeneem het. Dié olifante word nou beskou as “kritiek bedreig”, wat ʼn blote tree weg van uitwissing is.

Die bevolking van die Afrika-savanna-olifant het ook die afgelope 50 jaar met ten minste 60% afgeneem. Hierdie spesie word nou amptelik as bedreig beskou.

Olifante in Afrika is voorheen as kwesbaar, maar nog nooit as bedreig beskou nie. Slegs ʼn halfeeu gelede het 1,5 miljoen olifante in Afrika rondgeloop. ʼn Meer onlangse opname in 2016 het egter getoon dat slegs omtrent 415 000 olifante oor is.

‘n Foto van olifante in reënwoude by Langoue Bai in die Ivindo nasionale park. (Foto: Amaury Hauchard / AFP)

“Dit is ʼn drastiese afname in olifantgetalle. Dit behoort ernstige gevaarligte te laat flikker,” het Benson Okita-Ouma van die organisasie Save the Elephants gesê. Hy sê hoewel olifante nie oornag gaan verdwyn nie, behoort hierdie afname in getalle as ʼn duidelike waarskuwing te dien dat indien ons nie iets doen om dit te keer nie, dié diere kan uitsterf.

Woudolifante word aangetref in die tropiese oerwoude van Sentraal-Afrika en in verskeie habitatte in Wes-Afrika. Die grootste olifantbevolking is tans in Gaboen en die Republiek van die Kongo. Die savanna-olifant verkies oop vlaktes en word in ʼn verskeie gebiede in Afrika suid van die Sahara aangetref.

Okita-Ouma sê die verwoesting van olifante se natuurlike habitat om plek te maak vir landbougrond en ander aktiwiteite, speel ook ʼn groot rol in die uitwissing van olifantspesies. Hy sê die Covid-19-pandemie het wel daartoe gelei dat daar minder menslike aktiwiteite in olifante se natuurlike beweegruimtes was en olifante kon dus dié gebiede terugeis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pieter ·

Tyd om die mens se getalle na kwesbaar af te bring. Daar is te veel kanonvoer.

JM ·

As gierigheid oorneem, verteer dit goeie oordeel om die natuur te respekteer en te bewaar. Hierdie stropers is nes sprinkane: sal nie ophou tot alles vernietig is nie!

Karina ·

Olifante is sulke pragtige statige diere (as hulle rustig is bygesê) Ek dink dit is aaklig dat die mensdom die mooi wilde diere uitroei, so ook die Renoster. Die mens spesies met hul geld gierigheid vernietig alles.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.