Bain mag dekade lank geen SA staatskontrakte kry

Hoofregter Raymond Zondo, tydens sittings van die kommissie van ondersoek na staatskaping. (Foto: Karen Sandison/ANA)

Die konsultasiefirma Bain & Co. word nou ook in Suid-Afrika verbied om kontrakte met die staat aan te gaan.

Die nasionale tesourie het die verbod van September vanjaar tot September 2032 ingestel.

Op sy databasis van beperkte diensverskaffers, word die rede vir die beperking aangedui as “betrokkenheid in korrupte en bedrieglike praktyke in mededinging” vir ʼn kontrak met die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Die Britse regering het die maatskappy verlede maand ook verbied om drie jaar lank vir enige regeringskontrakte te tender nadat sy rol in staatskaping in Suid-Afrika aan die lig gekom het. Die Britse kabinet het toe gesê “nadat Bain se rol in die beweerde staatskaping en korrupsie deur die voormalige regering van Suid-Afrika hersien is – met inagneming van die bewyse en gevolgtrekkings wat deur die kommissie na staatskaping gemaak is – het die minister van regeringsdoeltreffendheid Bain aan wangedrag skuldig bevind”.

Die regering het Bain in die 2015-’16-boekjaar aangestel om die SAID reg te ruk.

Die aanvanklike kontrak sou slegs ses weke lank en in huidige waarde sowat $150 000 (R2,5 miljoen) beloop. Dit is egter twee jaar lank uitgerek en het eindelik meer as $9 miljoen (R150 miljoen) gekos.

Die kommissie na staatskaping, onder leiding van hoofregter Raymond Zondo, het bevind dat Bain met oudpres. Jacob Zuma saamgesweer het en dat Zuma volgens die kommissie by ʼn skema betrokke was om die inkomstediens te ondermyn.

Bain het vantevore al gesê hy aanvaar daar was leierskap- en bestuursgapings en dat Bain ʼn onwetende deelnemer geword het in ʼn proses wat ernstige skade aan die SAID aangerig het.

Volgens die maatskappy ontken hy dat sy verteenwoordigers egter wetend deelgeneem het aan ʼn proses om die inkomstediens skade te berokken.

Die maatskappy het erken hy het “foute” begaan, maar dat hy geen rede, finansieel of andersins, gehad het om die SAID skade aan te doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie ·

Dan moet die hele vrot ANC ook mos met geen ander maatskappy sake doen nie…

Manie ·

Christel se matesis laat haar in die steek, dit moet 2032 wees.

Megan Swart ·

Dagsê Manie
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Wondermaarnet ·

Almal weet hulle sal met ‘n ompad deur ‘n ander maatskappy tenders bekom met vriende/familie wat optree as direkteure van die maatskappye.

Delia ·

Wat van nooit weer nie. Van 2 mil tot 150mil. Ek het verkeerde wiskunde op skool geleer want die som klop nie.
EN NIEMAND VERMOED ONRAAD

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.