Bathabile moet ‘steeds antwoord’ selfs ná OB-verslag

Bathabile Dlamini. Foto: GCIS/Flickr

Die DA sê die voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini, moet steeds vrae beantwoord, selfs al hét die Openbare Beskermer (OB) bevind sy het die parlement nie doelbewus mislei nie.

“Ondanks die bevindings van die verslag meen die DA steeds dat Dlamini verantwoordbaar gehou word omdat sy die inkomste van miljoene Suid-Afrikaners in die gedrang gebring en die land na die rand van ʼn krisis gestuur het,” het Bridget Masango, die DA se woordvoerder van maatskaplike ontwikkeling, gesê.

Die DA het die OB gevra om ʼn ondersoek te doen nadat Dlamini gesê het die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) gaan gereed wees om die verspreiding van maatskaplike toelae vanaf 1 April 2017 te hanteer.

Minder as ʼn jaar later het Sassa-amptenare die parlementêre komitee oor maatskaplike ontwikkeling ingelig dat sy versuim het om ʼn alternatiewe diensverskaffer vir Cash Paymaster Services (CPS) te vind.

Mkhwebane het in haar verslag, wat Woensdag vrygestel is, bevind: Gegrond op die inligting en bewyse wat sy ontvang het, kon sy “geen bevinding maak oor die bewering dat [Dlamini] die parlement doelbewus mislei of die uitvoerende etiekkode oortree het nie”.

Maar Masango, wat die klagte by die OB ingedien het, glo Dlamini het steeds talle vrae om te beantwoord.

Dít sluit in klagte van meineed wat in Oktober verlede jaar teen die oudminister aanhangig gemaak is, asook strafregtelike klagte wat vroeër vanjaar ingedien is nadat Dlamini beweer het sy is bewus van vroue van ANC-lede wat glo betrokke was by twyfelagtige transaksies met CPS.

“Dlamini is berug daarvoor dat sy onwillig is om voor die parlement te verskyn, of dit nou is om mondelinge vrae te beantwoord of komiteevergaderings by te woon. Die portefeuljekomitee het selfs ʼn dagvaarding oorweeg om haar te dwing om te verskyn,” het Masango gesê.

“Dlamini het hopeloos gefaal in haar rol as hoof van maatskaplike ontwikkeling en het Suid-Afrikaanse vroue in die steek gelaat. Sy moet in die hof gaan verantwoording doen. Ons gaan die inhoud van die verslag bestudeer en met ons regspan oor die meriete daarvan beraadslaag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wondermaarnet ·

Word alweer beskerm deur die kaders. Natuurlik moet sy verantwoording doen vir haar onverantwoordelike dade.

Domvraag ·

Is hierdie nog n verslag waar die regter sal vind dat die verslag ver te kort skied en wys dat die OB eintlik onbekwaam vir hierdie werk is.?

Anoniem ·

Ek hoop van harte so! Nog skietgoed om van die huidige (partydige) OB onslae te raak – hoe gouer, hoe beter.

humor ·

Ons sal graag wil weet wat het van die saak van dieremishandeling, gepleeg deur n hoe agbare amptenaar, geword. Die saak waarin talle varke dood is en selfs aan die dooies begin vreet is.

Daan Erasmus ·

Dit sloer nou al jare. As dit Eben Etzebeth was dan handel ons dit in ‘n week. Af.

Leon ·

Natuurlik kan die OB haar nie vervolg nie. Dit twee doen inkopies saam en besoek die spas en skoonheids salonne saam en eet sam, so hoekom sal jy jou vriendin sommer so drop.
A nee a. Pêlle is pêlle.

Vicci ·

Public Protecter clearly shows which side of the ANC faction she is in favout of….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.