Bedreigde wildehonde doelbewus doodgemaak

Minder as 660 troppe wildehonde is op die vasteland oor en daar is minder as 300 volwasse diere in Namibië.

Die Jagluiperdbewaringsfonds (CCF) sê hy het die afgelope ruk ʼn toename in konflik tussen mense en wildehonde in die ooste van Namibië ondervind.

Die nieregeringsorganisasie sê in die jongste voorval is die karkas van ʼn wildehondjie op ʼn pad gevind nadat die dier glo “doelbewus doodgery is”.

“Volgens inligting wat by die departement van omgewingsake, bosbou en toerisme (MEFT) aangemeld is, het die hondjie se trop ʼn jong teelkoei in die omgewing doodgemaak. Die optrede was in weerwraak hiervoor,” het die CCF in ʼn verklaring gesê.

Volgens die organisasie is pogings om die diere dood te maak ook algemeen in Namibië se Bwabwata-wildtuin, asook in Suid-Afrika en Zimbabwe.

Die hondjie was deel van ʼn trop van vermoedelik vyf volwasse honde en vyf of ses klein hondjies wat sowat drie maande oud is. Werkers van die CCF se Karnivoorkonflikveldstasie in die ooste van die land hou die troppe se bewegings dop om enige konflik tussen mens en dier vroegtydig te probeer verhoed.

“Ernstige droogte die afgelope paar jaar het gelei tot verhoogde spanning tussen vee- en wildboere jeens jagluiperds en wildehonde, veral in die gemeenskaplike gebiede.

Wildehonde is ‘n kritiek bedreigde spesie.

“Terwyl jagluiperds en wildehonde albei skaars is, is die gebied die tuiste van ʼn paar oorblywende wildehondtroppe – ʼn krities bedreigde spesie. Tensy meer bewustheid gekweek word, gaan dié soort konflik tot die spesie se uitsterwing lei.”

Minder as 660 troppe wildehonde is op die vasteland oor en daar is minder as 300 volwasse diere in Namibië. Die meeste van dié diere swerf buite beskermde gebiede.

Nadja le Roux, ʼn gemeenskapskoördineerder by die CCF, sê die spesifieke trop het na ʼn aangrensende gemeenskaplike plaas geskuif nadat die hondjie doodgemaak is. Die boer op dié plaas help die organisasie om die trop, wat hulle waarskynlik binnekort elders gaan tuismaak, dop te hou.

“Samewerking tussen boere het verbeter sedert die CCF ʼn snelreaksiespan ontplooi het en ʼn kommunikasienetwerk tussen boere op die been gebring het. Hulle deel inligting oor konflik met die diere asook die trop se bewegings met mekaar en dit dien as ʼn vroeë waarskuwingstelsel wat gemeenskappe mobiliseer om voorkomingsmaatreëls te tref om kwesbare kalfies te beskerm,” het Le Roux gesê.

Sy sê die CCF werk al jare lank saam met die departement in gemeenskappe in die Omaheke- en -streke in Namibië om bewaringsgebiede te versterk. Dit sluit ook plase van die Otjinene- en Okakarara-gemeenskappe in.

Die gebiede grens aan mekaar en bestaan uit losstaande plase, plase waar mense hervestig is, asook gemeenskaplike boerderye. Om konflik te verminder het die CCF ook opleidingskursusse aangebied wat niedodelike maniere om wildlewe te beheer, ingesluit het.

“Ons wil mense daaraan herinner dat die CCF daar is om boere te help om probleme met karnivore wat die Namibiese landskap met hulle deel, te bestuur,” het dr. Laurie Marker, CCF-stigter en uitvoerende hoof, gesê.

Die organisasie se ander programme, soos om troeteldiere teen hondsdolheid te ent, het ook beteken groot gedeeltes van die Namibiese bevolking wat konflik met wildehonde ondervind, kon bewus gemaak word van maniere om in vrede met wilde diere saam te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Adam Adriaan ·

Dit is darm vreeslik hoe mense se koppe raas. Dink nie verder as wat hulle neuse lank is nie.

Rudolph ·

Die dieretelers sal nie rus voordat elke wildedier wat hulle kuddes bedreig uitgeroei is nie. Plaasdiertelery (ook bekend as diereboerdery) is wêreldwyd een van die grootste oorsake van inheemse spesie uitwissing, habitat vernietiging, oppervlak en grondwater besoedeling en kweekhuisgas besoedeling. Plaasdiere gebruik ongeveer 66% van die eetbare fitomassa om slegs 13% van kalorië te voorsien. Wilde diere verteenwoordig by massa slegs 4% van alle diere op die planeet terwyl plaasdiere 80% verteenwoordig en mense slegs 16% . Dit verklaar hoekom die meer as 40 biljoen plaasdiere so groot bedreiging inhou vir die omgewing en inheemse diere. Die ironie is dat ons glad nie plaasdiere nodig het nie want alles wat ‘n plaasdier voorsien is direk beskikbaar uit plante.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.