‘Beduidende vordering’ met spoornetwerk ná oorstromings

Groot vordering is reeds gemaak met die herstel van die spoornetwerk. (Foto: Transnet)

Beduidende vordering word gemaak met die herstel van die spoornetwerk in KwaZulu-Natal nadat die jongste oorstromings reuseskade aan infrastruktuur aangerig het.

Die herstelwerk fokus onder meer op 11 gebiede tussen Durban en Cato Ridge waar groot skade aan die spoornetwerk aangerig is, die herstel van gedeeltes van Bayheadweg waar 60 m van die pad ineengestort het, die skep van ʼn nuwe toegangsroete na die Durbanse hawe en instandhouding van spoorlyne wat versnel is.

Transnet-spoorvragvervoer (TFR) het Maandag danksy die grootse herstelpogings ʼn enkellyn op die vraghouerroete tussen Durban en Cato Ridge heropen. Bedrywighede op die roete moes op 11 April weens skade aan die netwerk opgeskort word.

Die departement van openbare ondernemings sê dit beteken dat spoorbedrywighede op die vraghouerroete – ʼn sleutel- ekonomiese sentrum wat vrag tussen Gauteng en Durban vervoer – nou op die lyn hervat kan word.

Bykomende kapasiteit sal in September op die hoofroete beskikbaar wees, wanneer herstelwerk aan die tweede lyn na verwagting afgehandel sal wees en dit weer vir spoorvervoer oopgestel kan word.

Uitbreiding, instandhouding

Bayheadweg het ook kwaai deurgeloop tydens die oorstromings en gedeeltes van die pad, wat na die Durbanse hawe se vraghouerterminale en die Island View-kompleks lei, is heeltemal weggekalwe.

Die eerste gedeelte van die herstelprogram is binne enkele dae afgehandel en een baan in albei rigtings is oopgestel. Teen die begin van verlede maand is ʼn derde baan bygevoeg.

Om toekomstige opeenhopings te verhoed, is ʼn alternatiewe verbypad wat na die vraghouerterminaal en Island View-kompleks lei, nou ook geïdentifiseer. Heelwat werk is reeds gedoen om die pad voor te berei as nuwe toegangsroete. Treinspore is verwyder en die gebied is ontbos, terwyl grondverskuiwingswerk en die plasing van basislae nou gedoen word.

Bouwerk aan die alternatiewe roete sal na verwagting teen die einde van November afgehandel word.

TFR verskuif tans ook vragte wat tydelik gestoor is nadat dit tydens die oorstromings nie hul bestemmings kon bereik nie, tussen Durban en Cato Ridge. Dié verskuiwings sal na verwagting teen die einde van die dag afgehandel wees, waarna verkeer tussen City Deep en Durban hervat kan word.

Die heropening van die spoorlyn het ʼn werksmag van 2 673 mense geverg wat 1 924 560 ure oor 60 dae gewerk het om die mylpaal te bereik. Altesame 90% van die rehabilitasiewerk is intern gedoen, terwyl die oorblywende 10% van werk uitgekontrakteer is.

TFR het die tyd ook gebruik om die jaarlikse sluiting van die vraghouerroete vir instandhoudingswerk met drie maande te vervroeg. Altesame 98% van beplande werk is suksesvol afgehandel en die departement sê die instandhoudingswerk gaan lei tot ʼn beduidende verbetering in die doeltreffendheid en betroubaarheid van infrastruktuur, die hernuwing van die netwerk, die verwydering van spoedbeperkings, die voorkoming van diefstal en die veerkragtigheid van die netwerk tydens gure weer.

“Die herstel van die skade wat deur die oorstromings in KwaZulu-Natal aangerig is, sal in- en uitvoerders wat die Durbanse hawe gebruik, toelaat om weer na normaal terug te keer en Transnet sal werk om te verseker dat alle skeepsmaatskappye voortgaan om die Durbanse hawe te bedien,” sê die departement.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.