Beendere in Bethelsdorp gevind

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

Speurders van die Bethelsdorp-polisie in die Oos-Kaap versoek die gemeenskap se hulp om die identiteit van ʼn persoon te bepaal ná ʼn skelet in die gebied gevind is.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn veewagter het op 23 Desember 2019 omstreeks 18:45 tussen Chatty 11 en huise in die omgewing koeie opgepas. “Hy het gesien ʼn rondloperhond is besig om iets te eet. Toe hy ondersoek instel, het hy gesien die hond is besig om aan ʼn kopbeen te kou.”

Die veewagter het dadelik die polisie ontbied en nog beendere is in die gebied gevind.

“Die persoon is waarskynlik aan die brand gesteek, aangesien nog bene in ʼn vlak graf gevind is – wat gebrand het. Die beendere is vermoedelik ʼn maand oud,” het Naidu bygevoeg.

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord.

Die ras, geslag en ouderdom van die slagoffer kan nog nie bepaal word nie, weens die aard van die geraamte. Die beendere is vir DNS-analise gestuur.

Die liggaam van ʼn vrou wat op 23 Januarie 2020 in ʼn rivier in Bethelsdorp gevind is, is ook nog nie uitgeken nie. Sy is vermoedelik tussen 14 en 20 jaar oud en het ʼn tatoeëermerk aan haar regterkuit met die naam “Shelain” of “Helain”. Sy het ʼn pienk japon aangehad. Die polisie ondersoek in hierdie geval ook ʼn saak van moord.

Enigiemand met inligting of wat vermoed dat iemand al minstens ʼn maand lank vermis word, word versoek om sers. Tandiswa Nobebe te kontak by 067 403 1910 of SAPD-Bethelsdorp by 041 404 3005.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

lollapot ·

Uiters tragies dat die liggaam van die meisie met die pienk japon nog nie opgeeis is nie. . .
Volgens Crime Stats SA lyk Bethelsdorp na enige krimineel se droom. Moorde het ge eskaleer van 66 in 2010 na 143 in 2019!

VanAfrika ·

Hoe weet jy nie waar jou kind van tussen 14 of 20 jaar oud is nie. Sy is haar japon vermoor, hoe kan die ouers nie sien sy was nie die oggend in haar bed of by die ontbyt tafel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.