Begrafnisfederasie steun nié landwye staking

(Foto: pixabay)

Die begrafnisfederasie van Suid-Afrika (FFSA) het Maandag gesê hy steun nie die begrafnisbedryf se landwye staking nie.

Die FFSA sê in ʼn verklaring hy steun nie die optrede nie omdat dit volgens hom mense in die steek gaan laat.

“Die begrafnisbedryf is ʼn noodsaaklike diens wat daarop gerig is om lede van die publiek in hul belangrikste uur van nood te help. Sommige van die kliënte, indien nie almal nie, is al dekades lank getroue kliënte van verskillende ondernemings. Ons kan hulle nie in die tyd wat hulle ons die nodigste het, in die steek laat net omdat ons probleme met die regering het en hoe ons bedryf gereguleer word nie,” het die FFSA gesê.

Maroela Media het vroeër berig die bedryf het versoeke aan die regering oor die regulasies wat die bedryf beheer, gerig, maar dit het op dowe ore geval. Dit het daartoe gelei dat die bedryf besluit het om van Maandag tot Woensdag aan ʼn landwye staking deel te neem.

Duisende ondernemers sou na verwagting Maandag begin staak. Hulle sou glo onder meer nie liggame by private of openbare instellings gaan afhaal nie.

Een van die bedryf se versoeke is dat die uitkontraktering van lykshuisgeriewe erken en gewettig moet word. Daarby vra die bedryf ook dat munisipale bepalings gewysig moet word om voorsiening te maak vir sogenaamde trosberging.

Die regering word ook deur ondernemers daarvan beskuldig dat hy sekere begrafnisondernemings selektief vir staatsbegrafnisse aanstel.

Die federasie sê hy aanvaar dat die eise wat aan die regering gestel is, redelik is en dat dié versoeke lank reeds knelpunte vir die bedryf is.

“Dit is jammer dat ons ʼn regering het wat soms hardhorend is en dat die burgery tot desperaatheid gedryf word voordat enige betekenisvolle stappe gedoen word,” het die federasie gesê.

Die federasie sê die beoogde staking sal vreedsaam verloop.

“Ons keur geen dreigemente van geweld en intimidasie wat op sosiale media die ronde doen, goed nie. Ons moedig al ons geaffilieerde lede aan om versigtig te wees en niemand uit te lok nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gerrie ·

Hulle moet oppas. Wat gaan van hul besighede word as die mense op die ‘n driejaar sterftestaking gaan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.