Begrotingsbesnoeiings wys Bela is ‘onwenslik, onuitvoerbaar’

skool-skoolbank-klaskamer-deltaworks.jpg

Argieffoto (Foto:
Deltaworks/Pixabay)

AfriForum is sekerder as ooit dat die wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) nie net onwenslik nie maar ook onuitvoerbaar is.

Alana Bailey, AfriForum se hoof vir kultuursake, sê die begrotingsbesnoeiings wat die Wes-Kaapse departement van onderwys tans onderneem is tekenend daarvan.

Die land se finansiële en fiskale kommissie het in Maart vanjaar in ʼn voorlegging aan die Wes-Kaapse wetgewer aangedui dat ʼn addisionele begroting van sowat R17,7 miljard nodig sal wees om die bepalings van die wetsontwerp in werking te stel.

“Terwyl die land se onderwysbegroting sodanig besnoei word dat noodmaatreëls soos die beëindiging van onderwyskontrakte geneem word, is dit ondenkbaar dat hierdie aanvullende las op die begroting gelaai kan word,” sê Bailey.

Volgens Bailey sal ʼn inkrimpende onderwysbegroting openbare skole verplig om selfs nog nouer met hulle leerders se ouers en gemeenskappe saam te werk. “Tans dra ouers en gemeenskappe hulle skole omdat hulle deur die demokraties verkose beheerliggame aktief deel van die bestuur en werksaamhede daarvan is.

“Indien hulle finale seggenskap oor onder meer skole se toelatings- en taalbeleid egter voortaan in die hande van provinsiale onderwyshoofde moet berus, soos die wetsontwerp voorstel, kan hierdie kosbare verhouding verbrokkel.

“Dit sal die finansiële las op skole vererger, sê Bailey. “Dit is duidelik dat die wetsontwerp nie hierdie heilsame verhouding probeer bevorder nie, maar slegs op die magsuitbreiding van amptenare fokus. Dit alles geskied ten koste van die toekoms van ons jeug.”

AfriForum doen nou weer ʼn beroep op die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) om die wetsontwerp te verwerp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

BELA, NGV, Onteining sonder vergoeding. Dit is strooihalms waarna die regering gryp om in beheer te bly. Praat egter met mense van alle rasse, dan sal julle agterkom dat die mense dit ook so sien. Dis ‘n Afrika ding, en dan is die laaste stap as ‘n regering ‘n verkiesing verloor, ‘n staatsgreep of oorlog.

Amelia ·

Die regering maak soos hulle wil. Tans is daar baie privaatskole maar net die welgesteldes kan dit bekostig. Ek dink ouers en ander belanghebbendes sal moet nuwe skole op die been bring wat as nie-winsgewende organisasies bedryf word sodat dit meer bekostigbaar kan wees en ook onafhanklik van die regering se knaende inmengery bedryf kan word.

skurweberg ·

Nou verstaan ons wat die subtiele aanslag is, waaroor ons reeds jare praat en wonder. Nie wapens nie maar die geskrewe woord. Kom ons vergeet dit nie. Beveg die vyande met woord teen WOORD. Ons is anders, ons Wapens is anders. Beproef dit en sien wat sal gebeur.

Wikkie ·

En dít is waarom ek trotse lid van beide Afriforum en Solidariteit is. Dankie Afriforum. Julle het my ondersteuning, finansieël en andersins.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.