Begrotingsrede: Groei, groei, groei

Enoch Godongwana, minister van finansies. (Foto: GCIS)

Ekonomiese groei behoort die regering se heel grootste prioriteit te wees wanneer sy begroting opgestel word.

Só het dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep, in aanloop tot Enoch Godongwana, minister van finansies, se begrotingsrede Woensdag gesê.

Een van die maniere om dié doelwit te bereik, is om die geldkrane toe te draai wat die salarisse van staatsamptenare in oorbodige poste betaal.

Hokaai met staatsamptenare se salarisse

Botha sê die verwagting moet egter nie wees dat die regering, wie se salarisrekening sy grootste uitgawe is, sy mense minder gaan betaal nie.

“Dit gaan beslis nie gebeur nie.

“Wat wel dringend moet gebeur, is ʼn forensiese oudit van poste wat geensins tot ekonomiese groei bydra nie en wat oor die jare oorbodig en irrelevant geword het. Daar word te veel mense in die openbare sektor betaal vir werk wat eenvoudig nie gedoen word nie.”

Volgens Botha kan dié probleem toegeskryf word aan die kaderontplooiingsbeleid wat in oudpres. Jacob Zuma se jare as president ingestel is.

Dit het natuurlik met nepotisme gepaardgegaan wat gelei het tot die aanstelling van mense wat nie oor die nodige vaardighede, kwalifikasies of ondervinding beskik nie. Baie van dié mense sit egter steeds in nuttelose poste terwyl die belastingbetaler vir hul salarisse moet opdok.

“Hulle voeg nie waarde tot die ekonomie toe nie, maar hulle word met belastingbetalers se produktiewe inkomste, wat belas word, betaal.

“Dit is eenvoudig verkeerd. Daar behoort ʼn behoorlike forensiese ondersoek saam met werkstudiebeamptes gedoen te word. Die probleem is erger as wat ʼn mens dink. Daar moet groot ondersoek ingestel word na produktiwiteit in die openbare sektor in Suid-Afrika.

Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep. (Foto: Verskaf)

“Hierdie mense [in oorbodige poste] moet herontplooi word of daar moet vir hulle pakkette aangebied word.”

Botha sê indien die regering wegskram van hierdie werklikheid, sal Suid-Afrika net aanhou voortploeter met ʼn groeikoers van 1% – “as ons gelukkig is”.

“Die goeie nuus is dat daar wel met ʼn proses begin is om die CV’s van mense op bestuursvlak in sommige staatsdepartemente te oudit. Wat my egter irriteer, en wat elke belastingbetaler behoort te irriteer, is dat daar nie vorderingsverslae is nie.

“Die begrip van public finance word ook soms verdraai. Daar word gepraat van staatsgeld, terwyl dit eintlik openbare geld moet wees. Die staat kry sy geld by ons, die belastingbetaler. In ʼn demokrasie het belastingbetalers die volste reg om te weet wat die staat met hulle geld doen – tot in die fynste besonderhede.”

Geld vir infrastruktuur, privatisering belangrik

Botha sê wel dat Godongwana een van die bekwaamste ministers is wat die land nog gehad het.

“Hy is bewus daarvan dat die regering nie te veel geld kan uitgee nie. Met ʼn bietjie geluk sal hy tog besteding aan infrastruktuur verhoog. Dis hoe jy die ekonomie aan die groei gaan kry.”

Privatisering is nog ʼn belangrike kwessie waarop die regering daadwerklik moet fokus, aldus Botha.

“As daar in hierdie begroting duidelike tekens is van die regering se bereidwilligheid om te privatiseer, al is dit net deur vennootskappe tussen die openbare en private sektor, dan kan ons werklik êrens kom en die groeikoers verhoog.

“Ja, staatskuld is baie, maar min lande het nie staatskuld nie. Staatskuld is nie ʼn probleem solank as jy die ekonomie kan laat groei nie. As die ekonomie groei, neem belastinginkomste toe. ʼn Groot pluspunt is dat Suid-Afrika se skuld [wat meer as R5 triljoen beloop] in rand en nie in dollar is nie.”

Botha sê hy hoop tog, hoewel dit buite die minister se beheer is, dat Godongwana in die president van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, se oor sal fluister.

Hy meen Suid-Afrika se hoë rentekoers is een van die grootste struikelblokke vir ekonomiese groei.

“Voor Covid-19 was Suid-Afrika se prima uitleenkoers 10% en dit was te hoog. Nou is dit 11,75%. Die inflasiekoers is dieselfde as voor Covid.

“Ons rentekoerse is van die hoogste in die wêreld. Hoekom? In reële terme is dit een van die grootste struikelblokke in die pad van ekonomiese groei in die land. Miljoene der miljoene Suid-Afrikaners voel hierdie pyn elke maand.”

Botha sê die Reserwebank se monitêre beleidskomitee het die “kluts heeltemal kwytgeraak”.

“Wat ek lankal bepleit, is dat hulle die samestelling van die monitêre beleidskomitee verander: Drie mense van die Reserwebank; die direkteur-generaal van die nasionale tesourie en hul hoofekonoom; die direkteur-generaal van handel en nywerheid en hul hoofekonoom, en drie ekonome van die private sektor met ʼn meestersgraad in ekonomie en 25 jaar se ondervinding. As dit vandag die samestelling van die monitêre beleidskomitee was, sou die prima uitleenkoers nader aan 10% gewees het.”

Verminder belastinglas

Nog ʼn ding waarna Woensdag aandagtig geluister sal word, is enige aankondigings oor belasting.

Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff-eiendomsgroep, sê indien enigiets, moet die belastinglas op Suid-Afrikaners verlig en nie verhoog word nie.

Die groep het in aanloop tot die begrotingsrede aan die minister geskryf en versoek dat “persoonlike en eiendomsbelasting as ʼn minimum onveranderd bly”.

Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff-eiendomsgroep. (Foto: Verskaf)

“Ons wil ook die minister versoek om nie met hereregte en kapitaalwinsbelasting te peuter nie. Hierdie belasting is reeds redelik hoog. Daar behoort eerder belastingverligting as verdere laste op reeds oorlaaide verbruikers, huiseienaars en eiendomkopers geplaas te word.”

Seeff benadruk dat daar ’n merkbare afwaartse impak op die eiendomsmark was toe hereregte en kapitaalwinsbelasting voorheen vir verhogings geteiken was.

“In plaas daarvan om die belasting wat deur die regering verdien word, te verhoog, het dit gelei tot laer verkoopsvolumes bo R5 miljoen, en die hereregte wat deur die regering verdien word, verminder.”

“Jy moet ook baie meer eiendomme teen R1 miljoen verkoop vergeleke ’n enkele transaksie van R10 miljoen vir die regering om dieselfde vlak van eiendomsbelasting te verdien.”

Seeff sê ʼn goed funksionerende eiendomsmark is noodsaaklik vir die algehele gesondheid van die ekonomie.

“Die huismark is ’n beduidende bydraer tot die ekonomie soos ons tydens die eiendomsoplewing tussen 2020 en 2022 gesien het.

“Sedertdien het die mark onder geweldige druk gekom weens die hoër as nodige rentekoers, wat laer verkoopsvolumes tot gevolg gehad het. Die winste van 2020 tot 2022 is effektief uitgewis, en het boonop tot laer hereregte vir die regering gelei.

“Terwyl ons die druk op die minister verstaan, is ons sterk voorstanders van ’n pro-groei-begroting.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

A ·

“Groei, Groei, Groei!”

Vreemd.

Dit is wat ek ook op die aand van my troue gesê het, nadat ek te veel whiskey gedrink het.

Raadsman ·

By ANC is rasse poletiek belangriker as ekonomiese groei. Dit sal indruis teen die freedom charter.

Papsak ·

Ha Ha Ha niks groei in SA nie alles korrup en mors dood hy lieg vir hom self !!!!!!

SwartBees ·

Soos die kinder liedjie: Lees jou Bybel, bid elke dag, bid elke dag en jy sal groei groei groei….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.