Bejaarde deur pitbulls doodgebyt

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Olga Grill, ʼn 88-jarige inwoner van Bonteheuwel in Kaapstad, is Dinsdag deur haar bure se twee pitbulls doodgebyt. Volgens FC van Wyk, polisiewoordvoerder vir die Wes-Kaap, het die voorval by die bejaarde se huis in Loganberry plaasgevind. Haar seun het glo Dinsdagmiddag op haar liggaam afgekom.

’n Geregtelike doodsondersoek is geopen nadat die honde glo oor ’n hoë heining gespring het om toegang tot die bejaarde se eiendom te verkry.

Wetstoepassers van die Stad Kaapstad se eenheid vir dierebeheer het die honde van die eiendom verwyder. Geen vuilspel word in hierdie stadium vermoed nie.

Geen inhegtenisnemings is al gemaak nie, maar die omstandighede van die tragedie word deur die polisie ondersoek.

Angus McKenzie, DA‑wyksraadslid, het sy medelye met die familie betuig.

“Ons innige simpatie gaan aan die familie en vriende van die oorledene wat ʼn geliefde op hierdie aaklige en tragiese manier aan die dood moes afstaan.”

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.