Bejaarde ernstig beseer in nóg ‘n plaasaanval

Die toneel by ‘n plaasaanval in Kroondal buite Rustenburg. (Foto: ER24)

ʼn Bejaarde boervrou is erg beseer toe sy Woensdagoggend deur rowers in haar plaashuis op Kroondal in Noordwes aangeval is.

Irene Muhl (64) is Woensdagoggend deur haar swaer en ʼn sekerheidswag op haar eetkamervloer aangetref. Sy het verskeie steekwonde, onder meer aan haar kop en bene, opgedoen. Só het kapt. Elsabe Augoustides, polisiewoordvoerder, aan Maroela Media gesê.

Volgens Augoustides het Irene se man, Mark Muhl, omstreeks 08:15 ʼn oproep van die sekerheidsmaatskappy wat hul plaas bewaak, gekry wat hom ingelig het dat iemand die noodknoppie in hul huis geaktiveer het. Mark was in dié stadium besig met van sy ander boerdery-aktiwiteite weg van die huis af. Hy het die maatskappy gevra om dadelik ondersoek in te stel en ook sy broer, Neels, gevra om onmiddellik na die huis te gaan.

“Daar gekom het Neels en ʼn sekerheidswag gesien die hek na die plaashuis is oop. Hulle het om die huis geloop en by die agterdeur gesien dat ʼn klomp goed uit die huis gegooi is. Toe het hulle geweet daar was ʼn inbraak,” vertel Augoustides.

Hulle het Irene, ernstig beseer, in die eetkamer aangetref. Sy is verskeie kere met ʼn skerp voorwerp, vermoedelik ʼn mes, gesteek.

Volgens paramedici van ER24 het hulle Irene 08:30 in ʼn ernstige toestand in die huis aangetref en haar dadelik begin behandel. Sy is daarna na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Volgens Augoustides word ʼn skootrekenaar en ʼn bergfiets vermis. “Verskeie polisie-eenhede is steeds op die toneel en ons soek onverpoos na die verdagtes.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ES ·

So jou lewe is nou al ‘n fiets werd… dit raak nou net te erg.

lollapot ·

Bitter bitter hartseer. . . Ek bid vir jou spoedige, suksesvolle herstel Irene Muhl

Jannie van Niekerk ·

Dit wil voorkom of die ANC en EFF se plaasaanvallerskommando nou met mening op plase toeslaan.
En Cyril Rampsoedphosa swyg met die verskoning dat “al praat hy nie daaroor nie, is hy bekommerd” . Wel ja, vra maar my broer Jack….. En waar is die vooraanstaande wynboere van Stellenbosch wat sê: “Ons President is hulle profeet” nou met hulle kommentaar? Ek het nog nie ‘n ENKELE een van hulle hoor kritiek uitspreek teen plaasmoorde nie. O ja, hulle lees mos nie Maroela Media nie, want hierdie nuusmedium is nie liberaal genoeg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.