Bejaarde klap mede-inwoner van aftreeoord

Argieffoto: Pixabay.com

Die polisie ondersoek ’n klag van aanranding nadat ’n inwoner van ’n aftreeoord in Rustenburg in Noordwes verlede naweek glo ’n ander inwoner aangerand het. Die verdagte het die slagoffer glo twee keer geklap omdat hy sy tuinwerker wou laat terugkeer werk toe.

Die vermeende aanrander is die voorsitter van die oord se bestuurskomitee wat intern deur die inwoners van die oord aangewys is.

Volgens kapt. Elsabé Augoustides, woordvoerder van die polisie in Rustenburg, het daar kwansuis ’n stryery tussen dié twee bejaardes ontstaan. Die een inwoner wou glo sy tuinwerker in sy tuin laat werk het, maar die voorsitter het volstrek geweier.

“Die rusie het daartoe gelei dat die voorsitter toe die inwoner teen die kop klap. Hy het hom na bewering twee keer geklap,” sê Augoustides.

Volgens ’n bestuurslid van die aftreeoord wou die bestuurskomitee nog nie huishulpe en tuinwerkers in die aftreeoord toelaat nie, hoewel die afsonderingsregulasies dit al goedgekeur het.

Maroela Media het met albei inwoners in verbinding getree om hul kant van die saak aan te hoor. Albei wou in dié stadium nog niks sê nie omdat die saak hangende is. Daar is van albei partye verneem dat hulle mediese behandeling ná die voorval moes ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Adam Adriaan ·

Jare terug sal sulke beuselagtighede nie nuuswaardig gewees het nie.

Christina ·

Ek lees eerder dit as wat ek lees van moord en doodslag.

Grassie ·

As albei mediese behandeling moes kry lyk dit vir my die twee oudstes het mekaar goed gemoker.

Maritha ·

Hierdie arme mense is so gefrustreerd. Hulle word weer soos kinders behandel asof hulle breinloos is. Ons moet onthou hulle was 10 of 20 jaar gelede die beste onderwysers, dr’s, aptekers, prokureurs ens wat jare en jare hierdie land opgebou het en belasting betaal het en nou moet hulle nog aanskou hoe hierdie land in die grond in verniel word. Hul mag nie hulle kinders sien nie en wil net bietjie flippen tuin maak, maar is al te swak om self te spit

Faraway ·

Hier benodig jy die wysheid van Salomo want die skuldige was verseker deur vrees aangevuur en die onskuldige deur minder vrees . . . gee eerder aan beide berading in hierdie vrees volle onsekere siek tye!

Cherokee ·

Miskien word bedrading bedoel Johny, want dit klink asof albei kort van draad is.

Stofdonkie ·

Lekker rustenburg! Nou slaan die afgetrede myners al mekaar.

Cherokee ·

Stofdonkie, almal wat in Carletonville, Stilfontein en Rustenburg woon, is nie myners nie.

Martinet ·

Gee asb net vir die man n sigaretjie sodat hy kan kalmeer

Chris ·

Aitsa, daar het jy dit nou. ‘n Vriendin van my woon in ‘n kerk se afree-oord. Ek het nog nooit van sulke banale maatreëls gehoor soos wat by hulle ingestel is nie. As ek sy was het ek sommer by die predikante begin klap wat op die bestuur dien.

JohanR ·

Borgtog van R5000 elk, en die skuldige (een wat eerste geklap het) 20 jaar tronkstraf, 5 jaar opgeskort. Ja die tong is diep in die kies! Ek is nie eers in ‘n aftreeoord nie maar ek is frustreerd.

Gemaskerde Sopbeen ·

My oorlede Ma was in goeie aftree oord. Opsigter en kliek het “god” gespeel. Nie altyd dieselfde teenoor almal opgetree. Aftree oorde kan maklik in ‘n nes van kliekery en geskinder ontaard. Ek vermoed die opsigter het ‘n opstopper gesoek en gekry.

Annette ·

Seker die inperking, onderliggende vrese en onsekerheid, vreemde omstandighede wat mense vreemde dinge laat doen. Dis veral vir bejaardes baie erg. Hoop hulle maak gou weer vrede.

Anolien ·

Ek is seker dit is ‘n opvolg op Hans steek die Rubicon oor…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.