Bejaarde vrou dood toe boot omslaan

Reddingswerkers Sondag op die toneel. (Foto: NSRI)

’n Duitse vrou (79) is oor die naweek dood toe ’n boot met haar en twee familielede op die Breederivier in die omgewing van Witsand in die Wes-Kaap omgeslaan het.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) sê in ’n verklaring plaaslike reddingswerkers is Sondag omstreeks 16:04 na die rivier aan die kant van Kaap Infanta ontbied nadat ’n boot met ’n egpaar van Duitsland en ’n familielid omgeslaan het.

’n Man is met reddingswerkers se aankoms op die toneel op die boot aangetref, terwyl omstanders op ’n nabygeleë strand reeds ’n man en vrou te hulp gesnel het.

Luidens die verklaring is die vrou egter op die toneel dood verklaar. Die twee mans, onderskeidelik 79 en 76 jaar oud, het die voorval oorleef, maar is vir skok behandel.

Al drie slagoffers is Duitse burgers. Die vrou het ten tyde van die voorval saam met haar man by sy broer gekuier. Sy broer woon in Kaapstad en het ’n vakansiehuis in Witsand.

’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.