Bek-en-klouseer: Verbod dalk hiér effe verslap

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike hervorming oorweeg dit om die verbod op die verskuiwing van beeste in provinsies sonder enige gevalle van bek-en-klouseer binne die volgende week op te hef.

Dít sluit in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap.

Die algehele verbod bly egter vir eers nog van krag in provinsies met gevalle van dié gewraakte veesiekte.

Groot druk is die afgelope paar weke op min. Thoko Didiza uitgeoefen sedert sy op 17 Augustus ’n algehele verbod van drie weke op die vervoer van beeste aangekondig het. Dít ná ’n tweede groot uitbreking van bek-en-klouseer die afgelope vier maande.

Die aantal nuwe uitbrekings staan tans op 127 gevalle nadat nóg fasiliteite in onder meer KwaZulu-Natal, Gauteng en die Vrystaat onlangs met bek-en-klouseer besmet is.

Die minister sê nou in ’n verklaring haar departement betreur die ekonomiese trefslag van die veesiekte op boerderye. Sy wys egter daarop dat die besluit rakende die algehele verbod op die verskuiwing van beeste hoegenaamd nie ligtelik geneem is nie.

“Ons het verlede week gemengde boodskappe ontvang, dié van ondersteuning en dié van kritiek op die besluit. Die meeste boodskappe was egter verreweg dié van dank en steun.”

Lees al Maroela Media se vorige berigte oor die jongste uitbrekings hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henri ·

Die krisis hier lê eerstens by die informele boere wie se beeste en bokke in die padreserwes onbewaak loop en wei. Hulle word ook nie oordentlik behandel vir siektes nie.

‘n Ander bron van besmetting is wildsplase wat grens aan kommersiële beesplase.

Sterkte aan die boere!

Piet ·

Ek weet nou nie so lekker van die wildsplase nie. Hulle is gewoonlik toe gespan met wildheinings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.