Bekende branderryer sterf by Port Alfred

Dave Macgregor. (Foto: Facebook / Corné Pretorius)

ʼn Bekende Oos-Kaapse branderplankryer en oudjoernalis is Maandag by Kelly’s Beach in Port Alfred dood nadat hy vermoedelik ʼn “mediese noodgeval” in die water ondervind het.

Volgens Chris Pike, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op Port Alfred, het die instituut en Dave Macgregor dekades lank ʼn noue verhouding gehad. Hy het Macgregor as ʼn “branderplank- en maritieme legende” beskryf.

Pike sê ʼn NSRI-span is Maandag kort ná 17:00 na die toneel ontbied nadat inligting ontvang is oor ʼn branderplankryer wat in die see in die moeilikheid beland het en deur omstanders na die strand gebring is.

“Dit lyk of ander branderryers opgemerk het dat hy – om onbekende redes – bewusteloos in die water naby sy branderplank was. Hulle het hom uit die water gered en na die strand gebring waar kunsmatige asemhaling op hom toegepas is.

“Ndlambe-lewensredders en NSRI-lede in die omgewing het hiermee gehelp.”

Die polisie, provinsiale en private nooddienste is ook na die toneel ontbied. Macgregor is egter op die toneel dood verklaar nadat alle pogings om hom by te bring, uitgeput is.

Verskeie huldeblyke is intussen op sosiale media gedeel.

“Rus in vrede, Dave Macgregor. Jy was ʼn ware legende. Die Kowie sal nie dieselfde sonder jou wees nie,” het ene Corné Pretorius op Facebook geskryf, waar sy ook ʼn foto van Macgregor met sy branderplank gedeel het.

“Dave Macgregor, ou vriend. Jy was een van daardie wonderlike, skaars enigmatiese siele,” het Steve Pike, stigter van die maatskappy Wavescape, op Facebook geskryf.

“As branderplankryer in murg en been was jy ʼn diep, intellektuele denker wat gedurig reg en verkeerd bevraagteken en gedebatteer het in ʼn wêreld wat tot waansin gedryf word deur fopnuus en ʼn gebrek aan aanspreeklikheid of verantwoordelikheid, soos enige bekwame joernalis sou en moet.”

Steve Pike het Macgregor ook geloof vir sy rol in die branderplankryergemeenskap en sy innoverende, skeppende gees. Macgregor was trots op sy Skotse herkoms en sou gereeld oor ʼn lekker glas Skotse whisky daaroor gesels, onthou Steve. Macgregor het ook altyd met groot trots oor sy Skotse pa gepraat.

Steve het Macgregor self as ʼn wonderlike pa vir sy “eie veelsydige kinders” beskryf.

“Jy was vir baie mense baie dinge, maar altyd ʼn goeie vriend …”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert ·

RIV Dave, ek beny julle branderplankrysport van kleins af. Net bly dit was nie weer ‘n haaiaanval nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.