Bekende koerantman, historikus sterf

Dr. Leopold Scholtz. (Foto: Reint Dykema)

Een van Suid-Afrika se voorste koerantmanne, historikusse en politieke denkers, dr. Leopold Scholtz, is ná ʼn jare lange stryd met leukemie dood.

Scholtz is Woensdagaand in die ouderdom van 74 jaar in ʼn versorgingsoord in Delft, Nederland, oorlede.

Scholtz se broer, Adelbert, het aan Maroela Media gesê dat hy so ʼn week en ʼn half gelede erg agteruitgegaan het.

“Leopold het vir die afgelope twee tot drie jaar aan leukemie gely en ʼn nuwe soort behandeling daarvoor gekry, maar dit het nie gehelp nie. Hy het epileptiese aanvalle begin kry en so ʼn ruk gelede het hy weer ʼn aanval gekry en geval. Dit het bloeding op die brein veroorsaak, sy regterbeen is verlam en sy spraak was ook aangetas,” sê hy.

“Hy is kort daarna by ʼn versorgingsoord opgeneem. Ingrid, sy vrou, was gister heeldag by hom en toe sy die aand huis toe is, het sy ʼn oproep ontvang dat die verpleegpersoneel Leopold in sy rolstoel dood aangetref het.”

Adelbert het ʼn paar dae gelede vir die laaste keer vanuit die Wes-Kaap met sy broer oor die foon gesels, maar “die gesprek het moeilik gegaan weens sy spraak wat aangetas is”.

Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, wat ook ʼn huisvriend van Leopold en Ingrid is, sê haar hart is stukkend ná die nuus van sy afsterwe.

“Ons het gereeld vir mekaar e-posse gestuur en hy het dae gelede vir my gesê hy kan nie nou doodgaan nie, want hy kan nie vir Ingrid alleen los nie,” sê sy.

Ingrid se ma is skaars twee maande vantevore in Nederland oorlede. Die egpaar het na dié land verhuis om haar te versorg.

“Ek sal hom altyd onthou as ʼn lieflike, opregte mens en ʼn toegewyde eggenoot.”

‘Kenner op alle gebiede’

Leopold en sy vrou Ingrid. (Foto: Verskaf)

“Ek het baie respek vir my jongste broer, want daar is geen twyfel dat hy ʼn intellektuele reus was nie,” sê Adelbert wat nou die enigste oorlewende Scholtz-broer is.

“Hy het ʼn groot klomp boeke en duisende artikels geskryf en was boonop ʼn gerespekteerde koerantman.”

Scholtz was jare lank ʼn onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Huldeblyke stroom reeds in.

“ʼn Stem van rede het stil geword, ʼn wakker verstand rus nou en ʼn gerespekteerde plek in ʼn wye gemeenskap wat deur sy insigte verryk is, is veel armer,” skryf Hennie van Deventer, oud-Volksblad-redakteur en veteraan-koerantman, op Facebook.

“Dit is bekend dat hy die afgelope jare in ʼn dapper stryd teen kanker gewikkel was. Tog tref die finaliteit ʼn mens hard.

“Op persoonlike vlak gaan ek die lewensblyheid, humor en ondeundheid wat agter die waardige fasade van ʼn akademikus van stoffasie geskuil het, geweldig mis.”

Bailey het op haar beurt gesê dat Leopold Scholtz se intellektuele vermoë en liefde vir Afrikaans iets is wat sy sal voortgaan om te bewonder.

“Hy het so ʼn passie vir Afrikaans en het altyd daarvoor baklei, ook toe hy sy buitengewone professorskap aan die Universiteit Stellenbosch prysgegee het vir sy standpunt oor Afrikaans.”

Te midde van ernstige gesprekke met vriende het hy ook ʼn goeie sin vir humor gehad.

“Ons het altyd lekker saam gelag, ons kon ook nooit verby ʼn boekwinkel stap sonder om in te gaan nie en het gereeld ʼn glas melk saam geniet,” sê Bailey.

“Maar sy liefde vir Ingrid het alles oortref. Ek het min vriende wat so lief was vir mekaar soos hulle.”

Die egpaar se liefdesverhaal het begin toe hulle destyds klasmaats aan die Universiteit van Leiden was.

“Hy het altyd vertel toe hy die eerste keer in die klas gestap het, het hy geweet sy [Ingrid] is sy trouvrou.”

Leopold en Ingrid was sowat 50 jaar getroud voor sy afsterwe en het nooit kinders gehad nie.

“Ingrid trek swaar ná Leopold se dood, maar ek hoop dat hulle vriende daai kant ʼn ondersteuningsnetwerk vir haar sal wees.”

Nog geen begrafnisreëlings is al gefinaliseer nie. Adelbert vermoed wel dat Leopold by die Protestantse kerk in Schipluiden, ʼn dorpie buitekant Delft, begrawe sal word. Leopold was ʼn geliefde ouderling by die kerk en was aktief daar betrokke.

“Ek weet nie of ons self die reis Nederland toe sal kan maak nie, maar hopelik sal ek steeds my broer kan groet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Marthinus W ·

Ek het Leopold nie persoonlik geken of ontmoet nie. Ons het op die internet soms koppe gestamp, en hy het my een van Poetin se internettrolle genoem, omdat ek Rusland en Poetin gedurig verdedig het. Tog, het Leopold n belangrike bydrae gelewer, en as redakteur van die boek “Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne” en ander boeke oor die grensoorlog n veld oopgeskryf. Saam met Fransjohan Pretorius en Hermann Giliomee was hy een van die letterlik handvol Afrikaanse historici wie se name ons geken, en wie se skryfwerk ons gelees, het. (Ek hoop daar is n nuwe geslag wat die geskiedskrywing gaan voortdra.) Leopold was maar n korrelkop, en ek gaan hom en sy geskryf mis. RIV. [Marthinus Willemse]

Trotse Boervrou ·

Net vir die rekord…
Dankie Marthinus dat jy nog steeds Leopold eer al het jul koppe gestamp. My kommentaar is gemik op ‘n sekere dame wat snedig was. Haar kommentaar is gelukkig verwyder.

hendrie ·

Goed gestel Marthinus.
Hopelik is daar genoeg opkomende nuwelinge wie se onkreukbare objektiwiteit hul grootste bate sal wees.

christo ·

Marthinus, dis só lekker om te weet dat daar nog steeds kwaliteit Afrikaanse redenasie plaasvind. Ons kort meer ernstige nie-fiksie in Afrikaans, want almal dink as jy wil hê Afrikaanse mense slegs ‘ common ‘ humor verstaan.

Trotse Boervrou ·

Mense (sommiges), dit werk so in die regtige lewe. Mense verskil en ons mag maar. Dit is dood normaal. Ons mag koppe stamp ens. Maar weerhou jou asb daarvan, wanneer iemand afsterf, om ongevraagde kommentaar te lewer. Dit noem mens goeie maniere.

RIV Leopold. Sterkte aan sy geliefdes.

Cherokee ·

Dit was met ‘n rukslag (kan nie nou aan ‘n beter beskrywing dink) wat ek die foto en onderskrif gesien het. Baie graag sy artikels gelees. Nie eens geweet hy woon in Nederland.

ABDP ·

Rus sag, ek het altyd uitgesien na ‘n artikel van die oom.

Jacobus ·

RIV Leopold ek gaan jou ingligte kommentaar op Kyknet se aktuele programme mis.

Rupert Ashford ·

RIV Dr Leopoldt. Ons het soms lekker koppe gestamp, maar jy was een van die manne van die 80’s wat my liefde vir koerantlees gevestig het. Het altyd ongeduldig gewag vir sy rubrieke hier op MM. Daar is min van sy kaliber oor…

Treurwilger ·

Dr. Leopold Scholtz was skrywer en joernalis van formaat, mag hy in vrede rus.
Hy was egter kortaf, ongeskik en beledigend teenoor enigeen wat met hom verskil het oor sake.
Voorbeelde is beskikbaar op aanvraag.

(As Maroela die beledigende kommentare onder die Malema-berig duld, word hierdie een sekerlik toegelaat.)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.