Bekende speurder in hof ná kollega se skietdood

Sers. Marlon Appollis. Foto: SAPD

Sers. Marlon Appollis wat bekendheid verwerf het vir sy betrokkenheid by die oplos van drie hoëprofielsake, het Maandag in die Franschhoek-landdroshof verskyn in verband met die skietdood van ʼn kollega.

Appollis is op borgtog van R1 000 vrygelaat en die saak is tot 26 September uitgestel vir verdere ondersoek, het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, bevestig. Appollis word in dié stadium van strafbare manslag aangekla.

Appollis het bekendheid verwerf vir sy betrokkenheid as speurder in die Jason Rohde-, Henri van Breda- en Hannah Cornelius-moordsaak.

Appollis is Saterdagaand in hegtenis geneem nadat sers. David Hoffman, ʼn 40-jarige beampte van die teenbende-eenheid van die polisie, in Franschhoek doodgeskiet is. Hy was nie aan diens toe hy geskiet is nie.

Brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, het vroeër gesê Hoffman was op ʼn perseel in Skoolstraat toe hy deur ʼn groep lede van die gemeenskap gekonfronteer is.

“Polisiebeamptes is na die toneel ontbied en skote is afgevuur.” Volgens Potelwa was Appollis by Hoffman toe hy geskiet is en is hy in hegtenis geneem. Dit is al inligting wat die polisie oor die voorval bekend gemaak het.

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) se weergawe van die gebeure verskil egter van die inligting wat deur die polisie bekend gemaak is.

Sontaga Seisa, waarnemende woordvoerder van Opod, het gesê daar word beweer dat daar ʼn braai op die perseel plaasgevind het.

“Daar word beweer dat die 41-jarige verdagte [Appollis] tydens die braai sy vuurwapen uitgehaal en sy 40-jarige kollega [Hoffman] doodgeskiet het. Die oorledene is in die kop geskiet. Die motief vir die skietery is nog nie bekend nie.”

Seisa het Maandag bevestig dat Opod se ondersoek na die voorval voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

kolla ·

Interessant hoe die storie verander het. ‘n “Drive-by-shooting” storie sou dalk beter gewerk het.

Heidi ·

Een van die dae is sy vorige “kliente” sommer sy buurman! Sjoe dis n drastiese verandering van omstandighede.

Niklaas ·

Braai op die perseel…Dan was daar nie heeldag lemoensap gedrink nie en humeure kan kort raak. Die waarheid sal sekerlik nog uitkom.

DS ·

Die ou se kop het te groot geword. Gespog oor die sake wat HY opgelos het. Nie so lekker om aan die verkeerde kant van die draad te staan nie ne sersant. Wonder wat het jou kollega geweet wat jy geheim wil hou?

Sarie ·

Strafbare Manslag? Sy maters het dus klaar besluit dis nie moord nie, maar laat ek nou net ‘n aanvaller doodskiet uit selfverdediging dan is dit moord!

Madeleine ·

Nou wonder mens oor d geloofwaardigheid van d sake waarby hy betrokke was…

Kollega ·

Almal tog so negatief. Laat die reg sy gang gaan. Hy gaan seker geskors word en 1 minder goeie speurder om die moeilike bende-sake te ondersoek.

SjN ·

Hy was so bekend gewees, as ek weer van hom hoor of sien sal dit die 2 de keer wees.

Michelle ·

Nee wat hoe goed die polisie man nou ook al was drank en vuurwapens het nog nooit saam geloop nie miskien moes hy liewers sonder die vuurwapen gaan kuier het dan was sy vriend nie geskiet nie maak nie saak hoe jy probeer toesmeer nie jou oneerlikheid haal jou in dis ‘n skande dat jy nie mans genoeg is en praat die waarheid nie.

Stripes ·

Iewers is ‘n slang in die gras. My vermoede is eerder dat Hoffman te veel geweet het.

sweis ·

Ek wag nog om van die goeie polisie te hoor of te sien ,jy weet daardie wat elke dag hulle bes doen .hahaha

Marinda ·

Ek stem saam Kollega. Laat die reg sy gang gaan. Dink tog aan die oorledene se familie.

hercu ·

ek ruik een grot vet dooie rot

Hoffman het teveel geweet!!

sterkte aan die familie!

Jacques ·

Kry vir Sers. Appollis om die saak te ondersoek . O ja hy staan nou aan die verkeerde kant van die stelsel . Dit is nou jammer . Mense met n wapen en n “badge” dink hulle kan alles doen want hulle is mos die wet . Baie sterkte aan die familie .

Linda ·

Daardie deur is vir almal oop… Moet nooit vinger wys en judge nie.

ella's ice machine ·

nog n titel aan die kom. “lost bullet in Franschhoek” wonder watter speurder gaan hier uitgehaal word!

kolla ·

Daar staan hy is Saterdag-aand inhegtenis geneem en het Maandag borg gekry. Dit sal interessant wees om te weet of hy inderdaad die Saterdag-aand en die hele Sondag in die selle aangehou was soos met enige ander persoon in daai situasie sou gebeur het.

Johanna ·

Is dit moontlik dat besonderhede so vining kan verander? Begin sy kollegas reeds met toesmeerdery? Die feite is seker dat die vriende gebraai het en saam gekuier het. Hoekom haal hy die dienswapen in elk geval uit, Hy is juis opgelei is om dit te gebruik. Trek nie sommer per ongeluk die sneller nie. Weet jy mik nie na iemand as daar nie gevaar is nie. En mik sommer na jou vriend se kop? Onskuldig? NEE. Stop sommer die toesmeer. Laat die polisie nog meer pateties lyk.

marous ·

Hoe kan daar twee weergawes wees wat verskil soos dag by nag ? Altwee is seker feitelik korrek as die land se leiers se eerbaarheid in ag geneem word ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.