Bekendmaking van daaglikse provinsiale Covid-19-syfers geëis

Siviwe Gwarube. Foto: Facebook

Die DA sê hy sal die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) gebruik om die provinsiale gesondheidsdepartement te dwing om daagliks Covid-19-statistieke in fyn besonderhede bekend te maak.

Siviwe Gwarube, DA-LP en woordvoerder oor gesondheid, het gesê die party se provinsiale woordvoerders oor gesondheid sal die Paia-aansoeke in die onderskeie provinsies inhandig.

In dié stadium maak slegs die Wes-Kaap en in mindere mate Gauteng daagliks hul provinsies se Covid-19-statistieke bekend. Van die ander provinsies maak net elke dan en wan statistieke bekend.

“Die DA het al verskeie kere die kwessie van geloofwaardige, konsekwente en akkurate data geopper, wat die land ʼn volledige beeld sal gee van gemeenskapsoordrag in die stryd teen Covid-19. Daar blyk ʼn behoefte in van die provinsies te wees om sonder geldige rede data van die publiek te weerhou.

“As voorbeeld van dié absurditeit beweer die provinsiale regering van KwaZulu-Natal dat dié statistieke onder embargo is. Ander provinsies is óf inkonsekwent met die deel van hierdie inligting, óf dit gebeur glad nie.”

Volgens Gwarube het sy die kwessie rakende eenvormigheid van data al onder die aandag van dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, gebring sodat dit duidelik is hoeveel toetse per provinsie gedoen word, asook die verhouding daarvan tot die nasionale toetsgetalle.

“Ek het ook deursigtigheid bepleit met betrekking tot provinsiale toetsstrategieë sodat ons die versekering kan hê dat elke provinsie genoeg mense in verhouding tot hul bevolking toets.”

Gwarube het gesê die bekendmaking van data is kritiek vir openbare aanspreeklikheid en gee ook leiding rakende die nodigheid van dringende ingrypings. “Inligting oor ʼn wêreldwye pandemie wat verwoesting in ons land saai, moet nooit as geklassifiseer beskou word nie. Dit is teenstrydig met die Grondwet wat bepaal dat elkeen die reg het op toegang tot enige inligting waaroor die staat beskik.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

PH ·

Dalk weet die ander Provinsies nie waar die toetse gedoen word nie

Mrs H ·

Wat anders verwag jy van swart bemagtigde kwota poste? Hahaha

Ronel ·

Dit lyk my ek is nie die enigste een wat provinsiale statistieke wil sien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.