Bela: Minderheidsverslag ingedien oor Gauteng se aanvaarding

(Argieffoto: Unsplash)

Die VF Plus gaan ʼn minderheidsverslag by die Gautengse wetgewer indien waarin die gevare van die Bela-wetsontwerp uiteengesit word.

Dit sal benewens verwysings na die minagting van menseregte soos vervat in die Grondwet, ook verwys na die gemeenskapsaard van onderwys aan die hand van artikel 235 van die Grondwet wat handel oor die selfbeskikking van gemeenskappe.

Die besluit volg nadat die ANC gister sy getalle in die Gautengse wetgewer se onderwyskomitee gebruik het om op ʼn irrasionele en ongrondwetlike wyse die Bela-wetsontwerp aanvaar te kry.

“Die ANC gaan egter sy kop hard stamp in enige toekomstige hofverrigtinge met die doel om die wetsontwerp te keer aangesien die VF Plus sterk argumente daarteen gelewer het,” sê Anton Alberts, nasionale voorsitter van VF Plus.

Die VF Plus het onder meer daarop gewys dat die insette van die meeste deelnemers aan die openbare verhore asook die talle skriftelike insette wat gemaak is, duidelik daarop dui dat die meerderheid van die ouer- en skoolgemeenskappe in Gauteng teen die Bela-wetsontwerp gekant is.

“Die ANC het hierdie meerderheid van menings geïgnoreer in weerwil van vorige grondwetlike hofuitsprake wat vereis dat die menings van die publiek substantief gereflekteer moet word in enige besluit oor beleid en wetgewing,” voeg Alberts by. “Die ANC het ook die mening van die onderwyskomitee se eie navorsers geïgnoreer wat in die konsepmandaat van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) erkenning gegee het aan die probleme wat die Bela-wetsontwerp skep.”

Hy sê dit is ten aansien van die wesenlike verdunning van die magte van skoolbeheerliggame rakende toelatingsvereistes en taal by openbare skole, asook die oorregulering van tuisonderrig.

“Ten spyte hiervan het die ANC besluit om die konsepmandaat te ignoreer en die wetsontwerp net so te aanvaar. Daarmee het die ANC selfs die interne advies van die wetgewer se adviseurs geminag. Dit is duidelik dat die ANC afstuur op ʼn drag slae in die Grondwethof indien die president die Bela-wetsontwerp sou bekragtig.”

Volgens Alberts sal die VF Plus tydens daardie verrigtinge getuig hoe die ANC die Gautengse onderwyskomitee as’t ware gekaap het om sy ideologie van sentralisering van die hefbome van mag onder sy beheer te kry – in hierdie geval selfs oor ouerlike gesag oor die opvoeding van hul kinders.

“Die VF Plus verwerp die ANC se optrede met minagting en is vol vertroue dat ʼn koalisieregering, waarvan die VF Plus deel is, Gauteng sal oorneem ná die 2024-verkiesing wat die Bela-wetsontwerp en die idees daarin beliggaam, sal beveg tot dit uiteindelik sneuwel. Sonder die ANC kan ons Gauteng en die land herstel en bou.”

Maroela Media het vroeër berig al die provinsies behalwe die Wes-Kaap het Woensdag hul steun aan die omstrede wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) toegesê.

Die wetsontwerp word tans in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) hanteer. Die provinsiale wetgewers van al die provinsies, uitsluitend die Wes-Kaap, het aangedui dat hulle die wetsontwerp in sy huidige vorm steun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marthinus Johannes ·

Almal loop met klappe op die oë round en besef nie dat Solank die ANC n mederheid in die parlement het SAL Hy sy doelwitte deur stoomroller, maak nie saak wat die ander sê nie. Nie eers die howe gaan hulle keer nie. Al die Kaders klaar op die regte plekke. CR is van plan om kort voor die verkiesing om die regte pen te vind en te teken en daarmee werf hy sommer baie stemme. ALL STOPS OUT TO WIN. Die ANC gaan nie sonder n geveg oorgestelde nie, te veel op die spel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.