‘Bela-wet weerspreek Grondwet’

(Argieffoto: Verskaf)

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) sê enige veranderinge aan die Skolewet moet versigtig aan die hand van die Grondwet oorweeg word omdat dit die kerndokument is wat rigting aan wetgewing in Suid-Afrika gee.

“Een van die beginsels in die aanhef tot die Grondwet is dat dit ten doel het om die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas.

Fedsas sal Dinsdag tydens sy voorlegging aan die portefeuljekomitee oor basiese onderwys uitwys dat die wysigingswetsontwerp op basiese onderwys, oftewel die Bela-wetsontwerp, juis in hierdie opsig tekort skiet.

Die organisasie is veral bekommerd oor die sentralisering van mag deur die onderwysdepartement en onnodige werkslading wat van die wysigings op beheerliggame sal plaas.

“Dit is belangrik om te verstaan dat hierdie wetgewing nie ʼn gewone wetlike proses is nie, maar dat dit tot die kern van ons Grondwet spreek,” sê Deacon.

Dít is hoe wetsontwerp tekort skiet

(Argieffoto: Wikimedia Commons)

In sy voorlegging lig Fedsas vyf wysigings uit wat nie tot die gees en doelwitte van die Suid-Afrikaanse Skolewet, hofuitsprake van die Grondwethof of die Grondwet sal bydra nie.

Twee van hierdie voorgestelde wysigings gee aan provinsiale onderwyshoofde die mag om te besluit oor ʼn skool se beleid oor toelating en taal. Deacon sê albei hierdie wysigings druis in teen die onderliggende beginsel van samewerkende bestuur waarop die model vir openbare skole gebou is.

“Hierdie sentralisering van mag is juis wat die twee huidige witskrifte, wat die verspreiding van mag in onderwys beskryf, poog om te voorkom. Hierdie wysigings weerspreek selfs ʼn ander wysiging wat bepaalde magte oor toelating aan die minister van basiese onderwys gee,” sê hy.

“Die wysiging aan die toelatingsbeleid tesame met wysigings aan die bepaling van ʼn skool se taalbeleid, skep die idee dat die regering alleen mag besluit waaroor ouers ʼn sê mag hê. Dit neem ons terug na ʼn totalitêre staat en gaan niks doen om onderwys te verbeter nie.”

Nog ʼn wysiging waaroor Fedsas bekommerd is, is die verklaring van finansiële belange deur lede van ʼn skool se beheerliggaam.

“Dit is bloot onredelik en kan daartoe lei dat ouers nie bereid gaan wees om op beheerliggame te dien nie. Die omvang van finansiële belange wat verklaar moet word, is heeltemal te wyd en hoegenaamd nie relevant tot die funksionering van ʼn skoolbeheerliggaam nie. Dit maak sin dat botsende belange bestuur moet word, maar die nodigheid om persoonlike inligting so omvattend te verklaar is buitensporig.”

Die sentralisering van die aankoop van leermateriaal is nog ʼn aspek wat vir Fedsas problematies is. Deacon sê hoewel die wysiging sinvol voorkom, sal dit in praktyk amper onmoontlik wees om daaraan uitvoering te gee en dit skep ʼn teelaarde vir korrupsie.

“Huidige onderwyswetgewing maak daarvoor voorsiening dat beheerliggame verantwoordelikheid aanvaar vir die bestuur van herhalende uitgawes. Onderwys- en leermateriaal is ʼn voorbeeld hiervan. Dit maak meer sin om beheerliggame verantwoordbaar te hou wanneer so ʼn liggaam nie sy funksies behoorlik uitvoer nie. Nou straf die wysiging eintlik alle beheerliggame by voorbaat eerder as dat verantwoordbaarheid as beginsel van beheer vasgelê word.”

Die vyfde voorgestelde wysiging wat volgens Fedsas geensins ʼn sinvolle bydrae lewer nie, is dat beheerliggame kwartaallikse verslae indien oor alle inkomste en uitgawes.

“Beheerliggame moet reeds jaarliks geouditeerde finansiële state indien. Wat sal die doel van ʼn papieroefening soos kwartaallikse verslae wees? Natuurlik kan so ʼn vereiste ingestel word waar dit geregverdig is. Reëls moet egter nie gemaak word om uitsonderings te bestuur nie maar eerder om ʼn raamwerk te verskaf om operasionele take en besluitneming te rig. Tree op teen vrot appels en laat die res toe om hul sake sonder inmenging te bestuur. Die aksie kan binne bestaande wetgewing uitgevoer word.”

Volgens Deacon beywer Fedsas hom om ʼn vennoot in onderwys te wees en daarom ʼn kundige bydrae tot enige onderwyswetgewing te lewer.

“Fedsas wil ʼn rol speel om, soos die Grondwet van ons vra, die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit. Dit begin egter by gehalte-onderwys.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Koos 100 ·

Fedsas, slegte nuus julle. Die grondwet is net daar wanneer hy benodig word. Daar staan in hom geskrywe dat almal gelyk is, ook voor die wet. Malema is net meer gelyk as Vici Momberg. Die staat wil ALLE skole oorneem om hulle eie onbevoegdheid weg te steek. Hulle het klaar universiteite omgeswaai na Engels en ‘n Afrika taal, nou kom skole aan die beurt. Skole vol, geen probleem nie, hier is nog 30 leerders per graad vir julle

Nici ·

Die regering kan nie eers homself bestuur nie. Hoe minder hul in die pad is van mense wat weet wat hul doen, hoe beter.

Witbaard ·

Byna ALLES wat die ANC doen en sê is strydig met die grondwet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.