Bela-wet: ‘Wys ons alle openbare kommentaar is oorweeg óf stel dit reg’

skool-skoolbank-klaskamer-deltaworks.jpg

Argieffoto (Foto:
Deltaworks/Pixabay)

Indien daar enigsins waarheid steek in die bewerings dat duisende openbare voorleggings en kommentaarbydraes oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (bekend as die Bela-wetsontwerp) nié ontleed is deur die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys nie, sal dit neerkom op “skokkende politieke magsmisbruik en ʼn vertrapping van enige aanspraak op demokratiese burgerlike deelname”.

Só sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) in reaksie op vandeesweek se mediaberigte dat die komitee oënskynlik versuim het om tussen 6 000 en 9 000 openbare voorleggings en kommentaarbydraes te ontleed.

“Dit is uiters kommerwekkend dat openbare deelname, wat ʼn integrale deel van Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie vorm, nou moontlik gemanipuleer is om Bela op die wetboeke te kry sonder dat ernstige tekortkominge aangepak is.”

Deacon sê Fedsas het nou ʼn dringende skrywe aan die voorsitter van die portefeuljekomitee, Bongiwe Pricilla Mbinqo-Gigaba, gerig waarin Fedsas verskeie ondernemings van die komitee eis.

“Ons wil eerstens ʼn onderneming van die komitee hê dat alle kommentaar en voorleggings wel aan die komitee voorgelê en verwerk is. Ons versoek ook ʼn omvattende verslag waarin die uiteenlopende aard van die openbare menings aangedui word. Hierdie verslag moet aan die Nasionale Vergadering vir oorweging voorgelê word.”

Fedsas vra dan ook dat, indien die gerugte waar is dat nie alle kommentaar in ag geneem is nie, die portefeuljekomitee hierdie oorsig onmiddellik sal regstel.

“Indien die komitee nie hierdie ondernemings kan gee nie, versoek ons dat die komitee aan Fedsas en lede van die publiek sal verduidelik hoekom alle openbare kommentaar nie in berekening gebring is nie. Deursigtigheid is ʼn allernoodsaaklike aspek van demokratiese regering,” sê Deacon.

Die portefeuljekomitee het Dinsdag tot Vrydag opsy gesit om die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela-wetsontwerp) klousule vir klousule deur te werk.

Die DA en ander opposisiepartye het egter Dinsdag uit beraadslagings oor klousules van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette in die parlement in Kaapstad gestap.

Maroela Media het vroeër berig die DA het die betrokke dag onder meer duidelikheid gesoek oor hoe daar besluit is watter skriftelike voorleggings ontleed sal word aangesien al die handafgelewerde voorleggings blykbaar wel ontleed is, maar slegs ʼn gedeelte van die e-posvoorleggings (6 715 van 17 452).

Die vergadering moes gevolglik verdaag word nadat opposisiepartye dit uit ontevredenheid met die proses verlaat het. Die ANC was nie voltallig nie en daar was nie meer ʼn kworum teenwoordig nie.

Teen laat Donderdagmiddag was die wysigingswetsontwerp egter klousule vir klouse deur verwerk.

Personeel van die departement het aantekeninge gemaak en het nou kans tot 28 Augustus om ʼn sogenaamde A-lys van nuwe klousules op te stel.

Die volgende stap sal wees dat die komitee elke klousule op die betrokke lys deurgaan en daaroor stem. Wanneer hierdie proses afgehandel is, kan die wetsontwerp in die Nasionale Vergadering oorweeg word.

Daarna moet elke provinsiale wetgewer dit oorweeg voordat dit deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) oorweeg sal word. Daarna kort nog net die president se handtekening.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.