Opposisie loop uit Bela-beraadslaging

Argieffoto

Die DA en ander opposisiepartye het Dinsdag uit beraadslagings oor klousules van die Wysigingswetsontwerp op Onderwyswette (bekend as die Bela-wetsontwerp) in die parlement in Kaapstad gestap.

Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys was gevolglik genoop om die vergadering te verdaag aangesien die komitee daarna nie meer ʼn kworum gehad het om oor die klousules te stem nie.

Baxolile “Bax” Nodada, die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, sê die opposisiepartye het uit die vergadering gestap nadat die voorsitter, Bongiwe Mbinqo-Gigaba, geweier het om vrae toe te laat wat duidelikheid oor sekere kwessies sou gee, en die aanvaarding van die verkeerde konsepverslag gestoomroller het.

Maroela Media het vroeër berig die voorlopige nasionale verslag oor die parlement se openbare deelnameproses oor die omstrede wysigingswetsontwerp op basiese onderwys is onlangs amptelik aan die portefeuljekomitee oor basiese onderwys voorgelê.

Nadat die opposisiepartye vandag uit die parlement gestap het, het die komitee voortgegaan met ʼn voorlegging van die departement van basiese onderwys oor die finansiële gevolge van die wetsontwerp – ʼn verslag wat die DA spesifiek aangevra het.

Nodada sê die DA het gedurende die vergadering bloot ʼn aantal duidelikheidsvrae oor die verslag gevra wat Mbinqo-Gigaba nie wou toelaat nie. “Ons weet steeds nie of die totale aantal voorleggings wat ontvang is 32 941 of 34 509 was nie.”

Die DA het ook duidelikheid gesoek oor hoe daar besluit is watter skriftelike voorleggings ontleed sal word aangesien al die handafgelewerde voorleggings blykbaar ontleed is, maar slegs ʼn gedeelte van die e-posvoorleggings (6 715 van 17 452).

“En ons het nog nie die matriksontleding van voorleggings van elke klousule van die Bela-wetsontwerp ontvang nie.”

Nodada sê nou die DA sal nie toelaat dat die publiek se voorleggings tot die minimum beperk of weggegooi word nie.

“Dit is van die uiterste belang dat alle voorleggings ontleed word. Daar blyk ʼn poging te wees om die indruk te skep dat die publiek die Bela-wetsontwerp ondersteun terwyl al die data nog ontleed moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Christelike etiek ontbreek by die regering. Korrupsie word as slim en oorspronklik aangemoedig. Indien die basiese wette vir die vooruitgang (van enige land) en goeie naasbestaan, ten voordeel van almal, nie in SA gepredik en aanvaar word nie, loop die pad van verval waarop ons nou is, tot oor die afgrond.

Mnr De Beer ·

Behalwe as die Christene opstaan teen die onreg. Dan sal dinge verander.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.