BELA-wetsontwerp gaan onderwysprobleme vererger – AfriForum

(Argieffoto: Unsplash)

AfriForum het Donderdag ’n mondelinge voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die sogenaamde BELA-wetsontwerp) in Kaapstad gelewer.

Die burgerregteorganisasie het weereens benadruk dat dié wetsontwerp nie daadwerklike oplossings vir probleme in die onderwysstelsel bied nie.

Dit was die laaste dag wat die publiek die geleentheid gehad het om aan die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) se openbare verhore hieroor deel te neem.

AfriForum het reeds in Maart skriftelik kommentaar oor dié omstrede wetsontwerp ingedien.

Volgens Nicolene Müller, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, het oorweldigende openbare deelname aan Donderdag se sessie “bewys hoe sterk ouers oor direkte betrokkenheid by hulle kinders se skoolloopbane voel”.

Müller het tydens haar aanbieding opnuut beklemtoon dat die wetsontwerp nie daadwerklike oplossings vir probleme in die onderwysstelsel bied nie, in besonder die gebrek aan moedertaalonderrig, oorvol skole en gevolglike hoë uitvalkoerse van leerders.

“Dit gaan inteendeel juis die knelpunte vererger omdat die konsepwet voorstel dat die finale besluitnemingsmagte oor skole se toelatings- en taalbeleide voortaan in die hande van die provinsiale onderwyshoofde moet berus,” het Muller gesê.

Sy het ook uitgebrei oor AfriForum se standpunt dat die wysigings wat in die wetsontwerp voorgestel word, ongrondwetlik is.

“Die organisasie hou vol dat die toenemende sentralisering van mag in die hande van die staat en die gevolglike ontmagtiging van skole se beheerliggame rampspoedige gevolge vir onderwys in die land kan beteken.”

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof vir kultuursake, moet die wetsontwerp as geheel verwerp en ’n nuwe wysigingswetsontwerp opgestel moet word.

“Dit moet nie net grondwetlik belyn en regverdig wees nie, maar ook die nuutste tegnologiese ontwikkelings en onderwysmetodes in ag neem.

“Indien die Nasionale Raad van Provinsies die wetsontwerp egter sonder betekenisvolle wysigings aanvaar en dit na die president vir ondertekening verwys, is AfriForum gereed om dit met regstappe teen te staan,” het Bailey gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

skurweberg ·

Ons beste verweer wat daar moontlik is om die Bela wetgewing te stop of te plooi en die howe te oortuig is om versoenbare wetendskaplike gevallestudies as
argumente te gebruik wat daarop dui dat dit ‘n wettige,demokratiese alternatief voorstel . Dit lyk my of die transformasie gedagte die hele tyd deur die staat as argument gebruik word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Skurweberg, in terme van die grondwet het elke kind die reg tot opvoeding. Daagliks koop mense van kleur eiendom in voormalige wit buurte waar skole gebou was vir wit Afrikaanse en/of Engelse kinders. Die staat se verweer is dat hulle die grondwet moet nakom. Hulle sal aanvoer dat Bela het niks te make met rasse transformasie nie. Dis net prakties omdat skole nie wil saamwerk nie. Gedeeltelike privatisering van skole lyk na ‘n gewenste model.

skurweberg ·

R.i.d.WK Goeie argument). Die Transformasie beweging is maar net ‘n voertuie hulle bestaan werklik. Hulle mislukkings wêreldwyd, is gedokumenteer soos die Nuwe Wêreld Orde (NEW AGE) tans ‘n realiteit is en ‘n enorme bedreiging vir alle regerings wat nie wakker is nie, inhou

Marina ·

Solank daar Afrikaanse skole is, gaan die standaard hoog wees. Aangesien die regering weet hulle kan nie standaard verhoog nie (kultuur, IK, ouers se onbetrokkenheid ens) moet standaarde dus afgetrek word. Dan is almal mos gelyk? Afrikaanse skole is n doring in die vlees. Enige funksionele instansie is blykbaar n doring in die vlees?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.