Bela-wetsontwerp in parlement aanvaar

Bernard Pieters en Alana Bailey betoog teen die Bela-wetsontwerp

Die omstrede Bela-wetsontwerp is vandag, met die teenstem van die VF Plus, DA en ACDP, aanvaar in die Nasionale Vergadering (NV).

Dit volg ná ʼn maandelange toutrekkery tussen die ANC en verskeie belangegroepe wat hul plek langs politieke partye in teenstand daarteen ingeneem het.

’n Groot groep lede van AfriForum het Donderdag by verskeie ander organisasies en partye voor die parlementsgebou in Kaapstad aangesluit om beswaar teen die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wetsontwerp) aan te teken.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, maak dié burgerregte-organisasie al sedert 2017 beswaar teen aspekte van die wetsontwerp wat ouers se seggenskap oor die taal- en toelatingsbeleid van hulle kinders se skole sal beëindig. AfriForum beskou die wetsontwerp as ’n direkte aanval teen Afrikaanse onderrig, wat uiters negatiewe gevolge vir gehalte onderrig in veral Afrikaanse enkelmedium, maar uiteindelik ook alle Suid-Afrikaanse skole sal hê.

“Die minister van basiese onderwys, die adjunkminister en ANC-lede van die portefeuljekomitee wat reeds die wetsontwerp goedgekeur het, maak geen geheim daarvan dat hulle ’n einde aan Afrikaanse skole wil bring nie – ’n stap wat in effek ’n einde aan moedertaalonderrig in alle tale buiten Engels in die land sal bring,” verduidelik Bailey. “Daarbenewens kan die wetgewing hulle dan bemagtig om bestaande skole voller te stop, in plaas daarvan om wanfunksionele skole reg te ruk en meer skole te bou – nog ’n stap wat gehalte onderrig in die land sal ondermyn.”

Sy voeg by dat die ANC duidelik die wetsontwerp probeer stoomroller deur al die prosesse om dit voor die verkiesing van 2024 geïmplementeer te kry.

Elizma Arendse, Tommy van Zyl en Philip Muller betoog teen die Bela-wetsontwerp

“Dit sal meer mag in die onbevoegde hande van die staat sentreer en gemeenskappe se betrokkenheid by hulle skole deur middel van demokraties verkose beheerliggame betekenisloos maak. Tans kan die beheerliggame finaal oor skole se taal- en toelatingsbeleid besluit, maar hierdie wetsontwerp stel voor dat dié mag voortaan by die provinsiale hoofde van onderwys moet berus, met ander woorde by politieke aanstellings. Daar word verklaar dat dit nodig is om diskriminasie teen leerders te voorkom, maar dit is blatante oëverblindery, aangesien die bestaande wetgewing voorsiening maak vir die nodige stappe om diskriminasie stop te sit, indien dit sou voorkom.”

Bailey herinner dat die wetsontwerp ook nog deur die Raad van Provinsies aanvaar moet word, voordat dit aan die president vir ondertekening voorgelê kan word. Eers daarna sal dit geïmplementeer kan word.

“Dit is daarom nodig om telkens by hierdie stappe sigbaar standpunt in te neem om te probeer voorkom dat ons na implementering na regsaksie moet oorgaan. Nogtans berei AfriForum wel ook op regsaksie voor. Almal wat oor hierdie wetsontwerp moet besluit, moet besef dat dele van die inhoud ongrondwetlik is en die potensiaal het om onberekenbare skade aan onderrig en onderlinge verhoudinge in die land aan te rig.”

Nog nie einde van die geveg

Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor basiese onderwys, sê die proses wat nou moet volg, is dat provinsiale wetgewers die wetsontwerp moet oorweeg aangesien provinsiale regerings vir die implementering daarvan verantwoordelik sal wees.

“Omdat daar slegs op drie plekke per provinsie openbare verhore gehou is, kan provinsies besluit om hul eie, meer omvattende proses te volg,” sê Boshoff.

Eers ná provinsiale wetgewers opdrag aan hulle lede van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) gegee het, kan die liggaam daaroor stem.

Voordat die president dan die wetsontwerp met sy handtekening tot wet verhef, kan verskeie regsaksies verwag word.

“Die wesenlike beswaar teen hierdie wetsontwerp is dat dit die skikking van 1994 verbreek – en boonop die gebreke daarvan ontbloot. Wat onderwys werklik benodig, is ‘n veelvoud van kulturele owerhede wat onder meer bevoegdheid oor onderwys het.”

Boshoff sê sulke owerhede moet nie net onderwys bestuur nie, maar ook seggenskap oor inhoud, kurrikulum en eksaminering hê. Dan kan elke skool self besluit onder watter owerheid om te staan.

“Die pad waarop Suid-Afrika tans loop, is die enigste wat in ‘n eenheidstaat moontlik is: Een van voortdurende botsing tussen groepe wat elk sy sin wil hê. Dit is juis aan die grondslag van die eenheidstaat: Daar kan net een owerheid en een beleid wees. Selfbeskikking, wat onder andere kulturele outonomie insluit, is ‘n wyse om dié soort botsing te ontlont.”

Boshoff meen die ANC het egter vandag besluit om die meerderheid wat hy tot met die 2024-verkiesing het, te gebruik om die pad van konflik te loop. “Onderwys verdien beter as die ANC.”

‘Regering hou hom doelbewus blind en doof vir publiek se insette oor Bela-wet’

“Ons beskou die goedkeuring van hierdie wet as ʼn aanval op Afrikaans. Dit is duidelik dat die regering minderheidsgroepe negatief gesind is en nie daarin belangstel om hierdie groepe te beskerm nie,” sê Johnell van Vollenhoven, beleidsontleder van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI).

In ʼn meningspeiling wat pas deur die SNI voltooi is, is bykans alle respondente negatief teenoor die Bela-wet met tot 98% wat glo dit gaan Afrikaans bedreig.

ʼn Verslag oor die meningspeiling word binnekort uitgereik.

“Ons kan nie toelaat dat kinders op hierdie wyse aan gewetenlose politici uitgelewer word nie. Dit is ons plig om nie net ons taal en die onderrig daarvan en daarin te beskerm nie, maar ook ons reg om te bestaan, ons skole te bestuur en om sodoende in die beste belang van ons kinders op te tree,” sê Van Vollenhoven.

Johan Botha, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, sê die protesaksie by die parlement het ten doel gehad om ʼn boodskap aan die regering te stuur dat die onderdrukking van skole, en spesifiek Afrikaanse skole, nie geduld sal word nie. Solidariteit sal voortgaan om druk uit te oefen waar hy kan.

“Die volgende stap om die wetgewing goedgekeur te kry, is die debat en stemming in die NRP. As die regering ook hier gaan toelaat dat sy politieke ideologie seëvier, en die wet daarna deur die president bekragtig word, staan Solidariteit reeds reg vir aksie. Ons sal nie huiwer om die kaping van ons skole tot in die hoogste hof te beveg nie,” sê Botha.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Euodia ·

Ja dis verskriklik om te dink hoe die anc met ons rondmors. Hulle dink niks van ons taal of van ons nie. Wie nou nog vir hulle stem moet sy kop laat lees!!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Ongelukkig is dit so. In Gauteng sal Afrikaanse skole waarskynlik geleidelik vanaf 2026 uitgefaseer word, beginnende by graad 1.

Nici ·

Ag nee man mens skrik tog nie so maklik nie of hoe? Moet alles vir niet gegee word of mens rol om en gaan le?

Republikein in die Wes Kaap ·

Nici, private skole is ‘n oplossing. maar is net beskore vir mense met geld.

Johann ·

Om te dink dat ‘n taal en sy sprekers só ‘n bedreiging vir ‘n magsmal “organisasie” kan wees.

ES ·

Nou ja toe, die enigste manier om van sulke omstrede wette ontslae te raak is om die rassistiese cANCer volgende jaar uit te stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.