Beleef SA meer tornado’s?

'n Beweerde tornado buite Standerton, Mpumalanga (12 November 2016). Foto: Verskaf

‘n Beweerde tornado buite Standerton, Mpumalanga (12 November 2016). Foto: Verskaf

Daar is die afgelope paar maande verskeie tornado’s oor die hele Suid-Afrika waargeneem. Is daar ʼn toename in tornado’s in die land of kom dit net makliker aan die lig weens sosiale media?

Mpumalanga het drie maal deurgeloop met tornado’s op 4 Februarie, 26 Oktober en 15 November. ʼn Hewige storm, wat met ʼn beweerde tornado gepaardgegaan het, het op 12 November groot skade in die Standerton-omgewing aangerig.

Gauteng het ook deurgeloop met ʼn tornado op 25 Julie in Magaliesburg en een op 26 Julie by die Phumulani Mall in Tembisa. Verskeie mense is beseer nadat die dak by dié winkelsentrum ineengestort het. Daar was ook vroeër die maand ʼn tornado in Ennerdale.

Die Vrystaat het op 11 November deurgeloop toe ʼn tornado die Viljoenskroon-omgewing getref het.

Maroela Media het met prof. Hannes Rautenbach, die hoofwetenskaplike van klimaatsverandering en -veranderlikheid by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, gesels om agter die kap van die byl te kom.

Tornado’s in SA

Rautenbach het gesê daar is ʼn persepsie dat tornado’s in Suid-Afrika ʼn vreemde verskynsel is, maar hoewel seldsaam, is die voorkoms van tornado’s glad nie uitsonderlik nie.

Die tornado wat op 26 Julie 2016 in Gauteng gewoed het (Foto aan Maroela Media verskaf)

Die tornado wat op 26 Julie 2016 in Gauteng gewoed het (Foto aan Maroela Media verskaf)

“Dit is egter nog steeds baie moeilik om die aantal tornado’s wat elke jaar voorkom te kan tel omdat die voorkoms van ʼn tornado meestal nie gemeet word nie, maar aangemeld word deur menslike waarneming. In groot ylbevolkte gebiede van die land kan tornado’s dus selfs ongesiens voorkom. Daar is nie bewyse dat tornado’s toeneem in frekwensie nie, hoewel meer tornado’s aangemeld word as gevolg van ʼn toename in bevolkingsdigtheid asook selfone wat meestal met ʼn kamera toegerus is. Sosiale media speel definitief ʼn rol in die bewusmaking van tornado’s wat voorkom.”

Rautenbach sê dat tornado’s wat in Suid-Afrika voorkom nie so sterk is soos dié wat in die VSA voorkom nie. “Tornado’s kan op enige plek voorkom waar donderstorms ontwikkel, naamlik gedurende somermaande oor die oostelike dele van Suid-Afrika.”

Volgens Rautenbach dui statistieke daarop dat tornado’s die meeste voorkom in Gauteng, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en in die Oos-Kaap.

“Tornado’s kom meestal gedurende die middel somermaande voor (November tot Januarie), maar daar word ook gedurende die lente (September tot Oktober) en herfs (Februarie tot Mei) tornado’s waargeneem.”

Volgens Rautenbach kom tornado’s normaalweg laatmiddag voor (16:00 tot 19:00). “Dit is ook gedurende hierdie tyd dat die atmosfeer die meeste verhit word deur die aardoppervlak. Die warm lug word dan opgesuig en dit kan lei tot diep wolkontwikkeling.”

Rautenbach sê die toename in tornadogevalle van Julie af is moontlik te danke aan die feit dat Suid-Afrika in ʼn groot droogtegreep is wat gekenmerk word deur abnormale, soms ekstreme, temperature.

Wat lê vir SA voor?

“Met die vooruitskouing van goeie reën in die 2016-’17-somerseisoen, en met groot hoeveelhede energie wat as hitte in die aardkors gestoor is, kan toestande meer gunstig wees vir diep wolkontwikkeling. Die warm toestande kan dus aanleiding gee tot meer energie in die atmosfeer, wat sterk donderstorms tot gevolg kan hê,” het Rautenbach aangevoer.

Die tornado in Kempton Park op 26 Julie 2016 Foto: @emilevanrooyen2, Twitter

Die tornado in Kempton Park op 26 Julie 2016 Foto: @emilevanrooyen2, Twitter

Toekomsvoorspellings dui daarop dat aardverwarming aanleiding kan gee tot meer ekstreme weerstoestande, en terwyl Suid-Afrika geleidelik warmer word, kan daar erger donderstorms verwag word, wat die moontlikheid van tornado’s kan vergroot.

Tornado’s in Suid-Afrika kan deur twee weerstoestande veroorsaak word, volgens Rautenbach. “ʼn Tornado vorm dikwels onder ʼn wolkstelsel wat bekend staan as ʼn supersel. ʼn Supersel vorm weer wanneer daar ʼn sterk verandering in windrigting en -spoed (ook bekend as windverskuiwing) voorkom namate opwaarts in die atmosfeer beweeg word. Hierdie vertikale verandering in wind veroorsaak dat ʼn supersel kan ontwikkel wat dan gekenmerk word deur sterk opwaartse vloei in ʼn groot roterende wolkeenheid. Die ideale toestande vir windverskuiwing is wanneer kouer lug van die suide oor die landoppervlak inbeweeg, terwyl warmer tropiese lug vanaf die noorde in die bo-atmosfeer suidwaarts beweeg.”

Die vorming van tornado’s

Rautenbach verduidelik dat ʼn tornado ook kan ontwikkel wanneer twee lugmassas “teen mekaar verbyskuur”, byvoorbeeld wanneer kouer lug vanaf die suide langs warmer lug vanaf die noorde inbeweeg. In hierdie geval word toestande gunstig vir die ontwikkeling van werwels wat aanleiding kan gee tot tornado’s.

Tornado’s kan in vyf kategorieë geklassifiseer word, naamlik:

F0: Windspoed = 105 – 137 km/h / ligte skade
F1: Windspoed = 138 – 177 km/h / matige skade
F2: Windspoed = 178 – 217 km/h / aansienlike skade
F3: Windspoed = 218 – 266 km/h / ernstige skade
F4: Windspoed = 267 – 322 km/h / verwoestende skade
F5: Windspoed = > 322 km/h / ongelooflike skade

“Ongeveer 65% van tornado’s in Suid-Afrika word geklassifiseer as F0 tot F1 (ligte tot matige skade),” het Rautenbach gesê. Namate bevolkingsgroei en infrastruktuur ontwikkel, raak die mens en infrastruktuur meer kwesbaar vir die skade wat tornado’s kan aanrig.

Praktiese wenke

“Een van die beste voorsorgmaatreëls om te tref wanneer ʼn tornado op pad is, nieteenstaande waar dit voorkom, is om so na moontlik aan die grond te wees – of selfs onder die omringende grondvlak te wees. Indien ʼn mens in die oop veld is, gaan lê plat en bedek jou kop met jou hande. Dit is ook belangrik om weg van glas of vensters te wees, en verkieslik in ʼn stewige ruimte waar ʼn mens nie beseer kan word deur vlieënde materiaal nie, soos in ’n badkamer. Binnenshuis kan ʼn mens in ’n bad gaan lê terwyl jy jouself bedek met ’n kombers. Onthou dat die meeste beserings gedurende tornado’s veroorsaak word deur vlieënde voorwerpe. Wees dus bewus van voorwerpe in jou omgewing wat deur die wind losgeruk kan word. Gebruik ʼn motor om weg te kom van ʼn tornado af, maar nie as skuiling gedurende ʼn tornado nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Derek Meyer ·

Nee. Die aarde het nog ten minste 4.5 biljoen jaar om te bestaan. As jy 4.5 biljoen jaar die laaste dae noem, klink dit vir my of jy bietjie snaaks is.

Skokkend ·

Stem saam posduif. Deon meyer, is jy n wetenskaplike? Lees die Bybel. God se Boek. God die skepper alleen is in beheer.

Piket ·

Derek Meyer. Nog 4.5 biljoen jaar? Ek dink dis bietjie baie vergesog en snaaks jong!

Vanessa Seagreen ·

Why do people always bring religion into everything? Did you not read the article or understand it?

Cherokee ·

You seem to be the one who does not understand. Faith is in everything.
Without it you have nothing. With faith, you are a winner.

Jannes ·

Dankie vir ‘n goeie artikel. Ek volg die verskyning van tornados vir die laaste 15 jaar en hierdie jaar was definitief ‘n aktiewe jaar. Toename in sosiale media of die huidige weer patrone kan definitief bydrae maar daar is def. ‘n hele paar tornados jaarliks. Deon is reg. Mensdom en lewe soos ons dit ken mag dalk in gedrang wees maar ek dink hy verwys na wanneer die son na beraming sy energie gaan opgebruik. Dis seker hoekom soveel mense die son aanbid – omdat dit toevallig iets is wat baie dinge soos tornados op aarde skep…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.